Leon Lemmer: Albert Nothnagel en Marius Redelinghuys oor Afrikanerskap

Deel op

Die volgende brief, wat ek volledig aanhaal, is deur Albert Nothnagel van Mosselbaai geskryf en in Die Burger (13 Junie, p 11) gepubliseer:

“Die speaker van die Nasionale Vergadering beslis nou dat ons almal Afrikane is en so staan dit op die voorblad van Die Burger, 11 Junie.

“Indien my geheue my nie in die steek laat nie, was dit op dieselfde plek waar Die Burger jare terug aangekondig het dat hulle groep voortaan die woord ‘Afrikaan’ gaan gebruik.

“In die Afrikaanse taal noem ons alle mense in SA al jare lank ‘Suid-Afrikaners’. Dus as ons die ‘Suid’ wegneem, was alle mense in Suid-Afrika reeds van toentertyd af ‘Afrikaners’. So is alle mense in Nigerië ook Afrikaners, dws Afrikaners wat in Wes-Afrika woon – ‘Wes-Afrikaners’.

“Die woorde ‘Suid-Afrikaners’ in Engels vertaal as ‘South Africans’. Dit het nooit enige mens uitgesluit nie en nooit aanstoot gegee nie.

“Die moeilikheid het gekom toe ons van die woord ‘Afrikaner’ ‘n wit eksklusiewe Afrikaanse mens, ‘n uitverkorene, gemaak het. Gode sy dank die WAT skryf nou as eerste definisie van ‘Afrikaner’ as rassisties en verouderd wit Afrikaanssprekende. Die Internasionale Etimologiese woordeboek Harpers Etymology online beskryf ‘Africaander’ as ‘n mens wat in Afrika woon. Dit was die oorsprong van die Nederlandse woord ‘Africaander’ nav ‘Englander’ en ‘Deutchlander’.

“Kom ons almal wees net wat ons eintlik was en steeds is, sonder apartheid, nl ‘Afrikaners’ – inwoners van Afrika.”

Nothnagel dink klaarblyklik dat hy met onfeilbare logika redeneer. Aangesien ons hier met terminologie te make het, moet ek daarop wys dat die joernalistieke term “voorblad” vir “front page” streng gesproke foutief is. ‘n Blad (“leaf”) het ‘n voor- en ‘n agterkant, ‘n recto en ‘n verso/keersy. ‘n Bladsy (“page”) dui op net een sy of kant van ‘n blad.

Nog ‘n probleem wat ek met Nothnagel se brief het, is dat die berig waarna hy verwys in my uitgawe van Die Burger (11 Junie) nie op die voorbladsy verskyn nie, maar op bladsy 5. Dit is Corné Mulder van die VF+ wat beweer het dat almal in die Nasionale Vergadering Afrikane is. Mmatlala Boroto, die voortsitster, het beslis: “Almal in die huis is Afrikane. Ek sien geen verskil nie.”

Hierdie laaste sin is die kern van die saak: die ontkenning van verskille, die sug na gelykmaking, die poging tot gelyk- en selfs eendersverklaring, gedwonge rasse-integrasie, die begeerte na inklusiwiteit (wanneer dit die nuwe maghebbers pas). Nothnagel ly sedert die koms van die nuwe Suid-Afrika erg aan oorverligtheid. As oud-lid van die Nasionale Party het hy hom aanvanklik by die ANC geskaar en was hy sterk teen die DA van Tony Leon gekant. Hy het die ydele hoop gekoester dat die ANC-regering sy ambassadeurskap in Nederland sou verleng. Daarna het hy toenadering tot die DA gesoek. Hy beskryf homself as ‘n “white child of black Africa”, soos ek voorheen aangedui het (Praag 3.05.2014), toe hy met feitlik dieselfde storie as in sy jongste brief vorendag gekom het.

