Leon Lemmer: ‘Afskeid van ‘n volk: Op soek na ‘n toekoms’?

Deel op

Philip Spies was adjunkdirekteur: toekomsnavorsing by die Buro vir Ekonomiese Ondersoek en direkteur van die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch (US). Op LitNet het hy hom uitgespreek teen Russel Botman se Hoop-projek. Pieter Kapp vestig bv die aandag op “die opvallende afwesigheid in die Hoop-projek [van] kultuurgerigte projekte” en “die mees opvallende afwesigheid is dat die rol van Afrikaans as onderrigmedium doelbewus verkleineer word in die projek. Die beeld word steeds geskep van Afrikaans as ‘n struikelblok eerder as ‘n geleentheid” (Pieter Kapp, Maties en Afrikaans: ‘n Besondere verhouding, 1911-2011, Pretoria: Protea Boekhuis, 2013, p 217-218). Spies is ook gekant teen die taalbeleid wat die US-raad op 22 Junie 2016 aanvaar het. Hy is bv ‘n voorstander van moedertaalonderrig en ‘n derde Afrikaanse taalbeweging. Spies is die voorsitter van die loodskomitee van Gelyke Kanse, wat die US-taalbeleid in die hof gaan betwis. Aan sy pro-Afrikaansgesindheid hoef ‘n mens nie te twyfel nie.

My verbintenis met die Afrikanervolk is ononderhandelbaar. Daar kan geen sprake wees dat ek daarvan afskeid gaan neem nie. Spies is op twee maniere op soek na ‘n toekoms: deur die omstandighede in die land te verander én deur die Afrikaner te verander. – Leon Lemmer

Philip Spies

Op LitNet blyk dit egter ook dat hy Jeremy Vearey (Praag 26.05.2018) se toespraak tydens die US-Konvokasie-byeenkoms in November 2018 geniet het, dat hy hom daarvan weerhou om Wim de Villiers se uitsprake oor Afrikaans te veroordeel en dat hy saamstem met die hibridiese oorsprong van Afrikaans. Sy ingesteldheid is om Afrikaans meer kreools voor te stel as wat dit is, inklusiwiteit vir Afrikaans te bepleit en niks teen Kaaps of sterk ten gunste van taalsuiwerheid te skryf nie. Hoewel alles nie wit of swart is nie, moet ‘n mens myns insiens liewer nie twee here probeer dien nie. As ‘n mens te hard probeer om gematig en ewewigtig te wees, word Afrikanerskap verdun en die beste belange van Afrikaans nie gedien nie. Wat egter duidelik is, is dat Spies ‘n meer behoudende en dus ‘n beter gesindheid as bv Anton van Niekerk teenoor Afrikaners en Afrikaans het. Dit is opvallend dat dosente soos Spies, wat met die ekonomiese werklikheid van die nuwe Suid-Afrika gekonfonteer word, ongeneë is om soos Van Niekerk met studeerkamer-gekraamde utopiese droombeelde van hierdie droewe land vorendag te kom. Spies skryf: “Die land is vinnig besig om agteruit te boer en … hierdie agteruitgang [het] reeds in die 1990’s begin” (boek genoem in die volgende paragraaf, p 184).

Die volgende boek van Spies is pas gepubliseer: Afskeid van ‘n volk: Op soek na ‘n toekoms (Tygervallei: Naledi, 2019, 239p, R240). ‘n Mens kan sinies oor toekomsnavorsing wees omdat die toekoms nog nie bestaan nie en dus nie geken kan word nie. Maar dit is moontlik om op grond van wat oor die hede en verlede bekend is, met toekomsprognoses eerder as -voorspellings vorendag te kom (p xi). “Toekomsvrae vereis ‘n prognose-benadering en nie ‘n voorspel-benadering nie” (11). Die strategie van die ANC word soos volg verwoord:

“Die homogenisering van Suid-Afrikaners is ‘n toekomsvisioen wat die skep van ‘n nuwe, brawe nasionale orde veronderstel: eers ‘n stelselmatige proses van kultuur- en taalsuiwering en dan die ontwerp en skep van een taal en een kultuur vir ‘n Suid-Afrikaanse nasie” (x).

Sedert 1994 homogeniseer die ANC “deur te fokus op magsentralisasie, een beskouing van sake, een party, een taal, een kultuur” (103). Die aktualiteit van die boek vir Afrikaners en Afrikaans behoort duidelik te wees. Die outeur is goed ingelig en wat hy te sê het, word duidelik oorgedra. Daar is egter ruimte vir verbetering in sy gebruik van voorsetsels. Verder word daar oor “diktatorskap” geskryf (85, 86, 94, 95) – eers op bladsy 238 word dit “diktatuur” – en van “fyke” (151, 152) pleks van “fuike”. Dit is eienaardig dat hierdie foute nie tydens die redigering reggemaak is nie.

Die eerste hoofstuk begin met ‘n reël uit C Louis Leipoldt se gedig “Vrede-aand”, wat oor die Anglo-Boere-oorlog handel: “Ons het ons nasie in die see gesink” (1). Wat in 1899 tot 1902 gebeur het, is in 1990 tot 1994 herhaal, met dié wesenlike verskil dat Afrikaners in eersgenoemde geval die oorlog verloor het terwyl in laasgenoemde geval ‘n klein groepie Afrikaanssprekende politici verraad ten koste van die Afrikanerdom, blanke bevolking en Westerse beskawing gepleeg het. “Wat voorheen ondenkbaar was, het daarmee die nuwe normaal geword: ‘n Swart regering het oorgeneem, met ‘n swart president … ‘n Afrikanerland het in 1994 binne die bestek van ‘n dag in ‘n Afrikaland verander” (5). Om van apartheid afskeid te neem, was volgens Spies ‘n goeie besluit (5). “Wie kon in die duister van 1984 dink dat [dit] sal gebeur wat in 1994 gebeur het?” (178). Hy verwys ook na die “uitnemende Grondwet” (99). “In Februarie 2018 [Cyril Ramaphosa se verkiesing tot president] het Suid-Afrika skielik in die rigting van nuwe moontlikhede in die politiek gekantel wat mense hoop gee” (179). Spies streef na ‘n “inklusiewe, volhoubare Nuwe Suid-Afrika” (6) en is klaarblyklik optimisties (“moenie ophou om te droom” nie – 180), wat seker goed is as afdoende redes daarvoor gevind kan word. Ydele hoop kan blyk “die brandstof vir optimisme” te wees (238). Dit lyk vir my asof Spies die moeras probeer dreineer terwyl hy “reeds tot by [sy] heupe tussen die krokodille staan” (204).

