Leon Lemmer: Albert Nothnagel en Marius Redelinghuys oor Afrikanerskap

Die volgende brief, wat ek volledig aanhaal, is deur Albert Nothnagel van Mosselbaai geskryf en in Die Burger (13 Junie, p 11) gepubliseer:

“Die speaker van die Nasionale Vergadering beslis nou dat ons almal Afrikane is en so staan dit op die voorblad van Die Burger, 11 Junie.

“Indien my geheue my nie in die steek laat nie, was dit op dieselfde plek waar Die Burger jare terug aangekondig het dat hulle groep voortaan die woord ‘Afrikaan’ gaan gebruik.

“In die Afrikaanse taal noem ons alle mense in SA al jare lank ‘Suid-Afrikaners’. Dus as ons die ‘Suid’ wegneem, was alle mense in Suid-Afrika reeds van toentertyd af ‘Afrikaners’. So is alle mense in Nigerië ook Afrikaners, dws Afrikaners wat in Wes-Afrika woon – ‘Wes-Afrikaners’.

“Die woorde ‘Suid-Afrikaners’ in Engels vertaal as ‘South Africans’. Dit het nooit enige mens uitgesluit nie en nooit aanstoot gegee nie.

“Die moeilikheid het gekom toe ons van die woord ‘Afrikaner’ ‘n wit eksklusiewe Afrikaanse mens, ‘n uitverkorene, gemaak het. Gode sy dank die WAT skryf nou as eerste definisie van ‘Afrikaner’ as rassisties en verouderd wit Afrikaanssprekende. Die Internasionale Etimologiese woordeboek Harpers Etymology online beskryf ‘Africaander’ as ‘n mens wat in Afrika woon. Dit was die oorsprong van die Nederlandse woord ‘Africaander’ nav ‘Englander’ en ‘Deutchlander’.

“Kom ons almal wees net wat ons eintlik was en steeds is, sonder apartheid, nl ‘Afrikaners’ – inwoners van Afrika.”

Nothnagel dink klaarblyklik dat hy met onfeilbare logika redeneer. Aangesien ons hier met terminologie te make het, moet ek daarop wys dat die joernalistieke term “voorblad” vir “front page” streng gesproke foutief is. ‘n Blad (“leaf”) het ‘n voor- en ‘n agterkant, ‘n recto en ‘n verso/keersy. ‘n Bladsy (“page”) dui op net een sy of kant van ‘n blad.

Nog ‘n probleem wat ek met Nothnagel se brief het, is dat die berig waarna hy verwys in my uitgawe van Die Burger (11 Junie) nie op die voorbladsy verskyn nie, maar op bladsy 5. Dit is Corné Mulder van die VF+ wat beweer het dat almal in die Nasionale Vergadering Afrikane is. Mmatlala Boroto, die voortsitster, het beslis: “Almal in die huis is Afrikane. Ek sien geen verskil nie.”

Hierdie laaste sin is die kern van die saak: die ontkenning van verskille, die sug na gelykmaking, die poging tot gelyk- en selfs eendersverklaring, gedwonge rasse-integrasie, die begeerte na inklusiwiteit (wanneer dit die nuwe maghebbers pas). Nothnagel ly sedert die koms van die nuwe Suid-Afrika erg aan oorverligtheid. As oud-lid van die Nasionale Party het hy hom aanvanklik by die ANC geskaar en was hy sterk teen die DA van Tony Leon gekant. Hy het die ydele hoop gekoester dat die ANC-regering sy ambassadeurskap in Nederland sou verleng. Daarna het hy toenadering tot die DA gesoek. Hy beskryf homself as ‘n “white child of black Africa”, soos ek voorheen aangedui het (Praag 3.05.2014), toe hy met feitlik dieselfde storie as in sy jongste brief vorendag gekom het.

In sy vorige brief (Die Burger, 3.05.2014, p 11) het Nothnagel beweer:”Enigeen wat hom vandag beywer vir die regte van wit Afrikaners, in groepsverband, sit steeds in die ou moeras van rassisme vas … Op sy beste is wit Afrikaners wat hulself vandag nog eksklusief Afrikaners noem, outyds en op sy akkuraatste rassisties.” Omdat hy die term “rassisties” so vryelik gebruik, hou Nothnagel daarvan dat die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) beweer dat die gebruik van die term “Afrikaner” eksklusief vir wit mense rassisties is. Die twee gebruike van “Afrikaner” wat deur die WAT goedgekeur word, is: “iemand met Afrikaans as huistaal” (dus wittes, bruines, swartes en Asiate) en “iemand wat in Afrika gebore is” (waarvoor myns insiens eerder die term “Afrikaan” gebruik behoort te word). Wat ons hier mee te make het, is dat die WAT en Nothnagel ons ook van ons etnies-kulturele naam wil beroof. Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) huldig dieselfde standpunt. “Afrikaner” beteken: “Persoon wat Afrikaans is deur geboorte of afstamming, veral iemand wat Afrikaans as moedertaal het.” Die onderliggende taboe is dat ons nie op etnies-kulturele gronde tussen wit, bruin, swart en Asiaat mag onderskei nie, al doen die “nie-rassistiese” ANC dit daagliks in die uitvoering van sy beleid van verbete rassediskriminasie teen veral die blankes.

