Gay huwelike: Anti-Westerse verskynsel wat geen gemeenskap dien

Deel op

‘n Onderwerp waarvan die meeste van ons hier seker nie eers wil hoor nie, is dié van “huwelike” tussen persone van dieselfde geslag, oftewel homoseksuele wat in die eg verbind word. Tog mag daar diegene wees wat dit interessant sal vind om ‘n paar gedagtes te wissel oor die oorsprong en aard van die huwelik, ‘n instelling wat ten slotte oor baie eeue heen, ‘n hoeksteen van ons beskawing en lewenswyse was.

In die meeste Westerse lande is die tradisionele huwelik onder druk en die homoseksuele “huwelik” in opmars. Almal ken seker die grappie, “deesdae is die enigste mense wat nog wil trou, priesters en homoseksuele”. In Suid-Afrika het hierdie nuwe verskynsel natuurlik nou ook posgevat, maar hier bestaan die nare vermoede dat dit maar net nog ‘n middel is om ons Westerse beskawing, kultuur en lewenswyse ‘n slag toe te dien.

Die tema van homoseksuele huwelike is een waaroor nugtere besinning bykans onmoontlik is en waar rasionalitiet en logika gou plek maak vir histerie. Die probleem is naamlik dat enige kritiek op die homoseksuele huwelik as instelling, sondermeer gesien word as ‘n aanval teen homoseksueles as sulks. (Hulle noem dit homofobie). Daar mag wel persone wees wat homoseksuele huwelike verwerp omdat hulle nie van homoseksuele hou nie, maar dit is geen argument waarmee sulke huwelike as instelling geregverdig kan word nie. Argumente vir of teen moet elders gesoek word. Want ‘n nuwe instelling is dit wel.

Laat my dadelik byvoeg dat ek persoonlik gekant is teen homoseksuele huwelike, en waarskynlik tot ‘n oorweldigende meerderheid behoort in Suid-Afrika, wit en swart, wat so voel.

In die Westerse wêreld is die huwelik as instelling gedeeltelik van Bybelse-, maar hoofsaaklik van antieke Grieks- en hoofsaaklik Romeinsregtelike oorsprong. Nêrens maak die bronne van ons huweliksreg, wat terug te voer is oor etlike duisende jare, melding van enigiets soos ‘n “huwelik” tussen twee mense van dieselfde geslag nie.

Wat betref die Bybelse oorsprong vind ons so vroeg as Genesis 1 en 2 die volgende : “En God het die mens geskape na sy beeld ; man en vrou. En God het hulle geseën en vir hulle gesê : Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde.”

En dan ook: “Daarom sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef.” Oor die spesifieke prosedures vir die totstandkoming van die huwelik word niks gesê nie. Waarskynlik was daar in die Bybelse voorskrifte, soos trouens deur die hele antieke tydperk, geen vereistes ten opsigte van formalitete en seremonies, ens nie. ‘n Man en ‘n vrou was in die huwelik verbind as hulle saamgewoon het met die bedoeling om permanent trou aan mekaar te wees. En daarmee uit en gedaan.

Die gedagte dat die huwelik ‘n instelling van die Kerk is, kom uit die Middeleeue toe die Katolieke Kerk die rol van huweliksbevestiger vir homself toegeëien het. Van belang is dat toe dit gebeur het, daar geen onderskeid was tussen kerk en staat nie. Die kerk was die staat en die staat was die kerk. In die latere Europese geskiedenis en veral na die Franse rewolusie het daar ‘n duidelike skeiding tussen die kerk en die staat ingetree met die kerk in ‘n ondergeskikte rol.

Vandag in Frankryk en die meeste ander Europese lande is daar dikwels twee huweliksplegtighede, die een voor ‘n burgemeester, as verteenwoordiger van die staat en die ander in die kerk. Die enigste formaliteit met regsbetekenis is dié voor die burgemeester en die plegtigheid in die kerk is meesal weinig meer as ‘n geleentheid vir die bruid om haar mooi rokkie aan te trek en foto’s te neem.

Homoseksuele kan dus in Frankryk nie in die kerk trou nie, in elk geval nie in die Katolieke Kerk nie, want die hulle erken nie homoseksuele huwelike nie. Hulle kan egter wel voor die burgemeester “trou”.
In die geskiedenis van die Rome was die huwelik as instelling bykans identies met die Romeinse beskawing self.

Hoewel daar geen voorskrifte ten opsigte van formaliteite was nie, het die Romeine die hoogste waarde geheg aan die huwelik en die familielewe. Egskeidings, hoewel later toegelaat, was as onwenslik beskou en het selde voorgekom.