Dwarsdeur die boek is daar dinge waarmee ek graag saamstem, maar daar is ‘n neiging tot oorgematigheid of weifeling, wat veroorsaak dat wat hy bereik weens ambivalensie ongedaan gemaak word. Spies is ten gunste van “jukskeibrekende denke” (9) maar hy weerhou hom van radikaliteit. Hy wil die land hervorm en Afrikaners “omvorm” (9), maar sonder om te erken dat die land op ‘n fundamenteel dwase grondslag funksioneer en die ANC inherent boos is. In die Kaapse idioom skryf hy tereg, “Afrikaners het ‘onder hulle-se kooie ingeduik'” (7). Dus, sonder die broodnodige verset het Afrikaners grootliks uit die openbare oog verdwyn. Maar dan ook: “Min wil vandag ‘n Afrikaner genoem word” – hulle het liewer deel van “die nuwe ‘ons'” geword (7). Tog is daar steeds baie Afrikaners wat kompromisloos teen die huidige opset gekant is. Hy verwys na Nelson Mandela wat “verklaar het dat oorheersing van een groep oor ‘n ander ‘nooit weer sal gebeur nie'” (8). Sonder om te sê dat Mandela gelieg het, skryf Spies bloot dat rassediskriminasie steeds bestaan.

Hierbo word met “Afrikaners” (vanselfsprekend) blankes bedoel. Soos met Afrikaans wil Spies die begrip “Afrikaners” meer inklusief maak. Albei het glo ‘n “hibriede oorsprong” (16), pleks van die geringe graad van kreolisering en verbastering in gedagte te hou. Hy streef na ‘n “ras-ontkoppelde Afrikaner-identiteit” (27). “Swartes verwys graag na mede-swartes as hulle “broers en “susters”. Spies verwys na bruin Afrikaanstaliges as “neefs en niggies” (27; ook 230). In die konteks van Afrikanisering word Afrikaners ‘n eiesoortige “Afrikastam” genoem (16, 17), terwyl die Afrikanerdom veel meer as dit, naamlik ‘n Afrikanervolk of -nasie, was en behoort te wees. “‘n Nasie [is] ‘n identifiseerbare samelewing volgens kultuur, taal, waardes, gewoontes en etniese karakter” (82). Die “paradys geskep uit volkswil” wat in die vorige eeu plaaslik tot stand gekom het, was volgens Spies ‘n “skynparadys” omdat dit deur “insmelting en homogenisering” tot niet gegaan het (19).

Soms kom Spies op ‘n voortreflike manier met die waarheid vorendag. “Afrikaner-Ekonomiese Bemagtiging (AEB) was die voorloper van SEB (Swart Ekonomiese Bemagtiging). Die verskil is egter dat AEB binne twintig jaar vrugte afgewerp het omdat Afrikaner-selfhelp deel van AEB was, terwyl SEB sover hoofsaaklik die regerende elite wat naby die staatskas lewe, bevoordeel het” (23).

Hy rol hierdie pêrel uit: “Die Britte was absolute meesters in stylvolle neersien en subtiele neerhalendheid op alle mense” (39). Engelssprekende blankes is gewoonlik net Engels magtig. “Waarom sal [sulke] Engelssprekendes enige ander taal praat want die ‘minderes’ (dit wil sê almal wat anders is as hulle) moet hulle mos tegemoet kom?” (162). Ook die volgende waarheid: “Die apartheidsorde het ná 1948 die Afrikaners (en ook die meeste [blanke] Engelssprekendes) se geskiedkundige beskouings en praktyke afgerond en geïnstitusionaliseer tot hulle logiese konsekwensies” (42).

Afrikaans is op pad na ontheemding, “aangevuur vanuit eie geledere” (25). Oor die waarheid van hierdie uitspraak kan daar geen twyfel wees nie. Dit is ‘n groepie blanke Afrikaanssprekende politici wat gruwelik versuim het om die status van Afrikaans in die Grondwet te verskans. Dit is Willie Esterhuyse wat besware teen vyf Afrikaanse universiteite geopper het. Dit is Chris Brink en Wim de Villiers wat hulle vir ‘n Engelse eerder as ‘n Afrikaanse US beywer, ens. Diesulkes verkies die “reeds gevestigde ontsnappingsroete van Anglisasie” (21).

Tydens apartheid is uitsprake deur internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies en Unesco gebruik om die opset in Suid-Afrika te kritiseer. Noudat die blankes/Afrikaners ‘n polities magtelose minderheid is, kan daardie uitsprake teen die huidige bewind gebruik word, maar dit word glad nie in afdoende mate ontgin nie. In 2002 het Unesco ‘n “Universal Declaration on Cultural Diversity” uitgereik waarin staan: “Kulturele diversiteit verbreed die strekwydte van keuses vir almal … om ‘n meer bevredigende intellektuele, emosionele, morele en spirituele bestaan te verseker” (157). Desnieteenstaande pleeg die ANC-regering ongebreidelde kulturele homogenisering, bv afrikanisering en verengelsing.

In 2007 was daar die volgende Unesco-uitspraak: “Om kultuur sentraal te plaas in ontwikkelingsbeleid is ‘n noodsaaklike belegging vir die toekoms … die uiteenlopendheid van ‘n samelewing [moet] in ag geneem … word” (27). Die ANC-regering is egter uitsluitlik op die bevordering van die belange van swartes ingestel. Kosmopolitisering en afrikanisering het geestelike en liggaamlike blanke (insluitende Afrikaner-) diaspora/verstrooides tot gevolg. “Binnelandse diskriminasie en groter buitelandse geleenthede [het] Afrikaans-wees gewoon te duur gemaak” (28); vandaar die grootskaalse emigrasie.

“Akademiese studies van kulturele verskille, soos volkekunde, het in onguns verval weens die rol daarvan in die apartheidsbestel – en dit ten spyte daarvan dat internasionale ontwikkelingsagentskappe, soos Unesco, kultuur as sleutel-instrument vir beplanning propageer” (173). Russel Botman was byna gek van verontwaardiging toe daar bewyse ontdek is dat die eertydse departement volkekunde aan die US instrumente gehad het wat akademies-wetenskaplik verskille by mense kon vasstel (Praag 29.04.2013). Sodanige kennis het nie gestrook met Botman se polities gebaseerde geloof in mense se gelykheid en eendersheid nie. In die wetenskap behoort daar egter ruimte te wees om sowel ooreenkomste as verskille by mense na te vors en die resultate vryelik bekend te maak.

Vir die blankes wat in Suid-Afrika aangebly het, het “die samelewing … ‘n bron, nie ‘n tuiste nie,” geword (29). ‘n “Nuwe soort Afrikaans-wees” ontstaan “waarin wit, bruin en swart Afrikaanssprekendes hande vat en saamspeel” (29). Spies argumenteer “dat kulturele ontwikkeling ‘n basis vir die ontwikkeling van ‘n nuwe, meer insluitende Suid-Afrikaanse gemeenskap kan word … Die betekenis en belang daarvan lê egter ver anderkant die idee van ‘n geslote wit Afrikanervolk” (30). Net soos die ou Suid-Afrika kwalik in die nuwe Suid-Afrika herkenbaar is, sal Spies se getransformeerde Afrikaner en inklusiewe Afrikaans myns insiens, indien nog enigsins ‘n herkenbare Afrikaner en Afrikaans, nie ‘n gesogte of aanvaarbare Afrikanerskap en Afrikaans wees nie. “Hoe pas jy aan sonder om in elk geval van die aanpassing te sterf?” (48).