Ooreenkomste by mense word deur Nothnagel oorbeklemtoon terwyl verskille, indiwidueel en groepgewys, eintlik (soos ook deur Boroto) ontken word. Maar dit is ‘n feit dat dit vir mense onmoontlik is om te funksioneer tensy onderskeide getref word. Hiermee word nie geïmpliseer dat ‘n mens ter benadeling op grond van bv ras of kleur moet onderskei of diskrimineer (soos die ANC so graag doen) nie. Ter inligting van homself kan die oorverligte Nothnagel gerus so objektief moontlik vasstel met wie hy daagliks op gelyke vlak sosiaal verkeer. Dit sal seker hoofsaaklik met mense wees wat dieselfde kleur, kultuur en taal as hyself het. Dan sal hy besef dat Afrikaanssprekende blankes in beduidende opsigte anders as bv swart Suid-Afrikaners is. Daardie blankes word in die omgang “Afrikaners” genoem, al sou ek graag die betekenis van die term tot nie-verloopte Afrikaners wou beperk en Nothnagel dus uitsluit.

Kortom, in Afrikaans en Engels word daar tereg na Afrikaanssprekende blankes as “Afrikaners” verwys, terwyl swart mense in Suid-Afrika en in die res van Afrika “Afrikane/Africans” genoem word. Hierdie onderskeid is nie ter benadeling nie, maar is kultureel nodig omdat Afrikane baie meer met hulle swart broers en susters in die res van Afrika as met Afrikaners en ander blankes gemeen het. Die motief vir hierdie Afrikaner/Afrikaan-onderskeid is nie om “aanstoot” te gee soos Nothnagel beweer nie. Die enigste assosiasie met die term “Afrikaner” wat sekerlik verouderd is, is dié van “uitverkorene”. As Afrikaners as volk/nasie Judaïes of Bybels uitverkore was, sou die roemlose, mandaadlose oorgawe aan ongebreidelde swart mag nie oor ons weg gekom het nie.

Daar is ook so iets soos prioriteite by mense, of verskillende rolle wat elkeen vertolk. In daardie konteks is ‘n blanke Afrikaanssprekende (soos ek) in die eerste plek ‘n Afrikaner, in die tweede plek ‘n Suid-Afrikaner en in die derde plek (as dit werklik moet) van Afrika, dus ‘n Afrikaan. As Afrikaner is my probleem met Suid-Afrikanerskap dat ek my nie kan versoen met die aard van die nuwe Suid-Afrika en die manier waarop dit aan (nie-verloopte) Afrikaners opgedring is nie. My hartstogtelike verbintenis met Suid-Afrikanerskap is van ‘n historiese (voor 1994) aard. As Afrikaner is my probleem met Afrikaanskap dat my kulturele wortels eerder in Europa as in Afrika lê. In hierdie onhervormbare, Bybelse sin is ek in Afrika maar nie van Afrika nie.

In Amerika het die swartes voorgeskryf dat hulle nie meer “negers” genoem wil word nie. Hulle verkies om “Blacks” of “Afro-Americans” genoem te word. In Suid-Afrika het die swartes, bruines en Asiate/Indiërs elk besluit wat hulle genoem wil word en ook wat iedere indiwidu of groep nie genoem mag word nie. As iemand (in die praktyk eintlik net wittes) dit waag om ‘n historiese etniese term te gebruik wat nie-wittes nie goedkeur nie, word dit sonder meer as “rassisme” geag.