In sy vorige brief (Die Burger, 3.05.2014, p 11) het Nothnagel beweer:”Enigeen wat hom vandag beywer vir die regte van wit Afrikaners, in groepsverband, sit steeds in die ou moeras van rassisme vas … Op sy beste is wit Afrikaners wat hulself vandag nog eksklusief Afrikaners noem, outyds en op sy akkuraatste rassisties.” Omdat hy die term “rassisties” so vryelik gebruik, hou Nothnagel daarvan dat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) beweer dat die gebruik van die term “Afrikaner” eksklusief vir wit mense rassisties is. Die twee gebruike van “Afrikaner” wat deur die WAT goedgekeur word, is: “iemand met Afrikaans as huistaal” (dus wittes, bruines, swartes en Asiate) en “iemand wat in Afrika gebore is” (waarvoor myns insiens eerder die term “Afrikaan” gebruik behoort te word). Wat ons hier mee te make het, is dat die WAT en Nothnagel ons ook van ons etnies-kulturele naam wil beroof. Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) huldig dieselfde standpunt. “Afrikaner” beteken: “Persoon wat Afrikaans is deur geboorte of afstamming, veral iemand wat Afrikaans as moedertaal het.” Die onderliggende taboe is dat ons nie op etnies-kulturele gronde tussen wit, bruin, swart en Asiaat mag onderskei nie, al doen die “nie-rassistiese” ANC dit daagliks in die uitvoering van sy beleid van verbete rassediskriminasie teen veral die blankes.

Ooreenkomste by mense word deur Nothnagel oorbeklemtoon terwyl verskille, indiwidueel en groepgewys, eintlik (soos ook deur Boroto) ontken word. Maar dit is ‘n feit dat dit vir mense onmoontlik is om te funksioneer tensy onderskeide getref word. Hiermee word nie geïmpliseer dat ‘n mens ter benadeling op grond van bv ras of kleur moet onderskei of diskrimineer (soos die ANC so graag doen) nie. Ter inligting van homself kan die oorverligte Nothnagel gerus so objektief moontlik vasstel met wie hy daagliks op gelyke vlak sosiaal verkeer. Dit sal seker hoofsaaklik met mense wees wat dieselfde kleur, kultuur en taal as hyself het. Dan sal hy besef dat Afrikaanssprekende blankes in beduidende opsigte anders as bv swart Suid-Afrikaners is. Daardie blankes word in die omgang “Afrikaners” genoem, al sou ek graag die betekenis van die term tot nie-verloopte Afrikaners wou beperk en Nothnagel dus uitsluit.

Kortom, in Afrikaans en Engels word daar tereg na Afrikaanssprekende blankes as “Afrikaners” verwys, terwyl swart mense in Suid-Afrika en in die res van Afrika “Afrikane/Africans” genoem word. Hierdie onderskeid is nie ter benadeling nie, maar is kultureel nodig omdat Afrikane baie meer met hulle swart broers en susters in die res van Afrika as met Afrikaners en ander blankes gemeen het. Die motief vir hierdie Afrikaner/Afrikaan-onderskeid is nie om “aanstoot” te gee soos Nothnagel beweer nie. Die enigste assosiasie met die term “Afrikaner” wat sekerlik verouderd is, is dié van “uitverkorene”. As Afrikaners as volk/nasie Judaïes of Bybels uitverkore was, sou die roemlose, mandaadlose oorgawe aan ongebreidelde swart mag nie oor ons weg gekom het nie.

Daar is ook so iets soos prioriteite by mense, of verskillende rolle wat elkeen vertolk. In daardie konteks is ‘n blanke Afrikaanssprekende (soos ek) in die eerste plek ‘n Afrikaner, in die tweede plek ‘n Suid-Afrikaner en in die derde plek (as dit werklik moet) van Afrika, dus ‘n Afrikaan. As Afrikaner is my probleem met Suid-Afrikanerskap dat ek my nie kan versoen met die aard van die nuwe Suid-Afrika en die manier waarop dit aan (nie-verloopte) Afrikaners opgedring is nie. My hartstogtelike verbintenis met Suid-Afrikanerskap is van ‘n historiese (voor 1994) aard. As Afrikaner is my probleem met Afrikaanskap dat my kulturele wortels eerder in Europa as in Afrika lê. In hierdie onhervormbare, Bybelse sin is ek in Afrika maar nie van Afrika nie.

In Amerika het die swartes voorgeskryf dat hulle nie meer “negers” genoem wil word nie. Hulle verkies om “Blacks” of “Afro-Americans” genoem te word. In Suid-Afrika het die swartes, bruines en Asiate/Indiërs elk besluit wat hulle genoem wil word en ook wat iedere indiwidu of groep nie genoem mag word nie. As iemand (in die praktyk eintlik net wittes) dit waag om ‘n historiese etniese term te gebruik wat nie-wittes nie goedkeur nie, word dit sonder meer as “rassisme” geag.