Soos Willem (Wimpie) de Klerk (1928-2009), een van die oorverligte wysneuse wat nie meer die gevolge van sy gedrag hoef te trotseer nie, dit reeds in 1994 gestel het:

“Vroeër het ons die Afrikakultuur probeer verwesters. Ons uitgangspunt was Eurosentries. Nou is ons in die proses waar Afrosentrisme voorop gaan staan. My stelling is dus dat die skep van ‘n nuwe kultuur vir Suid-Afrika, Afrikanisering van ons kultuur beteken … Nou moet [Westerse kultuur] ‘n Afrikakultuur word met Westerse tradisies daarin saamgevoeg … ‘n Europees-getinte Afrosentriese kultuur” (aangehaal deur Attie van Niekerk, Anderkant die reënboog, Kaapstad: Tafelberg, 1996, p 4).

Westerse kultuur word dus niks meer nie as ‘n (oppervlakkige) pigmentasie/tint van die oorheersende afrikanisering. Willem de Klerk en sy broer, FW, het nog nooit verskoning gevra vir die klaarblyklik onherstelbare skade wat hulle Afrikaners en Afrikaans aangedoen het nie.

Die toegewings waarin die De Klerks en diesulkes gespesialiseer het, het “uiteindelik geen dividende opgelewer” nie (Spies 46). “Reeds in 1979 skryf Arnheim ‘n toekomsprognose hieroor: ‘Is Suid-Afrika dan uiteindelik verdoem tot rewolusie? Sekerlik as die huidige beleid van wit toegewings vir swartes voortgesit word, of verskerp word. Slegs twee alternatiewe bly oor: swart oorheersing of wit oorheersing” (46; vertaal uit MTW Arnheim, South Africa after Vorster, Cape Town: Howard Timmins, p 183 – Praag 17.02.2018). “Die belofte van ‘n beter lewe vir almal was ‘n hersenskim” (53). Wanneer die ANC van “almal” of “the people” praat, het hy in elk geval gewoonlik net swartes in gedagte. Suid-Afrika is ‘n skyndemokrasie waarin die ANC se eiebelang, veral dié van die topkaders, oorheersend is (88).

“Met transformasie in die Nuwe Suid-Afrika se groepdominerende politieke konteks word bedoel die Afrikanisering van alle aspekte van die sosiale orde in die land, die stelselmatige oordrag van alle bates wat nog onder ‘n wit minderheid funksioneer na die swart meerderheid, en die verengelsing van gemeenskapsinstellings. Soos apartheidsimplementering in die 1950’s word transformasie deurgevoer tot sy logiese konsekwensies, en dit is om die dominante politieke groep mateloos te bevoordeel” (84). Met ander woorde, dit is nag vir Afrikaners en Afrikaans. Myns insiens kan die prognose van ‘n toekomskundige nie werklik iets hieraan verander nie, want dit sou die verandering/transformasie van die wesenlike aard van swartwees noodsaak. In ‘n verswelgende meerderheid is die uitlewing van swartwees uiteraard meer skadelik vir blankes as wanneer swartes ‘n minderheid is. “Met ‘meerderheidsoppermagtigheid’ word bedoel dat die meerderheid so dominant is dat dit onafhanklik besluite deurvoer, afgesien van die standpunte, waardes en regte van minderhede” (88). In 2012 het Jacob Zuma dit soos volg in die parlement geformuleer:

“Ons het meer regte omdat ons die meerderheid is. Julle het minder regte omdat julle die minderheid is … dit is hoe ‘n demokrasie werk” (91).

Wat die nuwe Suid-Afrika nie is nie, blyk uit die volgende woorde van die Amerikaanse digter, Walt Whitman (1819-1892): “Die grootsheid en rykdom van ‘n land is gesetel daarin dat dit ‘n veilige tuiste en ‘n goeie lewe vir vrye, selfversorgde, vlytige burgers bied … ‘n land waarin vaardige mense ‘n gemeenskap bou” (107). Spies onderskryf “die reg om welvarend te word as vergoeding vir vlytigheid” (102). Die ANC-regering matig hom egter die reg aan om blankes se besittings sonder vergoeding te onteien; dus te steel. Ook: “Die regering tap die grootste deel van sy inkomste uit die bronne van minder as tien persent van die bevolking. Dié tiende het ekonomiese mag, maar weinig politieke mag” (103). Is dit (Afrika)geregtigheid? Die mense wat inkomstebelasting betaal, is minder as dié wat maatskaplike toelaes ontvang (96). “In die geval van Sassa se kindertoelae kan dit voordelig raak om meer kinders in die wêreld te bring” (126). Dit help die ANC om meer stemme van die kiesers te kry. Die politieke mag is gesetel in die gepeupel wat ‘n finansiële las vir die staat is en nie in diegene wat ‘n ekonomiese bate is nie.

Wat in Suid-Afrika “demokrasie” genoem word, is gebaseer op een mens, een stem van gelyke waarde. Dit is ‘n hoogs ongewenste regeringstelsel, maar dit is wat aan Suid-Afrika opgedring is en waarin glad te veel (nie-denkende) mense berus. Spies verwys na die afhanklikheidsindroom by die begunstigdes, die bakhandstaners, van staatstoelaes. “Hulle staan bakhand vir Sassa-uitbetalings, vir enige los werkies, vir verniet huise en vir verniet dienste. Deur hulle getalle-oorwig in die politiek stel hulle onvolhoubare politieke eise aan die fiskus,” die staatskas (188). “Bakhandmense se vermoë om te ontvang is veel groter as hulle vermoë om te produseer, want hulle leef in ‘n afhanklikheidskultuur. Vir die volhoubaarheid van ‘n samelewing se ontwikkeling moet daar ‘n wisselwerking [balans] wees tussen ontvang en gee … ontwikkeling is die produk van ontwikkelde mense wat die begeerte en vermoë tot selfverbetering en gemeenskapsverbetering het” (149).

“Hoe meer huise gebou word, hoe groter gaan die vraag na huise word en hoe groter die tekort aan huise. Hoe beter die voorsiening van opvoedkundige dienste, mediese dienste en gemeenskapsdienste in stedelike gebiede is, hoe groter gaan die behoefte [aan] en eise daarvoor word, omdat dit mense gaan naderlok totdat die stede dit nie meer kan hanteer nie. Waar die korttermyn-oplossing in beter dienslewering lê, lê die langtermyn-oplossing vir die behuisings- en diensteprobleme van Suid-Afrikaanse stede in die ontwikkeling van die platteland en by die ontwikkeling van ons buurlande” (220).

Maar die inkommers kom nie net uit die buurlande nie. Hulle kom in groot getalle uit bv Somalië in Noord-Afrika. Dit maak van Suid-Afrika se inkommerprobleem onder meer ‘n Afrika-ontwikkelingsprobleem. Inkommers kom egter ook uit Indië, Pakistan en Bangladesj, wat dit nie net ‘n Indiese subkontinent-ontwikkelingsprobleem maak nie, maar ook daardie lande se oorbevolkingsprobleem. Kortom, dit is nag solank Suid-Afrika met ‘n ondoeltreffende regering sit wat ondoeltreffende grensbeheer toepas en twyfelagtige (bv korrupte) immigrasiebeamptes en -amptenare het.