Die huidige situasie van die blankes is (soos in so baie ander opsigte) glad nie so gunstig soos dié van die drie ander etniese groepe nie. Blankes en veral Afrikaners kan enigiets toegesnou word sonder dat dit as rassisties gebrandmerk word. Dit maak nie saak met hoeveel venyn en haat dit gedoen word nie. Maar die benadeling van Afrikaners strek verder. Soos Nothnagel en die redakteurs van die WAT en HAT aantoon, word voorgeskryf dat Afrikaanssprekende blankes nie self mag besluit wat hulle hulleself noem nie. Indien Afrikaners die benaming “Afrikaners” vir hulleself toe-eien, word dit as “rassisme” geëtiketteer. Dit is hier waar alle nie-verloopte Afrikaners ‘n streep behoort te trek. In die nuwe Suid-Afrika is ons reeds van genoeg ontsê en van oorgenoeg beroof. Ons moet nie toelaat dat ons eiesoortige kulturele benaming, te wete “Afrikaners”, ook van ons weggeneem word nie. Dit is ons “demokratiese reg” om soos die ander etniese groepe self te besluit watter benaming ons welgeval.

Marius Redelinghuys

Nothnagel is ‘n oud-NP-ondersteuner, wat daarna ‘n wyle lank ‘n ANC-entoesias was. Na ontgogeling het hy aansluiting by die DA gesoek. Sy soort manteldraaiery is nie uniek nie. Hiervan getuig die brief van Marius Redelinghuys (gebore in 1987), een van die DA se nasionale woordvoerders (Die Burger, 15 Junie, p 12). Hy was voorheen lid van Cope (2009-2011) en het in 2014 met Steven Hussey getrou. Is hierdie (waarskynlik permanent kinderlose) gesin se huistaal Afrikaans? ‘n Steven Hussey maak op die internet voorbrand vir homoseksualiteit.

Redelinghuys begin sy brief soos volg: “Dit het my baie jare van my jeug geneem om myself met my Afrikaanse en Afrikaner-herkoms te versoen. Ek kon dit nie ontsnap of vermy nie.” Het hy werklik al van vroeg af begeer om hom van sy Afrikanerskap te distansieer, of het hy daardie twee sinne by nabaat geskryf omdat dit nou in bv die DA mode is ‘n nie-Afrikaner te probeer wees?

Hy het later besef “dat daar twee dinge is … wat my altyd sal volg: Afrikaanswees en die politiek” – blykbaar nie ook Afrikanerwees nie. “Dit was makliker om my by die politiek te berus, maar om my herkoms, my identiteit, kultuur en taal te aanvaar, was ‘n stryd.” By Redelinghuys is daar dus nie vanselfsprekende lojaliteit en entoesiasme vir Afrikanerskap nie, want hy het selfs met die blote aanvaarding hiervan gesukkel. Wat myns insiens in die nuwe Suid-Afrika opval, is dat homoseksuele geneig is om hulle van hulle Afrikaner-wortels los te maak.

“Tweedens het ek ook grootgeword in ‘n tydperk van die Suid-Afrikaanse geskiedenis waartydens wit mense hul eie skuldgevoelens moes hanteer, en soms laat voel is dat ons nie in Suid-Afrika inpas of behoort nie.” Daar is sekerlik baie Afrikaners wat geen (beduidende) skuldgevoelens ervaar nie. Hulle erken dat geen politieke stelsel volmaak is nie en dat die ANC-regering (en die DA) in baie opsigte moreel, asook in ander opsigte, slegter as die Nasionale Party- (NP-) regering vaar.

“Dit was dus makliker om skuins te trek en my soveel moontlik van die Afrikaner-identiteit te probeer distansieer, uit skuldgevoelens en veral die heersende geloof dat daar Een Taal, Een Volk en Een God is.” Die waarheid is dat die NP deurgaans veelvolkigheid en twee amptelike tale (Afrikaans en Engels) erken het. Dit is in die nuwe Suid-Afrika dat die ANC en die DA een Suid-Afrikaanse volk en effektief een taal (Engels) begeer. Is Redelinghuys se skuldgevoelens suiwer polities geïnspireer, of speel seksualiteit hier ook ‘n rol? Oorweeg die moontlike rol van hierdie twee faktore (politiek en seksualiteit) in wat volg.

“Ek het nie ingepas nie; ek het nie gemaklik gevoel nie, en ek het geskop teen die idee dat wie ek moet wees, wat ek moet nastreef en wat ek moet glo, deur ander gedefinieer moet word.” Insgelyks wil ek nie toelaat dat Nothnagel en soortgelykes besluit dat ek myself nie ‘n Afrikaner, ‘n lid van ‘n blanke groep/volk/nasie mag noem nie. Ek ontken ook dat dit met reg “rassisties” genoem kan word.