Klinkklaar duidelik is steeds dat die huwelik ‘n instelling was bedoel vir ‘n man en ‘n vrou. Die Latynse woord vir huwelik is, soos ons weet, matrimonium. Wat miskien minder bekend is, is dat die term matrimonium afkomstig is van “mater” wat beteken moeder. Dit is dus duidelik dat dit die bedoeling was om deur die huweliksbegrip ‘n gesinsverband te skep waarin kinders verwek en gebore word.

‘n Lewensverbintenis waarin hierdie bedoeling nie moontlik is nie, kan dus logieserwys nie ‘n huwelik wees nie. Dit kan wel iets anders wees en daar kan regsgevolge van allerlei aard daaruit voortvloei, veral gevolge van vermoënsregtelike aard (dws onderlinge onderhoudsplig, die reg om testamentêr of intestaat van mekaar te erf, ens), maar ‘n huwelik kan dit nie wees nie, want dit beantwoord eenvoudig nie aan die definisie van ‘n huwelik nie.

Dit verg terloops nie veel verbeeldingskrag nie om in te sien dat die verrotting van die Westerse beskawing ten nouste verbonde is met die verval van die gesins- en huwelikslewe wat ons tydvak kenmerk.

Daar word dikwels geargumenteer dat homoseksueles nie kinders kan verwek nie, maar dat hulle wel kinders kan aanneem en dat die verhouding tussen aangenome kinders en hulle ouers regtens in elke opsig identies is as in die geval van natuurlike kinders.

Dit is so, maar die kinders wat homoseksueles aanneem, word nog steeds verwek deur die samekoms van ‘n man en ‘n vrou, as ‘n mens nou snaaksighede soos proefbuisbabas en surrogaatmoeders buite rekening laat. In ‘n huwelik, ‘n lewensverbintenis tussen ‘n man en ‘n vrou, bestaan daar minstens die hoop of die verwagting of die moontlikheid dat kinders gebore sal word en as kinders dan nou nie verwek word nie, bly hulle nietemin man en vrou in die volle en letterlike sin van die woord.

Nou is daar ook ‘n argument wat lui: Waarom laat ‘n mens hulle nie maar begaan nie. Dis mos hulle saak. Hulle doen tog eintlik geen kwaad nie en dit kos jou mos niks nie. Wees verdraagsaam, leef en laat leef. ‘n Mens sou natuurlik dieselfde kon kwytraak oor huwelike tussen bloedverwante of tussen kinders en selfs met diere, waarom nie?

In Denemarke is onlangs wetgewing aangeneem om geslagtelike omgang met diere te verbied. In Denemarke is dit dus nodig om geslagtelike verkeer met diere deur wetgewing te verbied. Hierdie is ekstreme voorbeelde, komende uit ‘n dekadente samelewing maar illustreer hopelik die punt: Huwelike en geslagsverhoudings in die algemeen, word gereël deur die staat en die staat tree op in die openbare belang. Daar is net nie so iets soos algehele vryheid van keuse wat hierdie aangeleenthede betref nie. Die staat dwing af wat in die gemeenskaplike belang is. Almal mag dit nie weet nie, maar in Suid-Afrika byvoorbeeld, is die instansie wat mense in die huwelik bevestig, die staat. Die predikant wat die huwelik voltrek, tree op as verteenwoordiger van die staat. Hy is inderdaad ‘n huweliksbeampte. Die knelvraag is dus: Is homoseksuele huwelike in die gemeenskaplike belang? Ek dink van nee en dermiljoene mense oor duisende jare sou dit ten seerste beaam.

Miskien is die belangrikste rede waarom homoseksuele eg verwerplik is, dat die huweliksinstelling wat ons respekteer en wat vir ons belangrik en waardevol is, gedevalueer word deur hierdie parodie van ‘n huwelik wat geen ware huwelik is nie. As ‘n regsverband tussen mense geskep word wat die uiterlike voorkoms van ‘n “huwelik” het, maar wat geen huwelik is of kan wees nie, dan maak dit ‘n bespotting van die instelling.

Samevattend is die eerste en belangrikste – miskien die enigste – vereiste vir die bestaan van ‘n huwelik dat dit ‘n verbintenis moet wees tussen ‘n man en ‘n vrou. Die oorspronklike gedagte, was en is nog steeds dat die huwelik die beste raamwerk daarstel waarbinne kinders gebore kan word en ‘n stabliele, ewewigtige opvoeding kan ontvang waardeur ook die belang van die samelewing as geheel gedien word.

Die verwekking van kinders hoewel wesenlik, is nie die deurslaggewend nie. Die deurslaggewende faktor is dat ‘n huwelik bestaan tussen ‘n man en ‘n vrou. Hierdie siening is nie vyandig teenoor homoseksuele nie. Laat hulle hulle lewe lei soos hulle goed dink. Maar die huwelik is nou enemaal nie vir hulle bedoel nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.