Die huidige situasie van die blankes is (soos in so baie ander opsigte) glad nie so gunstig soos dié van die drie ander etniese groepe nie. Blankes en veral Afrikaners kan enigiets toegesnou word sonder dat dit as rassisties gebrandmerk word. Dit maak nie saak met hoeveel venyn en haat dit gedoen word nie. Maar die benadeling van Afrikaners strek verder. Soos Nothnagel en die redakteurs van die WAT en HAT aantoon, word voorgeskryf dat Afrikaanssprekende blankes nie self mag besluit wat hulle hulleself noem nie. Indien Afrikaners die benaming “Afrikaners” vir hulleself toe-eien, word dit as “rassisme” geëtiketteer. Dit is hier waar alle nie-verloopte Afrikaners ‘n streep behoort te trek. In die nuwe Suid-Afrika is ons reeds van genoeg ontsê en van oorgenoeg beroof. Ons moet nie toelaat dat ons eiesoortige kulturele benaming, te wete “Afrikaners”, ook van ons weggeneem word nie. Dit is ons “demokratiese reg” om soos die ander etniese groepe self te besluit watter benaming ons welgeval.

Marius Redelinghuys

Nothnagel is ‘n oud-NP-ondersteuner, wat daarna ‘n wyle lank ‘n ANC-entoesias was. Na ontgogeling het hy aansluiting by die DA gesoek. Sy soort manteldraaiery is nie uniek nie. Hiervan getuig die brief van Marius Redelinghuys (gebore in 1987), een van die DA se nasionale woordvoerders (Die Burger, 15 Junie, p 12). Hy was voorheen lid van Cope (2009-2011) en het in 2014 met Steven Hussey getrou. Is hierdie (waarskynlik permanent kinderlose) gesin se huistaal Afrikaans? ‘n Steven Hussey maak op die internet voorbrand vir homoseksualiteit.

Redelinghuys begin sy brief soos volg: “Dit het my baie jare van my jeug geneem om myself met my Afrikaanse en Afrikaner-herkoms te versoen. Ek kon dit nie ontsnap of vermy nie.” Het hy werklik al van vroeg af begeer om hom van sy Afrikanerskap te distansieer, of het hy daardie twee sinne by nabaat geskryf omdat dit nou in bv die DA mode is ‘n nie-Afrikaner te probeer wees?

Hy het later besef “dat daar twee dinge is … wat my altyd sal volg: Afrikaanswees en die politiek” – blykbaar nie ook Afrikanerwees nie. “Dit was makliker om my by die politiek te berus, maar om my herkoms, my identiteit, kultuur en taal te aanvaar, was ‘n stryd.” By Redelinghuys is daar dus nie vanselfsprekende lojaliteit en entoesiasme vir Afrikanerskap nie, want hy het selfs met die blote aanvaarding hiervan gesukkel. Wat myns insiens in die nuwe Suid-Afrika opval, is dat homoseksuele geneig is om hulle van hulle Afrikaner-wortels los te maak.

“Tweedens het ek ook grootgeword in ‘n tydperk van die Suid-Afrikaanse geskiedenis waartydens wit mense hul eie skuldgevoelens moes hanteer, en soms laat voel is dat ons nie in Suid-Afrika inpas of behoort nie.” Daar is sekerlik baie Afrikaners wat geen (beduidende) skuldgevoelens ervaar nie. Hulle erken dat geen politieke stelsel volmaak is nie en dat die ANC-regering (en die DA) in baie opsigte moreel, asook in ander opsigte, slegter as die Nasionale Party- (NP-) regering vaar.

“Dit was dus makliker om skuins te trek en my soveel moontlik van die Afrikaner-identiteit te probeer distansieer, uit skuldgevoelens en veral die heersende geloof dat daar Een Taal, Een Volk en Een God is.” Die waarheid is dat die NP deurgaans veelvolkigheid en twee amptelike tale (Afrikaans en Engels) erken het. Dit is in die nuwe Suid-Afrika dat die ANC en die DA een Suid-Afrikaanse volk en effektief een taal (Engels) begeer. Is Redelinghuys se skuldgevoelens suiwer polities geïnspireer, of speel seksualiteit hier ook ‘n rol? Oorweeg die moontlike rol van hierdie twee faktore (politiek en seksualiteit) in wat volg.