Desnieteenstaande bak Spies ydele mooi broodjies soos: “Die grootste uitdaging is om gemeenskapsontwikkeling aan die gang te kry – om beter gemeenskappe te bou, om aan die ongeveer ses-en-twintig miljoen armoediges in die land hoop te gee dat dit binne hulle bereik is, en veral binne hulle eie vermoë om self hulle algemene lewensomstandighede te verbeter. Dit is nodig dat daar ‘n gees van selfvertroue, optimisme, selftrots en selfsorg in al die land se gemeenskappe ontstaan. Hulle moet bevry word van hulle afhanklikheidsindroom en ‘n gevoel van minderwaardigheid wat negatiewe reaksies oproep” (105). Ek wil vir Spies dieselfde vraag vra as dié wat ‘n hengelaar gevra het toe hy ‘n meermin gevang het: Hoe?

Voor die “eerste demokratiese verkiesing” in 1994 het Nelson Mandela beweer die land se grootste bate is sy mense; klaarblyklik omdat hy wou hê die meeste kiesers moet vir die ANC stem. ‘n Beter formulering is: “Vaardige mense [is] ‘n land se grootste bate … Vaardige mense is ‘n bate vir ‘n samelewing en onvaardiges ‘n las” (108). “‘n Land se ontwikkeling en die volhoubaarheid van sy samelewing [hang] in ‘n groter mate van die vermoëns en karakter van sy mense af … as van die omvang van sy natuurbronne en die grootte van sy ekonomie” (107). “In die een-en-twintigste eeu word ‘n gemeenskap se vooruitgang nie meer deur die grootte van sy natuurbronne bepaal nie, maar deur die gehalte van sy mense en die goeie ordening van sy samelewing” (122). In albei gevalle skiet die nuwe Suid-Afrika ver tekort. “Die gehalte van mense – hulle opleiding, karakter, kultuur en toewyding – [gaan] ‘n land se toekoms … bepaal” (144). Dus, in die opsigte wat saakmaak, is mense nie gelyk en eenders nie. Nogeens: “Ons toekoms gaan gebou word op die gehalte van ons mense en samelewing” (146). “Suid-Afrika moet ‘n land word [dus, dit is nog nie so nie] waarin vaardige en toegewyde mense ‘n lewenskragtige samelewing kan bou” (147).

Oor “die instroming van arm Afrikane na Suid-Afrika” skryf Spies: “Die enigste [!] oplossing vir hierdie instromingsprobleem is ruimtelik-gebalanseerde ekonomiese ontwikkeling” (126). Totdat daar geen lewensruimte oor is vir diegene wat hier hoort nie? Dink aan die bestaande tekort aan grond vir behuising en landbou, asook watertekorte. Dalk is doeltreffende grensbeheer met Trump-mure en geëlektrifiseerde heinings wat gepatroleer word eerder nodig (Praag 29.12.2018). Die enigste muur waarna Spies verwys – behalwe heel teen die einde (218) – is:

“Die skrif is … aan die muur vir Afrikaans” (164).

Al het Nelson Mandela beweer dat hy teen sowel wit as swart oorheersing baklei het, het ons sedert 1994 in toenemende mate politieke swart oorheersing. “‘n Oorheerser-samelewing is een waarin of die politieke of die ekonomiese bestel dominant is in die reël van mense se lewens en strewes” (158). In so ‘n samelewing is daar ‘n lingua franca, dus ‘n transkulturele gebruikstaal (158). In Suid-Afrika het die ANC besluit dat Engels hierdie funksie moet vervul en hy kom daarmee weg sonder dat sterk teenstand gebied word. Nie-Engelssprekendes, bv Afrikaners, word daarmee “ondergeskiktes in die ‘huis’ van die gebruikstaal” (159). Volgens die Sapir-Whorf-hipotese is bv Engels as algemene gebruikstaal gevaarlik omdat “die struktuur van ‘n taal mense se denke en die kultuur wat die taal onderhou, beïnvloed” (159); “dat die struktuur van ‘n taal mense se denke en kenmerkende gedrag beïnvloed” (172). Byvoorbeeld, hanskakies soos Chris Brink en Wim de Villiers dink en handel nie soos Afrikaners nie. Afrikaners wat Engels goedskiks as gebruikstaal aanvaar, doen dit op die gevaar af dat hulle hanskakies word. Op die lange duur sal Engels dan dié kultuurtaal van Suid-Afrika word (160).

Spies skryf oor die Universiteit Stellenbosch: “Uiteindelik het die universiteit ook deel gevorm van die apartheidspolitiek van sy diensgemeenskap, waaroor hy vandag sy kop in skaamte laat sak” (160). Dit is hanskakies soos Chris Brink en Wim de Villiers wat hieroor skuldig voel en hiervoor verskoning vra. Waaroor hulle veel eerder skaam moet wees, is dat Jan Marais se stigtingsvoorwaarde, dat Afrikaans nie ‘n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie, skromelik geminag word. Spies beweer nie sonder oordrywing nie: Afrikaans was ‘n “afgeforseerde lingua franca van die wit Afrikanerstaat” (161). Waarom word dieselfde nooit van die ANC se beheptheid met Engels as eintlik die enigste amptelike Alfred Milner-afgeforseerde taal gesê nie? Spies erken: “Afrikaanse universiteite het reeds boedel oorgegee en is stelselmatig besig met [kulturele] seppuku terwyl hulle vir boetedoening besig is met kulturele sterilisasie en verengelsing” (229). Hierdie universiteite probeer hulle van hulle “volkskuld” suiwer (21). Seppuku is ‘n “Japanese kulturele selfmoord deur buikoopsnyding, ook bekend as hara-kiri” (21).

Afrikaans word geëtiketteer as ‘n “kreoolse boorlingspreektaal” (161). “Afrikaans was en is nie ‘n eksklusiewe wit-bestting nie. Dit is die pasgemaakte produk van ‘n kreolisering waardeur wit-, bruin-, Asiër- en swartmense se praat-met-mekaar deurlopend aangepas is sodat hulle mekaar se doen en late kon verstaan” (167). Naas Afrikaners praat mense van ander etnisiteite ook Afrikaans, maar dit impliseer nie dat die aard van Afrikaans dermate deur hulle beïnvloed is dat Afrikaans in wesenlike mate gekreoliseer is nie. Byvoorbeeld, Fanagalo is voorheen op ‘n uitgebreide skaal gepraat maar het weinig invloed op Afrikaans uitgeoefen.

“Afrikaans het as gevolg van mense se kulturele behoeftes gevorm en het deur politiek ‘n sekere status in Suid-Afrika gekry” (161). “Vandag is Afrikaans ‘n verleentheid vir voormalige Afrikaanse sake- en onderriginstellings wat daaruit gebaat het” (161). Koos Bekker se Naspers is die prominentste voorbeeld hiervan. Hy wou nie eens toelaat dat ‘n geskiedenis van Naspers se eerste eeu gepubliseer word nie. Die nuwe benaming, “Naspers”, was vir Bekker ook te naby aan die vorige benaming,”Nasionale Pers”.

