Die Afrikaanse sanger Bobby van Jaarsveld het groot reaksie ontlok na hy ‘n foto van ‘n reuse-luislang langs ‘n dooie vlakvark op sy Facebook-blad gepubliseer het.
“My vrou se ouers het dit op hulle plaas buite Brits op Sandrif gekry! Hy het dood geskok teen die hek… toe hulle hom oop sny toe kry hulle die vark in hom!” het Van Jaarsveld by die foto geskryf.
Meer as 2 500 mense het die foto al op Facebook gedeel, en honderde mense het kommentaar op die foto gelewer.
Party mense het selfs die foto se egtheid in twyfel getrek.
Die sanger het Maandag op die herrie oor sy inskrywing reageer.
“Hoekom sal ek nou my tyd wil gaan mors om n foto te edit en te jok daaroor? Dit was ‘n 4,1m luislang wat dood geskok het teen die heining en toe hulle hom oopsny was daar ‘n groot vlakvark in sy lyf. So dis die storie. Glo dit of nie. Dit bly erg! Lekker dag!”
Hy het erken dat die slang op sy skoonouers se buurplaas gevind is.