“Ek het nie ingepas nie; ek het nie gemaklik gevoel nie, en ek het geskop teen die idee dat wie ek moet wees, wat ek moet nastreef en wat ek moet glo, deur ander gedefinieer moet word.” Insgelyks wil ek nie toelaat dat Nothnagel en soortgelykes besluit dat ek myself nie ‘n Afrikaner, ‘n lid van ‘n blanke groep/volk/nasie mag noem nie. Ek ontken ook dat dit met reg “rassisties” genoem kan word.

“Ek het ‘n keerpunt ervaar in my laat tienerjare toe ek blootgestel is aan Ingrid Jonker, Karen Zoid, Elsabé Zietsman en Amanda Strydom. Hier was mense wat my taal praat – letterlik en figuurlik – en wat ‘anders’ was. Hulle het hul herkoms, hul taal, omarm en hul eie, unieke sienswyse, ervarings en ideale daarin en daardeur uitgedruk. Dit het duidelik geraak dat ek Afrikaans en Afrikaner kan wees én boonop trots daarop kan wees.” Dit lyk na ‘n erg afgewaterde/verloopte vorm van Afrikanerskap. Afgesien van die genoemde viertal se geneigdheid tot linkse politiek, kan hierdie vraag gestel word: Is dit toevallig dat uitsluitlik na vroue verwys word? Op die internet word Hussey die man/”husband” van Redelinghuys genoem.

[• By Elsabé Brits, ‘n joernalis wat dikwels in Die Burger publiseer, kom ‘n variasie hiervan voor. Sy noem haarself die man van die vrou waarmee sy getroud is. Oor dekades het ek bepaalde waardes ontwikkel waarvan dit moeilik is om af te sien. Ek besef dat nadat ons hele samelewing in die jare negentig omgedop is (soos Karel Schoeman* dit stel), daar op ‘n helvaart gegaan is. Daar word bv deesdae van ons as beskaafde Europeërs verwag om groot waardering te hê vir die gewelddadigheid en misdadigheid van die “bevrydingstryd”, asook vir die geweldenaars en misdadigers wat sedertdien knus in hoë en daarby buitensporig lonende poste sit. Uit my perspektief was en is dit ‘n abnormalisering van die samelewing. ANC-kamerade en hulle meelopers, insluitende verloopte Afrikaners, beskou “ons jong demokrasie” egter as ‘n normalisering; veral diegene wat daardeur bevoordeel word. Deel van hierdie “regstelling” was dat die normaliteit van homoseksualiteit amptelik erken is. Maar ek bly geheg aan die kultus van die gewone en normale soos wat ek dit in die ou Suid-Afrika leer ken en waardeer het; elementêre, basiese dinge soos dat daar twee geslagte (mans en vroue) is en dat getroude pare van verskillende geslagte is en kinders kan kry. Brits beweer egter: “Dit is geheel en al naïef om te beweer ‘n kind moet ‘n man en vrou as ouers hê” (Die Burger, By, 13 Junie, p 11). Wat ek billikheidshalwe in die nuwe bedeling verwag, is dat wanneer iemand soos Brits in artikel na artikel homoseksualiteit loof Die Burger darem die sensitiwiteit en integriteit behoort te hê om openlik aan sy lesers die outeur se persoonlike belang by die saak te verklaar. Waarom loof die hoofstroommedia enersyds eerder rasse-integrasie as rasse-segregasie en andersyds eerder homoseksualiteit as heteroseksualiteit? Dui dit nie op dekadensie, oftewel geestelike verrotting, nie? Daar word meer lofsange vir homoseksuele as ‘n minderheidsgroep as vir blankes en veral Afrikaners aangehef, maar watter groep lewer die grootste bydrae tot die heil van die land?