“Engels staan … nou weer, soos voorheen, bo aan die maatskaplike hiërargie van Suid-Afrika” (162). “Sedert die 1800’s was die koloniale taal Engels bo aan hierdie hiërargie wat aan Engelssprekendes die selfvoldane status van afgerondheid en algehele meerderwaardigheid verleen het” (162-163).

“Ná 1948 het Afrikaans ‘n verhoogde status geniet vanweë die land se politiek, maar ná 1994 is dit van die politieke troon gestoot. Op die oomblik staan Afrikaans miskien nog tweede in die land se taalhiërargie, maar dit sal vir seker nie so bly nie. As inheemse taal gaan dit in die nabye toekoms in presies dieselfde posisie wees as al die ander inheemse tale van Suid-Afrika … volgens … die elite [het] slegs die koloniale taal Engels administratiewe, geregtelike en kommersiële waarde” (163). Afrikaans “staan in ‘n kruisvuur binne die persepsie-doodsakker van illegimiteit en oudedoosheid – soos gehoor kan word as sommige van die cool jongergeslag-Afrikaanssprekers ontsnap met terugsluk-Afrikaans en Engelse invoegings in gesprekke en voordragte … In die ervaring van hierdie skrywer is dit alreeds die geval by sommige van die jongergeslag-predikante van die NG Kerk wat graag vir effek heelwat Engels in hulle bediening gebruik [ook 232]. So ook by die cool kunste-gemeenskap” (164). Sommige van hierdie predikante het hulle opleiding aan die erg verengelste en kultuurmarxistiese US-fakulteit teologie ontvang. Sulke predikante sal nie weerstand bied teen die hereniging van die NG Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) nie. As dit gebeur, sal Afrikaans as kerktaal ernstig benadeel word.

Later skryf Spies:

“Taaldissipline is vandag vir vele sprekers nie meer (in die nuwe jargon gestel) ‘n issue [kwessie] nie. Veral die jonger geslag Afrikaanssprekendes in die kunste praat tweetalig, bokspringend soos losgelate kalwers, ‘n geradbraakte mengsel van Engels en Afrikaans. Afrikaanssprekendes se kommunikasie in die sosiale media is hoofsaaklik in Engels. Afrikaanse koerante is ook stelselmatig besig om taaldissipline heeltemal oorboord te gooi” (229). “Indien hierdie selfgeskepte proses van taalerosie voortduur, sal Afrikaans as hoëvlak-gebruikstaal binne twintig jaar verdwyn. Dit sal ten beste eindig waar dit aan die einde van die negentiende eeu begin het – ‘n kreoolse gebruikstaal wat deur minderwaardige sprekers gepraat word, en daarom nie good form is om dit in ‘goeie’ geselskap te gebruik nie” (164).

Dit is kenmerkend van die bruin elite dat wanneer hulle in die openbaar is of iets moet skryf, hulle Engels verkies. Hulle kom bv as Afrikaanssprekende eerstejaar-studente by die universiteit aan maar beskou hulleself spoedig as eintlik Engelssprekend. Die polities byderwetse gewoonte bestaan, ook by Spies, om vir onderrig in Afrikaans by die US ten bate van bruin studente te pleit. Dit het meer sin om eerder die behoefte aan onderrig in Afrikaans by Afrikanerstudente voorop te stel, omdat hulle in baie groter mate as bruines Afrikaanslojaal is.

Spies is bewus van die taalerosie-verskynsel, veral wat die toenemende gebruik van Engelse woorde in die Afrikaanse spreektaal betref. Van Afrikaners en bruin mense kan nie sonder meer beweer word, “ons praat dieselfde taal” (168), nie. Tog bepleit Spies ‘n inklusiewe Afrikaans, dus die insluiting van die brouseltaal Kaaps by Afrikaans, wat die dood in die pot vir ‘n egte, eerbare, waardige, ordentlike Afrikaans sal wees. So ‘n inklusiewe Afrikaans sal die gebrek aan selfrespek van Afrikaanssprekers bevestig, asook hulle minderwaardigheid in vergelyking met Engels. Engels is ‘n eiesoortige taal uit eie reg terwyl dit nie van geradbraakte Afrikaans gesê kan word nie. Gebrek aan respek vir jou moedertaal weerspieël ‘n gebrek aan selfrespek, bv as jy toelaat dat jy oordonder word met retoriese propaganda wat ongegronde skuldgevoelens by jou wek. “Die wit minderheid is vandag ‘n sagte teiken omdat hulle skuldig voel” (188). “Die waarde van ‘n land as tuiste vir mense word bepaal deur die respek van daardie land vir hulle taal en kultuur” (164). By die ANC-regering is daar bitter min tekens van respek vir Afrikaners en Afrikaans. Die huidige stand van sake is “dat Engels die verhewe taal is en ander tale net as spreektale aanvaarbaar is” (164).

Die voorkeur vir die koloniale taal (Engels) bo ‘n kultuur- en moedertaal (bv Afrikaans) by onderrig en opvoeding, word ‘n dwase benadering genoem (166).

“Een van die belangrikste redes waarom Benede-Sahara-Afrika vandag so sukkel om op dreef te kom, is omdat onderrig en opvoeding by hierdie volke hoofsaaklik deur middel van ‘n (koloniale) tweede taal geskied … Kennis-inheemding deur middel van moedertaalonderrig was saam met politieke bemagtiging die grondslag van die opkoms van ‘n nuwe geslag goed opgeleide wit Afrikaanssprekendes wat vanaf die 1950’s groot sukses behaal het in die sakewêreld en die professies. Toegewyde Afrikaanse onderwysers en lektore [dosente] het die stand en status van wit Afrikaanssprekendes gelykgestel met dié van hulle wit Engelssprekende landgenote” (167).

Sedert 1994 is Afrikaners polities ontmagtig en doen die ANC-regering alles in sy vermoë om met die hartlike samewerking van bv hanskakies, Afrikaans as onderrigmedium te onderdruk. Die oorlewingskanse van Afrikaans lyk gevolglik nie belowend nie.

FW de Klerk het polities aan swart mag oorgegee. Spies doen dieselfde met Afrikaans: “Afrikaans se toekomstige lewenskrag hang nou [sedert 1994] af van hoe dit aanvaar en ontwikkel gaan word deur bruin- en swartmense. Die rede hiervoor is demografie” (169). Dus, kwantiteit seëvier oor kwaliteit. Hy gaan verder: “‘n Mens moet begrip hê vir die dilemma wat veroorsaak het dat voormalige Afrikaanse universiteite almal nou na Engels-onderrig oorskakel … Afrikaans dra ‘n swaar politieke las as die administratiewe taal van apartheid [as ‘n mens ANC-propaganda sluk]. Akademiese verengelsing is dus (in al sy kilheid) goeie korporatiewe strategie” (169). Spies is heeltemal te tegemoedkomend jeens ‘n hanskakie soos Wim de Villiers.