“Ek het ‘n keerpunt ervaar in my laat tienerjare toe ek blootgestel is aan Ingrid Jonker, Karen Zoid, Elsabé Zietsman en Amanda Strydom. Hier was mense wat my taal praat – letterlik en figuurlik – en wat ‘anders’ was. Hulle het hul herkoms, hul taal, omarm en hul eie, unieke sienswyse, ervarings en ideale daarin en daardeur uitgedruk. Dit het duidelik geraak dat ek Afrikaans en Afrikaner kan wees én boonop trots daarop kan wees.” Dit lyk na ‘n erg afgewaterde/verloopte vorm van Afrikanerskap. Afgesien van die genoemde viertal se geneigdheid tot linkse politiek, kan hierdie vraag gestel word: Is dit toevallig dat uitsluitlik na vroue verwys word? Op die internet word Hussey die man/”husband” van Redelinghuys genoem.

[• By Elsabé Brits, ‘n joernalis wat dikwels in Die Burger publiseer, kom ‘n variasie hiervan voor. Sy noem haarself die man van die vrou waarmee sy getroud is. Oor dekades het ek bepaalde waardes ontwikkel waarvan dit moeilik is om af te sien. Ek besef dat nadat ons hele samelewing in die jare negentig omgedop is (soos Karel Schoeman* dit stel), daar op ‘n helvaart gegaan is. Daar word bv deesdae van ons as beskaafde Europeërs verwag om groot waardering te hê vir die gewelddadigheid en misdadigheid van die “bevrydingstryd”, asook vir die geweldenaars en misdadigers wat sedertdien knus in hoë en daarby buitensporig lonende poste sit. Uit my perspektief was en is dit ‘n abnormalisering van die samelewing. ANC-kamerade en hulle meelopers, insluitende verloopte Afrikaners, beskou “ons jong demokrasie” egter as ‘n normalisering; veral diegene wat daardeur bevoordeel word. Deel van hierdie “regstelling” was dat die normaliteit van homoseksualiteit amptelik erken is. Maar ek bly geheg aan die kultus van die gewone en normale soos wat ek dit in die ou Suid-Afrika leer ken en waardeer het; elementêre, basiese dinge soos dat daar twee geslagte (mans en vroue) is en dat getroude pare van verskillende geslagte is en kinders kan kry. Brits beweer egter: “Dit is geheel en al naïef om te beweer ‘n kind moet ‘n man en vrou as ouers hê” (Die Burger, By, 13 Junie, p 11). Wat ek billikheidshalwe in die nuwe bedeling verwag, is dat wanneer iemand soos Brits in artikel na artikel homoseksualiteit loof Die Burger darem die sensitiwiteit en integriteit behoort te hê om openlik aan sy lesers die outeur se persoonlike belang by die saak te verklaar. Waarom loof die hoofstroommedia enersyds eerder rasse-integrasie as rasse-segregasie en andersyds eerder homoseksualiteit as heteroseksualiteit? Dui dit nie op dekadensie, oftewel geestelike verrotting, nie? Daar word meer lofsange vir homoseksuele as ‘n minderheidsgroep as vir blankes en veral Afrikaners aangehef, maar watter groep lewer die grootste bydrae tot die heil van die land?

  • Na die publikasie van Brits se artikel het die linkse Christi van der Westhiuizen ‘n lofsang aangehef vir die Iere wat in ‘n referendum huwelike tussen mense van dieselfde geslag goedgekeur het. “Die Iere is met reg trots” (Die Burger, 27 Junie, p 11). Daarna gebruik sy politieke retoriek. Homoseksuele is glo te na gekom, het ‘n pynlike geskiedenis, is veronreg, maar nou is daar, ten minste in Ierland, geregtigheid. Toegepas op Suid-Afrika kom sy dan openlik by haar soort politieke propaganda uit: “Die verdoeselde seksuele slagoffers van apartheid moet erkenning kry.” Haar persoonlike belang by homoseksualiteit word egter ook verdoesel.
  • Frits Gaum bepleit verdraagsaamheid, geregtigheid en menswaardigheid vir homoseksuele (Rapport, Weekliks, 28 Junie, p 11). Soos gebruiklik ignoreer hy iedere Bybelteks oor hierdie saak. Sy persoonlike belang, naamlik dat hy ten behoewe van sy homoseksuele seun pleit, word verswyg.
  • Die algemene moderator van die NG Kerk, Nelus Niemandt, wil die NG Kerk oopgooi vir nie-selibaat, homoseksuele predidante. Ook: “My hoop is dat lesbiese, gay, biseksuele en transseksuele [oriëntasies] genormaliseer sal word [binne die kerk]”(Die Burger, 1 deser, p 1). Dalk koester hy die ydele hoop dat hy die heilige doop aan LGBT-pare kan bedien. As mode-vraat ignoreer Niemandt iedere Bybelteks oor hierdie saak.
  • Ten einde die maksimum sensasie uit die jongste vlaag pro-homoseksuele propaganda te trap, het Die Burger (2 deser, p 1) Laurie Gaum, Frits se predikantseun, om kommentaar genader. Hy beskryf sy seksuele oriëntasie as ‘n “gawe”.
    (*Schoeman se naam word nie om dowe neute hier opgehaal nie, maar ek het groot respek vir hom as literator en navorser.)]

