Menseregteorganisasie veroordeel Siriese rebelle vir kannibalisme

Human Rights Watch sê die man in ‘n video wat ‘n Siriese soldaat se hart uitsny en eet, is ‘n lid van ‘n rebellegroep in die sentrale Homs-provinsie.

“Dit is nie genoeg vir Sirië se opposisie om sulke gedrag te veroordeel of dit op geweld deur die regering te blameer nie,” het Nadim Houry, adjunk-direkteur van Human Rights Watch in die Midde-Ooste, gesê.

“Die opposisiemagte moet streng optree om sulke gedrag te beëindig.”

Die man, wat geïdentifiseer is as Abu Sakkar, glo ‘n bevelvoerder van die Omar al-Farouq al-Mustakila-rebellegroep, staan in die video by ‘n soldaat in uniform se lyk.

“Ons sweer ons sal julle harte en lewers eet, julle soldate van Bashar die hond,” sê hy dan, terwyl hy die man se hart uitsny.

“Ons is die helde van Baba Amr,” voeg hy dan by. Dit is ‘n verwysing na ‘n rebelle-vesting in Homs wat deur pres. Bashar al-Assad se magte verwoes is.

Die man staan gevolglik op, lig sy mes in sy een hand en die hart in die ander en sit ‘n deel van die orgaan in sy mond voordat die video skielik eindig.

“Die Siriese Koalisie wil weer beklemtoon dat hy so ‘n daad veroordeel en wil beklemtoon dat dit ‘n misdaad is, ongeag van die oortreder,” het die groep gesê.

“Die skuldige sal uiteindelik verhoor word in ‘n hof vol eerlike en regverdige regslui.”

Maak 'n opvolg-bydrae