  • Na die publikasie van Brits se artikel het die linkse Christi van der Westhiuizen ‘n lofsang aangehef vir die Iere wat in ‘n referendum huwelike tussen mense van dieselfde geslag goedgekeur het. “Die Iere is met reg trots” (Die Burger, 27 Junie, p 11). Daarna gebruik sy politieke retoriek. Homoseksuele is glo te na gekom, het ‘n pynlike geskiedenis, is veronreg, maar nou is daar, ten minste in Ierland, geregtigheid. Toegepas op Suid-Afrika kom sy dan openlik by haar soort politieke propaganda uit: “Die verdoeselde seksuele slagoffers van apartheid moet erkenning kry.” Haar persoonlike belang by homoseksualiteit word egter ook verdoesel.
  • Frits Gaum bepleit verdraagsaamheid, geregtigheid en menswaardigheid vir homoseksuele (Rapport, Weekliks, 28 Junie, p 11). Soos gebruiklik ignoreer hy iedere Bybelteks oor hierdie saak. Sy persoonlike belang, naamlik dat hy ten behoewe van sy homoseksuele seun pleit, word verswyg.
  • Die algemene moderator van die NG Kerk, Nelus Niemandt, wil die NG Kerk oopgooi vir nie-selibaat, homoseksuele predidante. Ook: “My hoop is dat lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele [oriëntasies] genormaliseer sal word [binne die kerk]”(Die Burger, 1 deser, p 1). Dalk koester hy die ydele hoop dat hy die heilige doop aan LGBT-pare kan bedien. As mode-vraat ignoreer Niemandt iedere Bybelteks oor hierdie saak.
  • Ten einde die maksimum sensasie uit die jongste vlaag pro-homoseksuele propaganda te trap, het Die Burger (2 deser, p 1) Laurie Gaum, Frits se predikantseun, om kommentaar genader. Hy beskryf sy seksuele oriëntasie as ‘n “gawe”.
    (*Schoeman se naam word nie om dowe neute hier opgehaal nie, maar ek het groot respek vir hom as literator en navorser.)]

Redelinghuys gaan soos volg voort: “Ek het meer begin nalees oor Beyers Naudé, Bram Fischer, Max du Preez, Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis.” Hiermee word die geslagsewewig herstel deur uitsluitlik na mans te verwys, hoewel Kerkorrel openlik homoseksueel was. Hiermee word die politieke ewewig egter nie herstel nie. Al vyf was/is verloopte of nie-Afrikaners.

“Vandag is ek trots op my taal; ek het met my herkoms en die rol van my mense geworstel en besluit om my Afrikaanswees, ons unieke karaktereienskap en vermoë, aan te wend om ‘n bydrae te lewer tot ‘n Suid-Afrika waar alle mense ‘n voorspoedige, gelukkige en veilige lewe kan nastreef en in vreedsaamheid en verdraagsaamheid kan leef.” Hoeveel kom in die nuwe Suid-Afrika van ‘n “veilige lewe” en “vreedsaamheid” tereg? Hulle is uitdagings (die ANC se “challenges”) en hersenskimme (“iets wat net in die verbeelding kan bestaan” – HAT). Hoeveel verdraagsaamheid is daar werklik as die staatshoof, Jacob Zuma, Jan van Riebeeck as die oerbron en die “Ander” (die blankes) as die oorsaak van al die land se probleme uitwys? Redelinghuys sê hy het hom met sy Afrikaanswees versoen; iets wat seker volg uit die feit dat hy deur die DA as Afrikaanse woordvoeder gebruik word. Iemand anders funksioneer as die DA se Engelse woordvoerder.

Redelinghuys sluit sy brief soos volg af: “Dit is dus vir my hartseer – tragies – dat daar sommige Afrikaanssprekendes en Afrikaners is wat nou skuinstrek, of dalk hul ware kleure wys. Mense soos Steve Hofmeyr en Sunette Bridges wat die platform wat aan hul verskaf word, misbruik om rassehaat, verdeeldheid, vrees en onverdraagsaamheid aan te stook.” Dit is nie mense soos Hofmeyr en Bridges wat “skuinstrek” nie. Dit is veel eerder Redelinghuys wat ‘n skewe siening het. Die fundamentele verskil is tussen mense wat regte of nie-verloopte Afrikaners is en diegene wat teen die tradisionele, behoudende Afrikaners gedraai en in die eerste plek nuwe Suid-Afrikaners en Afrikane geword het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.