Bruin woonbuurt beleef dwelmkrisis

Die dwelmprobleem in Eldoradopark, ‘n bruin woonbuurt suid van Johannesburg, het “abnormaliteit” bereik, het pres. Jacob Zuma Dinsdag gesê.

“Ek het die brief gelees en ek was geskok. Die graad van die probleem en die beskrywing is ongehoord… hierdie is ‘n krisis, ‘n abnormaliteit,” het Zuma aan inwoners gesê tydens ‘n besoek aan die gebied.

Bekommerde ouers het in April aan Zuma geskryf en gevra dat hy moet help. Verskeie kabinetsministers het hom vergesel tydens sy besoek.

Zuma het aan inwoners gesê dat hy persoonlik beheer sal neem oor die geveg teen dwelms in die gebied.

“Ek gaan ‘n punt daarvan maak om hierdie program self te dryf… die regering moet vinniger beweeg om dit te hanteer.”

Wetgewing rondom wetstoepassing kan moontlik aangepas word sodat kriminele nie agter tegniese aspekte van die wet kan wegkruip nie, het hy gesê.

“Ons kan nie toelaat dat hierdie dwelmbase beheer oor ons gemeenskappe neem en agter tegniese aspekte van die wet wegkruip nie.”

Twee mans is intussen in hegtenis geneem nadat die polisie Dinsdagaand toegeslaan het op ‘n dwelmlaboratorium in Boksburg aan die Oos-Rand, het die Valke gesê.

Kapt. Paul Ramaloko, woordvoerder van die Valke, het gesê beamptes het beslag gelê op toerusting waarmee dwelms vervaardig word en 150 000 Mandrax-tablette met ‘n geraamde straatwaarde van R10,5 miljoen.

Een van die mans in die laboratorium het gevlug.

Die twee mans wat in hegtenis geneem is sal Donderdag in die Boksburg-landdroshof verskyn.

Maak 'n opvolg-bydrae