Omdat hy die politieke propaganda wat teen Afrikaans versprei word, sluk, kom Spies tot dieselfde absurde gevolgtrekking as instansies soos die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging ATKV), wat veronderstel is om Afrikaans te bevorder maar dikwels eerder die teenoorgestelde doen: Pleks van Afrikaans as sodanig te bevorder, moet Afrikaans, volgens diesulkes, (slegs) saam met die plaaslike inheemse tale bevorder word. “Afrikaans kan net gesuiwer word van hierdie verlede as Afrikaanssprekendes dié wantroue kan aanspreek deur uit te reik na ander kulture in Suid-Afrika – onder meer deur te help om ander inheemse tale ook tot kennistale te ontwikkel. Die toekoms van Afrikaans-onderrig lê nie in grondwetlike regte nie, maar in Afrikaanssprekendes se agting vir ander en hulle diensbaarheid vir ander kulture” (171), selfs al is daar by swartes (amptelik/openlik) min tekens van agting vir hulle eie tale. Dus, net soos agter die beweerde behoeftes van bruin studente geskuil word wanneer voorbrand vir onderrig in Afrikaans gemaak word, moet Afrikaans in breër verband bevorder word deur terselfdertyd swart tale te bevorder. My standpunt is dat daar kompromisloos uit eie reg vir Afrikaner- en Afrikaansbelange geveg kan en moet word.

Sonder om op grond van ras te diskrimineer, het universiteite in die nuwe Suid-Afrika die reg om in Afrikaans te doseer. Daarmee word die hooggeprese diversiteit van sowel ras/etnisiteit as taal bevorder, as studente kan kies of hulle in Afrikaans of Engels wil studeer. Maar sodanige keuse word nie meer aan enige universiteit vreedsaam geduld nie. Die swartes eis ‘n enkele onderrigtaal, Engels, die koloniale taal. “Wat ons deur die taalstryd in Suid-Afrika ervaar, is ‘n neo-koloniale beweging” (170). Daarmee word taaldiversiteit omvergewerp en Afrikaanssprekendes benadeel. Brian O’Connell het as rektor van die University of the Western Cape die nuut verwerfde Engelse eentaligheid van die inrigting met ‘n drogredenasie probeer regverdig deur te beweer dat die swartes erkentlik en dankbaar is dat Afrikaanssprekende studente hulle hierdie opoffering van Engelseentaligheid laat welgeval. Hierdie beleid word “kultuursanitering” genoem, “bedoelende die byeenbring van verskillende rasse wat hulle kulturele bagasie by die huis moet los” (173). In die praktyk beteken dit egter dat dit die nie-swartes is wat hulle kultuur moet opoffer. Vandaar die gesanik oor bv die eurosentriese aard van leerplanne en die noodsaaklikheid van afrikanisering.

Die wiel het gedraai. “Weg van die apartheidsgeskiedenis wat vandag Afrikaans polities onaanvaarbaar gemaak het, lê ‘n toekoms waarin dit nie meer die taal van die onderdrukker gaan wees nie, maar die taal van die onderdrukte. Die meeste Afrikaanssprekendes lewe vandag van die maatskaplike en ekonomiese potskraapsels van die land” (174). “Toe deure is ‘n maklike uitweg om verskille te bestuur, want dit is dan nie nodig om jou moeg te maak met andersoortiges nie. ‘n Oop deur vereis verdraagsaamheid, begrip, empatie – en veral om te leer van ander se manier van dinge doen” (176-177). “By Suid-Afrikaners moet ‘n nuwe bewustheid ontstaan van mekaar se menswees – van mekaar se waardes, taal, kulturele praktyke en kulturele verskille” (177). Dit klink mooi, maar in die praktyk is dit net die blankes wat verskoning moet vra en aanpas en veral nooit moeg mag raak om goed te doen nie, al dien dit as aansporing om hulle verder te veroordeel. “‘n Suksesvolle, ontwikkelde Suid-Afrika sal altyd ‘n onverklaarbare, onvoorspelbare wonderwerk wees” (178). Die Suid-Afrika van weleer was ‘n wonderwerk en nie onverklaarbaar nie, want dit was te danke aan blanke kundigheid, harde werk, deursettingsvermoë, toewyding, ens. Ná verloop van ‘n kwarteeu is die nuwe Suid-Afrika volgens (feitlik) alle aanduidings gewoon nie ‘n wonderwerk nie, maar ‘n groter wordende ramp en tragedie.

In die voorlaaste hoofstuk skryf Spies: Die primêre hindernis is dat die land op die oomblik geen samelewing het nie” (186), om van ‘n nasie nie te praat nie.

“Miskien kan Suid-Afrika eendag, ver in die toekoms, ‘n nasie word, maar vir eers is dit onwaarskynlik … Suid-Afrika is nie ‘n nasie nie, maar sy mense kan wel ‘n span word” (201). “Suid-Afrikaners kan gewoon maar net nie met mekaar klaarkom nie” (186).

Dit is weens die groot etnies-kulturele verskille. Die oplossing is nie om daardie verskille te onderdruk, dus die samelewing te homogeniseer soos tans nie, maar juis om ruimte vir die uitlewing van iedere etniese groep se kultuur te skep. Op hierdie manier kan van die bevolking (‘n klomp mense) nie ‘n nasie nie maar wel ‘n funksionerende samelewing gemaak word (182). Maatskaplike patologie is prominent. “Maatskaplike patalogie is ‘n begrip wat verwys na toestande in die bevolking wat disorganisasie en verbrokkeling in gemeenskappe veroorsaak. Armoede, kriminaliteit en korrupsie is tipiese voorbeelde hiervan” (187). Die tragedie is dat dit hoofsaaklik voorkom by die ras-/etniese groepe wat tans polities in beheer van Suid-Afrika is. Terselfdertyd is “demografiese proporsionaliteit” egter tot die kern van die ANC se beleid verhef. Spies noem hierdie gehamer op demografie tereg “rassisties” (187).

Spies dink dat politici “op die kort termyn ingestel is. Politici is inderwaarheid die vyande van Suid-Afrika se toekoms” (189). In die politiek gaan dit “oor die behoud van die vermoë om finansieel voordelige politieke posisies te behou … Ingeoefende professionele politici sal altyd hulle eie belange voorop stel in al hulle optredes en besluite” (190). Ek is dit roerend met hom eens, maar wat hy nie verreken nie, is ‘n spesifieke kenmerk van die oorgrote meerderheid plaaslike politici en kiesers. As toekomskundige behoort dit hom te bekommer dat swartes in groter mate as blankes eerder op die hier en nou as die toekoms ingestel is.

Ek haal vervolgens aan uit Attie van Niekerk se boek, Anderkant die reënboog (Kaapstad: Tafelberg, 1996):

“Afrika se gerigtheid op die verlede, die afwesigheid van ‘n toekomsvisie en die gevolglike gebrekkige toekomsbeplanning, die houding dat tyd nie gemors kan word nie omdat tyd eintlik net bestaan as iets gebeur, is reeds dekades gelede … beskryf. Hierdie gerigtheid op die verlede [bv slawerny, kolonialisme, imperialisme, rassediskriminasie, apartheid] waarin Afrika vasgevang is, word dikwels as een van die redes genoem waarom ontwikkeling in Afrika nie slaag nie. Daarteenoor beroem die Weste hom op toekomsgerigtheid en beplanning” (p 42). “Dit is die gees van die moderne Weste. Begrip van die natuurlike orde moet lei tot beheer oor die natuur – ook beheer oor ons menslike natuur [bv voortplanting] – en dit moet vooruitgang meebring” (58). “Beheer en vooruitgang is nie die dryfvere van die Afrikabeskawing nie” (59). (Praag 8.04.2017).