Redelinghuys gaan soos volg voort: “Ek het meer begin nalees oor Beyers Naudé, Bram Fischer, Max du Preez, Johannes Kerkorrel en Koos Kombuis.” Hiermee word die geslagsewewig herstel deur uitsluitlik na mans te verwys, hoewel Kerkorrel openlik homoseksueel was. Hiermee word die politieke ewewig egter nie herstel nie. Al vyf was/is verloopte of nie-Afrikaners.

“Vandag is ek trots op my taal; ek het met my herkoms en die rol van my mense geworstel en besluit om my Afrikaanswees, ons unieke karaktereienskap en vermoë, aan te wend om ‘n bydrae te lewer tot ‘n Suid-Afrika waar alle mense ‘n voorspoedige, gelukkige en veilige lewe kan nastreef en in vreedsaamheid en verdraagsaamheid kan leef.” Hoeveel kom in die nuwe Suid-Afrika van ‘n “veilige lewe” en “vreedsaamheid” tereg? Hulle is uitdagings (die ANC se “challenges”) en hersenskimme (“iets wat net in die verbeelding kan bestaan” – HAT). Hoeveel verdraagsaamheid is daar werklik as die staatshoof, Jacob Zuma, Jan van Riebeeck as die oerbron en die “Ander” (die blankes) as die oorsaak van al die land se probleme uitwys? Redelinghuys sê hy het hom met sy Afrikaanswees versoen; iets wat seker volg uit die feit dat hy deur die DA as Afrikaanse woordvoeder gebruik word. Iemand anders funksioneer as die DA se Engelse woordvoerder.

Redelinghuys sluit sy brief soos volg af: “Dit is dus vir my hartseer – tragies – dat daar sommige Afrikaanssprekendes en Afrikaners is wat nou skuinstrek, of dalk hul ware kleure wys. Mense soos Steve Hofmeyr en Sunette Bridges wat die platform wat aan hul verskaf word, misbruik om rassehaat, verdeeldheid, vrees en onverdraagsaamheid aan te stook.” Dit is nie mense soos Hofmeyr en Bridges wat “skuinstrek” nie. Dit is veel eerder Redelinghuys wat ‘n skewe siening het. Die fundamentele verskil is tussen mense wat regte of nie-verloopte Afrikaners is en diegene wat teen die tradisionele, behoudende Afrikaners gedraai en in die eerste plek nuwe Suid-Afrikaners en Afrikane geword het.

‘n Sielkundige oorlog teen die Afrikaner

danr2deur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Verlede week het ek probeer uitspel watter enorme verliese – ekonomies, kultureel en andersins – Afrikaners oor die afgelope 20 jaar gely het. Dit het ons so byna-byna as volk vernietig, want as dit nie vir die koms van die internet was nie, sou mense nou al so gebreinspoel, gedekultureer en geassimileer gewees het dat daar niks van ons sou oorgebly het nie.

Die mees ideale vorm van volksmoord is immers assimilasie, want daardeur word ‘n volk of etniese groep eenvoudig stil-stil verteer en hul vyande hoef nie eens skuldig te voel dat hulle die ander groep doodgemaak het nie. Dink maar aan die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog of die Armeense volksmoord deur Turkye. Tot vandag toe word nóg die Britte nóg die Turke hiervan kwytgeskeld. Al skryf mense nie aanmekaar daaroor nie, anders as oor die Duitse konsentrasiekampe vir Jode tydens die tweede wêreldoorlog, bly dié gebeure vassteek in die geheuens van veral Afrikaners en Armeniërs. Vele Britte en Turke is ook bewus daarvan en in boeke, films en ander media word dit telkens weer opgehaal.

Dog net soos daar in die fisika vir elke reaksie ‘n teenreaksie is, het die Afrikaner se neerlaag in 1994 ook onvoorsiene gevolge gehad. Ons vyande se meesterplan was min of meer die volgende:

  • Om ons van alle mag en die meeste van ons bates te stroop (hierin het hulle geslaag).
  • Om die oorlog teen Afrikaners deur middel van sielkundige operasies (Eng. PSYOPS) te verhewig (hier onder meer daaroor) om ons sodoende willoos en plooibaar te laat.
  • Om ons taal en erfenis sover moontlik te vernietig deur die onderdrukking van Afrikaans, naamsveranderings, die sloop van geboue (soos nou in Johannesburg), verengelsing van ons instellings, ens.
  • Om ons identiteit verdag te maak (deur die gelykstelling van Afrikanerskap met “rassisme”) en ons hele geskiedenis as “boos” voor te stel (die verskriklike “verlede”).
  • Om vrees by ons in te boesem deur die voortsetting van fisieke terreur (plaasmoorde, huisaanvalle, verkragtings) ten einde die sielkundige operasies te vergemaklik.
  • Om ons op die duur te assimileer en ‘n soort minderwaardige aanhangsel van die Kaapse kleurlinge te maak wat ook hul taal (Kaaps) as oorgangstaal na Engels sal aanvaar. Op hul beurt word die kleurlinge natuurlik insgelyks deur swartes geassimileer soos reeds in hoë mate in die PWV-gebied gebeur het.

Wat is sielkundige operasies?

Onlangs het ek ‘n artikel oor sielkundige operasies (PSYOPS = psychological operations) onder oë gehad. Die artikel is in Engels deur ‘n groep Franse navorsers (Colette Faucher en ander) geskryf; uit die bibliografie blyk dit dat daar reeds heelwat boeke en artikels oor die onderwerp gepubliseer is. Daar word ook gepraat van CIMIC, wat met sielkundige operasies gepaardgaan:

In the context of the stabilization phase of modern conflicts, Civil-Military Cooperation actions (CIMIC) and Psychological actions (PSYOPS), which are actions of influence, are essential and take precedence over combat actions. Both types of actions have effects on info-targets and aim at influencing them by generating in them feelings and behaviors. CIMIC projects through CIMIC advertising and PSYOPS through messages diffusion both conducted by Allied forces. In both cases, the effects are propagated from the direct info-targets to the people they are connected to, directly or indirectly, through the social networks they belong to.

As ons dink aan die geweldige golf van propaganda en sielkundige manipulasie wat daar oor die afgelope twintig jaar teen Afrikaners ontplooi is, is dit helder dat ons midde-in so ‘n “sielkundige operasie” verkeer. Trouens, mens kan dit ‘n sielkundige oorlog noem, want dit is meedoënloos, onophoudelik en omvattend. Dit word op alle vlakke van die samelewing gevoer en behels ons fisieke en geestelike omgewing, asook die diepste aspekte van ons menswees: ons gevoelens, gewaarwordinge, gedrag, norme en waardes, selfs ons werklikheidspersepsie.

Die gewelddadige fase van die Suid-Afrikaanse konflik sou voltrek word in die “Nasionale Demokratiese Revolusie” soos die ANC-SAKP deurgaans daarna verwys. Hoewel die konflik eintlik kort ná 1948 begin het toe dit duidelik geraak het dat daar ‘n hernieude poging deur Afrikaners sou wees om hul verlore soewereiniteit via die 1910-staat terug te kry, sou ek die gewelddadige fase van die konflik tussen 1978 en 1994 plaas.

Waarom 1978? Dit was die jaar waarin die SAKP besoek aan Viëtnam gebring het om die terreur- en intimidasietegnieke van sogenaamde “volksoorlog” (people’s war op Engels) op ons en die vreedsame meerderheid swartes van Suid-Afrika te bemeester. Mao Zedong, die berugte kommunistiese diktator van China, het oorspronklik daarmee begin, maar dit was veral die Noord-Viëtnamese militêre hoof, generaal Vo Nguyen Giap, wat dié kommunistiese doktrine verfyn het. Soos dr. Anthea Jeffery dit in haar boek van 634 bladsye, People’s war – new light on the struggle for South Africa (2009), stel:

The theory of people’s war is clear and relatively simple. This type of revolutionary war does not depend for its success on the clash of competing armies. Neither does it rest upon guerilla attacks, though these provide one ingredient in the whole. People’s war goes far beyond conventional conceptions of warfare, for its principal effort revolves around organisation and communication. It relies heavily on agitation, backed by terror and coercion, while also holding out the promise of a golden future.

Die figure wat Viëtnam in 1978 besoek het, was Oliver Tambo, Joe Modise, Joe Slovo en Alfred Nzo. Die besoek self is deur die voormalige Sowjetunie gefasiliteer, want sedert 1968 het Joe Slovo, Ronnie Kasrils en ander lede van die Suid-Afrikaanse Kommunistepary de facto beheer oor die ANC en sy strategie uitgeoefen. Slovo en Kasrils het noue bande met die Sowjetunie en Oos-Duitsland gehandhaaf en dit was deur hul toedoen dat beide lande die ANC van logistieke, militêre en finansiële hulp voorsien het. Hoewel Swede, Noorweë en Nederland ook in die sewentigerjare begin het om die ANC en SAKP te befonds, was hulle minder by die beplanning en uitvoering van terreur betrokke. Aan die ander kant het individuele Nederlanders soos Klaas de Jonge en Heleen Pastoors vrylik aan terreuraanvalle op Suid-Afrikaanse burgerlikes deelgeneem.

Die Kerkstraatbom, die Amanzimtoti-bom, bomme in Wimpy-restaurante, asook die halssnoermoorde en breë intimidasie van Suid-Afrika se swart bevolking was regstreekse gevolge van die “volksoorlog” tussen 1978 en 1994. Uiteindelik het die Nasionale Party-bewind eerloos voor die Noord-Viëtnamese strategie wat deur Slovo en Kasrils in Suid-Afrika ontplooi is, geswig. Terreur en onstabiliteit is as dwangmaatreëls gebruik om die Nasionale Party op sy knieë te dwing.

Maar, soos die skrywers van bogaande artikel oor sielkundige operasies en “burgerlik-militêre samewerkingsaksies” aantoon, volg daar ná die oorgawe van die vyand ‘n belangrike fase van “stabilisering” deur sulke aksies.

In konvensionele of selfs guerilla-oorlogvoering verteenwoordig lede van die veiligheidsmagte of burgerlikes teikens wat na willekeur aangeval kan word. Die sielkundige sy van die oorlog behels egter dat elke lid van die vyandelike bevolking (in dié geval Afrikaners) “inligtingsteikens” (info-targets) word:

Psychological actions aim at elaborating and spreading out a message that must be read, listened to and understood by the info-targets in order to get the desired effect, that is, influencing the info-targets to get from them the desired behavior by the modification of their attitudes, by acting on their perceptions. (Faucher en ander.)

Boodskappe en propaganda kan óf direk deur radio, TV, koerante en ander media aan die inligtingsteikens oorgedra word, óf indirek deur die gebruik van sosiale netwerke. Colette Faucher en haar medenavorsers oor sielkundige oorlogvoering stel dit baie duidelik dat boodskappe soveel te meer doeltreffend is as dit deur lede van dieselfde taal- of etniese groep oorgedra kan word. Vóór en ná 1994 is dit opvallend hoe Afrikaans, tesame met ‘n handjie vol linkse of liberale Afrikaners in die media en aan die universiteite gebruik is om die aanslag op ons, die inligtingsteikens, deur te voer. Figure soos Max du Preez en Koos Bekker, die hoof van die magtige Naspersmediamonopolie, sou ‘n sleutelrol hierin speel. Tot vandag toe word die boodskap oor en oor herhaal dat die Afrikanervolk oor geen bestaansreg beskik nie, maar noodgedwonge sy identiteit en selfs Standaardafrikaans moet prysgee ten einde vir die ANC, maar veral die nuwe wêreldorde, “aanvaarbaar” te raak.

Leon Lemmer verwys gister na nog ‘n NP-oorloper na die ANC, Albert Nothnagel, wat die begrip “Afrikaner” op sigself as “rassisties” en daarom ongewens, beskou. Nothnagel het vandeesweek in die Nasperskoerant, Die Burger, geskryf:

Op sy beste is wit Afrikaners wat hulself vandag nog eksklusief Afrikaners noem, outyds en op sy akkuraatste rassisties.

Maslow se behoeftehiërargie
Maslow se behoeftehiërargie

Maslow se piramide en sielkundige oorlogvoering

Hoe “werk” sielkundige oorlogvoering? Waarom sou mense wat tot onlangs toe nog ‘n verbete stryd teen hul vyand gevoer het, skielik aanvaar om ondergeskik aan diesefde vyand te wees? In Suid-Afrika word daar nie net van Afrikaners verwag om die terreur en verguising wat hulle tydens die “volksoorlog” van 1978 tot 1994 ervaar het (om nie van die Angolese oorlog te vergeet nie), opsy te skuif nie, maar ook om “boete te doen” en hul “skuld te vereffen” omdat hulle dit in die eerste plek durf waag het om teen die SAKP en sy kommunistiese bondgenote vanuit die buiteland weerstand te bied!

Volgens Colette Faucher en ander, word die inligtingsteiken benader met die Amerikaanse sielkundige Abraham Maslow se piramide of “behoeftehiërgie” in gedagte. Daar is vyf vlakke van menslike behoeftes:

  1. Fisiologiese behoeftes soos voedsel, water, skuiling, ens.
  2. Veiligheid, waaronder ook finansiële veiligheid
  3. Liefde en geborgenheid
  4. Agting
  5. Selfverwesenliking

Waarskynlik was Mandela wat die Springbokrugbytrui aantrek die simboliese hoogtepunt van die sielkundige oorlog wat daar reeds dekades lank teen Afrikaners gevoer word. Rugbyspelers, hoewel hulle ‘n fisieke oorlog teen mekaar op die veld voer, het behoefte aan veral Maslow se vlakke 4 (agting) en 5 (selfverwesenliking). Vandaar die feit dat sportlui feitlik die eerste was om klakkeloos hul ondergeskiktheid aan die nuwe, kommunisties oorheerste, orde te aanvaar, want hulle sien dit as ‘n middel tot hul eie selfverwesenliking op sportgebied.

Maar ook die toeskouers en die breë massa Afrikaners daarbuite, smag na die oënskynlike “vrede en veiligheid” wat die nuwe orde bied, tesame met die “aanvaarding” deur hul tradisionele vyande soos die SAKP, die Britse Arbeidersparty, Amerikaanse linkses, Swede, Noorweë en selfs die Verenigde Nasies. Die boodskappe van minagting wat op soveel gebiede jeens Afrikaners en Afrikaans vóór en ná 1994 uitgesaai is, het die funeste uitwerking dat dit die behoefte aan agting en geborgenheid onder Afrikaners verhoog. Dit sou verklaar waarom hulle toenemend bereid was om van hul kulturele en opvoedkundige bates afstand te doen en maar in te val by wat die nuwe bewind ook al voorgestel het.

Dit sou interessant wees om na te vors watter persoonlikheidstipes in Suid-Afrika meer vatbaar vir propaganda en sielkundige manipulasie as ander is. Ek sou raai dat diegene wat meer op die laer behoeftes op die Maslow-skaal ingestel is (fisiologiese behoeftes, veiligheid, geborgenheid) makliker oorreed kan word om alles maar net te aanvaar en geen verdere weerstand te bied nie. Dit spreek ook boekdele oor die vorige leierskapskorps onder Afrikaners (FW de Klerk, Roelf Meyer, Nothnagel, Pik Botha en ander) dat hulle insgelyks die bevrediging van hul basiese behoeftes – waaronder die finansiële! – bo die hoër behoeftes van agting, trots en selfverwesenliking gestel het.

Om jou teen oorheersing te verset, vereis veral die inspirasie deur die hoër behoeftes: agting en selfverwesenliking. Ek wil dit nie te veel vereenvoudig nie, maar: Die laer mens streef na aanvaarding deur die omringende massa, die hoofstroommedia, die maghebber, terwyl die hoër mens meer waarde aan selfstandige morele en politieke handeling heg. In dié verband is dit waarskynlik allermins toevallig dat die meeste Afrikaners wat vandag aktief die huidige stelsel kritiseer en beveg, óók teen die vorige bestel gekant was, hetsy van links, hetsy van regs. Dis amper asof daar ‘n draad deur die Afrikanergeskiedenis loop, dié tussen “rebelle” en “kruipers”, tussen “bittereinders” en “joiners”, tussen “skeppende geeste” en “saaie konformiste”.

As ‘n mens vandag Afrikanerverraaiers wil uitwys of uitsnuffel, sou ‘n mens maklik diegene kon eien wat altyd “veilig speel” en hul eie finansiële sekuriteit of gemak bo ander norme en waardes stel.

Een van die probleme van die revolusie is egter dat hy ewe verwoestend met die verraaiers en konformiste omgaan as met diegene wat hul denkend en krities téén die huidige bestel verset. Dit verklaar waarskynlik waarom selfs die Naspersgroep vandag krities teenoor die ANC en SAKP staan, dog terwyl die hele ANC-waardestelsel indirek deur hul fanatiese steun vir die DA, die “ANC Lite”, beaam word.

Indien die ANC-SAKP – maar ook die Swede, Britte en Amerikaners – slimmer was, sou hulle FW de Klerk, Roelf Meyer, Max du Preez en ander meelopers wat “veilig en geborge” in die skaduwee van mag voel, beter as Trojaanse perde aangewend het om enige herlewing van ‘n Afrikanerbewussyn in die kiem te smoor. Die boodskap van aanvaarding en berusting in ons lot as verowerdes sou in daardie geval soveel doeltreffender in Afrikaanse maatskaplike netwerke versprei kon word.

Gelukkig vir ons gaan konformisme en domheid gewoonlik ook gepaard, en is die sielkundige oorlog wat so lank en so doeltreffend teen ons gevoer is, vinnig besig om uit te rafel.

Veg terug! