‘n Britse man is Dinsdag tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy ‘n 12-jarige meisie seksueel aangerand en vermoor het. Hy het haar lyk daarna in die solder van die huis wat hy met haar ouma gedeel het weggesteek.
Stuart Hazell (37) is in Londen se Old Bailey-hof tot ‘n minimum van 38 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Tia Sharp in Augustus verlede jaar.
Hazell, die gewese kêrel van Sharp se ouma, het Maandag op die vyfde dag van sy verhoor erken dat hy die skoolmeisie vermoor het. Hy het voorheen gesê sy is dood nadat sy by die trappe afgeval het.
Tia se familie moes dae lank die afskuwelike bewyse in die hof trotseer, insluitend ‘n naak foto van die skoolmeisie wat glo geneem is nadat sy dood is.
“Sy was ‘n vrolike meisie wat vol lewe was, maar jy het dit van haar geneem,” het regter Andrew Nicol aan Hazell gesê.
“Alles wat vir haar voorgelê het – ‘n loopbaan, liefde en haar eie familie – sal nou nooit ‘n werklikheid word nie. En die verlies is verskriklik vir haar ma, pa en al haar familie en vriende.”
Sharp het waarskynlik weens versmoring gesterf, het die regter gesê, maar haar oorskot het reeds ontbind teen die tyd wat dit gevind is.
Londen se Metropolitaanse Polisie is gedwing om verskoning te vra ná twee onsuksesvolle soektogte van Hazell se huis in Croydon, ‘n woonbuurt in die suide van Londen.
Sy is uiteindelik agt dae ná die moord gevind. Scotland Yard het 80 beamptes beveel om kringtelevisie-beeldmateriaal na te gaan om enige teken van Sharp te vind.
Die hof het gehoor dat Hazell, ‘n vensterskoonmaker en veroordeelde dwelmhandelaar, ‘n seksuele aantrekking tot Sharp ontwikkel het in die vyf jaar wat hy saam met haar ouma gewoon het.
Hy het voorheen glo ook ‘n verhouding met Sharp se ma gehad.
Hazell het Sharp vermoor terwyl haar ouma ‘n aandskof gewerk het.
Haar bloed was op ‘n seksuele speelding in die huis en op Hazell se gordel gevind. Sy semen was ook op haar lakens, het die hof gehoor. Hy het haar lyk glo in ‘n laken en plastiek toegedraai, waarna hy dit in die solder versteek het.
Nadat haar lyk gevind is, het die polisie Hazell se foon deursoek en hulle het gevind dat hy ‘n belangstelling in kinderpornografie gehad het. Hy het Sharp ook in die geheim afgeneem waar sy sonskerm op haar bene gesmeer het en terwyl sy geslaap het.