Suid-Afrika “benodig transformerende leierskap” (Spies 191). Ek sou eerder sê “hertransformerende leierskap. “Die politiek van die land word gekenmerk deur selfdienstigheid en is ver verwyder van die kiesers” (197). “Politici verkies om eerder diens aan hulle party te lewer as aan die mense wat hulle moet dien … Sulke politici is die vyande van Suid-Afrika se toekoms, want hulle ondersteun die vervreemding van Suid-Afrikaners … Toekomsgerigte [her]transformerende leierskap is dringend nodig” (198). “Méér aandag moet [ge]gee [word] aan die belange van diegene wat gedurende ‘n vernuwingsproses kan verloor” (199). Sedert 1994 word daar egter eerder gepoog om te verseker dat veral die blankes al hoe meer verloor en die swartes al hoe buitensporiger baat.

Samevattend skryf Spies: “Suid-Afrika se toekoms word bedreig deur ongelykheid, armoede en ‘n gebrek aan samehorigheid” (209). “Suid-Afrikaners se vryheidstryd is vandag ‘n ontwikkelingstryd. Volhoubare ontwikkeling is net moontlik in Suid-Afrika deur die moeilike roete van samelewingsbou te volg. Dit vereis dat alle Suid-Afrikaners oor grense heen hande vat en daaraan deelneem – en dat die bouwerk met geduld, aanpasbaarheid, respek, nederigheid en baie hoop en moed aangepak moet word. Die beginsel is dat mense die begeerte moet hê om iets positiefs te doen, en ook geleenthede moet kry om dit te doen, sonder bevoordeling of beperkings” (210).

“Elke mens en elke vereniging, instelling en onderneming in Suid-Afrika kan ‘n bydrae maak om die land weg te stuur van die dreigende afgrond waarheen dit op pad is. Rasse-diskriminasie en demografiese proporsionaliteit behoort in hierdie benadering geen hindernis te wees nie” (211); bedoelende dat sulke verskynsel glad nie geduld moet word nie. Maar dan skryf Spies ook: “Omvattende deelname aan ‘n ontwikkelingspel kan uiteindelik dié suiwerste uitdrukking van demokrasie word” (209), terwyl ek dink dat die soort demokrasie wat ons tans het, heeltemal ongeskik vir ‘n land soos Suid-Afrika is. “Minderheidsgroepe [sal] altyd aan meerderheidsdominansie onderworpe wees” (235).

Die laaste hoofstuk het as opskrif: “Afrikanertoekoms in hierdie onsekere land.” “‘n Wit Afrikaner-identiteit [het] vir sommige mense erg onfatsoenlik geraak” (224). Dink aan ‘n geval soos Anton van Niekerk. Blanke Afrikaners “verwys na ‘n klein minderheidsgroep wat sy eie kultuur en taal afsonderlik wil handhaaf in ‘n Afrika-land … Dit [is] te danke aan wilskrag, selfrespek en deursettingsvermoë,” asook harde werk (225). Spies dink dat 1994 “die einde van ‘n toekomsdroom vir ‘n Afrikanervolk” was (226). “Die Afrikanervolkstaat met eie organisasies, simbole en kerk was van meet af teen heersende wêreldtendense en ander binnelandse politieke strominge opgestel. Veral ook nadat dit geformaliseer is in die beleid van apartheid/afsonderlike ontwikkeling wat dit ten doel had om die volkstaat teen ‘n getalle-oorwig te beskerm” (226-227).

“Kan die Afrikaner-identiteit in die toekoms oorleef op slegs eienskappe soos diensbaarheid, taal en kulturele bande, etos en beginsels? Op die oomblik is dit te betwyfel, want dit sal beteken dat wit Afrikaners na ‘n ander soort Afrikanerskap moet strewe” (227). “Met ‘etos’ word bedoel die fundamentele sentimente wat die waardes, oortuigings, gebruike en praktyke in die samelewing bepaal en rig” (97). Weens veranderde omstandighede sedert 1994 moet ons as Afrikaners verander en/of die opset aanpas waaronder ons sonder ons toedoen beland het. Spies plaas myns insiens te veel klem op Afrikaner-verandering, bv dat Afrikanerskap inklusief, dus nie eksklusief blank nie, moet wees en dat Afrikaans op ‘n soortgelyke manier inklusief moet wees. Daarmee kan Afrikanerskap en Afrikaans uitgehol word tot verskynsels wat skaars as die ware jakob herkenbaar sou wees en nie die moeite werd sou wees om na te streef en voor op te offer nie. Die alternatief is om die huidige omstandighede met bv die Afrikaner se historiese kragdadigheid te verander sodat die lewe soos vóór 1990 weer leefbaar word. Dit is die strategie waaraan ek voorkeur gee.

Volgens Spies “is die ou Afrikanerkultuur saam met die Afrikaner se wit-identiteit … aan die verkrummel” (228). ‘n Ewewigtige balans moet glo gevind word tussen “enersyds die liefde, uitlewing en beskerming van ‘n eie [uitgeholde/afgewaterde?] identiteit en andersyds waardering en respek vir die insluitende identiteit van Suid-Afrikanerskap” (227-228). “‘n Mens sien [egter] eerder ‘n splitsing in Afrikanergeledere tussen diegene wat weerstand bied om ‘n afsonderlike identiteit te behou [die ware Afrikaners] en diegene wat alles van hulle identiteit weggegooi het en aangename, inskiklike mense geword het” (228), soos die hanskakies, hensoppers en kruipsugtiges.

“Taal is ‘n integrale element van kultuur … As jy ‘n taal doodmaak, dan sterf die kultuur daarmee saam” (228). ‘n Mens sou dink dat Spies, na aanleiding van wat hy hier bo oor geradbraakte Afrikaans geskryf het, sterk ten gunste van suiwer(der) Afrikaans, dus Afrikaans ontdaan van onnodige Engelse woorde, na vore sou tree. Maar dit is nie die geval nie. Dit is Afrikaners as blankes wat glo Afrikaans as ‘n “wit-taal” beskou, wat veroordeel word, terwyl hulle heel moontlik slegs hulle afkeer van veral die brouseltaal Kaaps geopenbaar het. “Terwyl wit Afrikaners besig is om al hierdie dinge met Afrikaans te pleeg [!], lééf ander Afrikaanssprekendes die taal soos hulle dit reeds vir byna vier eeue gedoen het” (229). In hierdie eienaardige eierdans gee Spies skynbaar voorkeur aan die “Afrikaans” van nie-blankes bo dié van blankes. Kaaps word spesifiek genoem (229). “Afrikaans het nog nooit in hierdie gemeenskappe stilgestaan en wag vir uitsprake van taalkundiges nie. Dit [Afrikaans] is nie vir hulle in ‘n akademiese hok vasgekeer nie, net ‘n immerwordende praktiese taal soos dinge wat hulle ervaar uitdrukking kry in woorde” (229-230).

Spies vra tereg: “Kan daar sonder ‘n land, sonder geloof, sonder ‘n taal, sonder ‘n kultuur, sonder grond, en sonder ras-identiteit nog so iets soos ‘n Afrikaner wees? Sal dit dan nie net ontheemde, nihilistiese, wit lywe van voormalige Afrikaners wees wat soos zombies in Suid-Afrika voortbestaan nie?” (232-233). Om so ‘n situasie te vermy, is ‘n “herontdekking van die betekenis van Afrikaner-wees” nodig (233). “Dit is wesenlik nie-rassig” (233). Dít is die kern van Spies se verdunning van Afrikanerskap; eintlik die doodbloei daarvan: “‘n Nuwe Afrikanerskap en ‘n Nuwe Afrikaanse identiteit … wat ras-ontkoppel is” (234). Sy ideaal is ‘n “ontwikkelende Suid-Afrikaanse samelewing waarin elke kultuur en taal nie onder die dominansie van ‘n ander kultuur en taal staan nie, omdat daar onderlinge respek, erkenning en begrip vir mekaar is” (234). Maar in die geval van Afrikanerkultuur en Afrikaans sal daardie saligheid klaarblyklik eers betree kan word nadat Afrikanerkultuur uitgehol en Afrikaans bv tot ‘n brouseltaal soos Kaaps getransformeer is. “Passiewe onderdaanskap en die afbreking van jou taal en kultuur is nie ‘n keuse vir eerbare mense met selfrespek nie” (238). Juistement. Spies moet blanke Afrikaners dus nie voor so ‘n skynkeuse probeer stel nie.

“Afrikanerskap kan net gehandhaaf word en gedy indien dit werklik betekenis vir almal in die land inhou, dit wil sê, ‘n bate is vir die Suid-Afrikaanse samelewing in sy geheel” (235). Maar dit is reeds sedert 1652 die geval, al word dit om politikeke redes nie deur die nie-blankes en hulle blanke meelopers erken nie. Die titel van Spies se boek is: Afskeid van ‘n volk: Op soek na ‘n toekoms. My verbintenis met die Afrikanervolk is ononderhandelbaar. Daar kan geen sprake wees dat ek daarvan afskeid gaan neem nie. Spies is op twee maniere op soek na ‘n toekoms: deur die omstandighede in die land te verander én deur die Afrikaner te verander. In hierdie proses wil hy die Afrikaner in so ‘n mate transformeer dat hy in ‘n te groot mate ont-Afrikaner word. Die prys vir (onbevredigende) oorlewing is te hoog.

Vir my is daar drie oorlewingsmoontlikhede. Die eerste is om te emigreer; om Afrika agter te laat. As ek alleen gaan, sal ek my Afrikanerskap en Afrikaanswees onverminderd behou. As my bestaande nageslag my vergesel, sal hulle ook hulle Afrikanerskap en Afrikaanswees behou, maar die middeljariges in groter mate as die jongeres. By my toekomstige geslagte sal hulle Afrikanerskap en Afrikaanswees egter toenemend uitgedoof wees.

Die tweede moontlikheid is om my vir ‘n Afrikanertuisland in Suid-Afrika of elders te beywer. Dit moet groter as ‘n posseël wees en ook aan baie ander vereistes voldoen, soos die Suid-Afrika van weleer aan daardie vereiste voldoen het. Hierdie problematiese onderwerp het ek reeds dikwels aangeroer (bv Praag 24.09.2016). ‘n Afrikanertuisland is ‘n moontlikheid wat Spies glad nie ernstig oorweeg nie.

Die derde moontlikheid is om, anders as Spies, eerder die land reg te trek as om die wese van Afrikanerskap en Afrikaanswees deur kastrasie te skend. Byvoorbeeld, as die eienaars hulle sake-onderneming verkwansel deur aandele daarin te verkoop, sorg hulle dikwels dat hulle beheer oor minstens 51% daarvan behou. Dit is die minimum resultaat wat die 1990/94-onderhandelinge vir die blankes moes opgelewer het. Die meerderheid blanke kiesers was bereid om die politieke mag te deel maar het vanselfsprekend begeer om in beheer te bly. Die onderhandelinge is uitermate verbrou. Die minimum waarop nou aangedring moet word, is dat die blankes (desnoods saam met die bruin mense en Asiërs) 50% van die politieke mag moet hê. Dit sal ‘n meer ewewigtige situasie skep, wat ‘n voorspoediger land tot gevolg kan hê. Nêrens verdoem Spies demokrasie in die vorm wat dit plaaslik aangeneem het nie. Een mens, een stem van gelyke waarde het chaotiese gevolge vir Suid-Afrika en gaan die voortgesette agteruitgang van die land verseker. Rassediskriminasie, gedwonge integrasie en tweedeklas-burgerskap in hulle huidige aggressiewe vorme moet verbode wees.

Van die kernveranderings wat aangebring moet word, is dat iedere etniese groep toegelaat én aangemoedig moet word om sy kultuur uit te lewe. Dit sal bv eie woongebiede en eie skole en universiteite tot gevolg hê, wat in 1992 plegtig deur FW de Klerk belowe is, maar waarvan niks tereg gekom het nie. Van owerheidsweë behoort ook alles moontlik gedoen te word om die voortbestaan van Afrikaans te bevorder. Sulke veranderings sal die nuwe Suid-Afrika meer leefbaar vir Afrikaners maak. Spies en andere kan nou aan my dieselfde vraag vra as wat ek aan hom gestel het: Hoe? Wat kan Afrikaners doen om Suid-Afrika reg te trek? Dit is natuurlik iets wat in 1990/94 gedoen moes gewees het. Dit is nou oneindig moeiliker om die situasie te verbeter omdat elemente wat geensins daarop geregtig was nie ‘n kwarteeu lank baie meer ontvang het as wat hulle verdien.

My kort antwoord is dat nagegaan moet word wat groepe wat veranderings in ‘n land begeer het, voorheen alles gedoen het om suksesvol te wees. In hierdie verband moet die geskiedenis van bv die ANC en ander kommunistiese groepe ook nagegaan word en noukeurig gelet word op wat hulle gedoen het om sukses te behaal. Wat die ANC homself tydens sy “bevrydingstryd” veroorloof het, kan Afrikaners hulle ook veroorloof, hoewel Afrikaners hulle in sommige opsigte daarvan sal weerhou om moreel so laag soos die ANC te daal. Uit daardie suksesvolle metodes en strategieë sal Afrikaners dus ‘n keuse moet maak en hulle waar nodig moet aanpas en met eie metodes en strategieë aanvul. Maar sodanige kennis sal niks oplewer sonder bekwame leierskap en sterk gemotiveerde volgelinge nie. Die huidige apatie sal plek moet maak vir die kragdadigheid wat so kenmerkend van Afrikaners was. Dít is die soort oudedoosheid wat moet herlewe. Dan sal die Afrikanerdom en Afrikaans ook kragtig en pragtig herlewe.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.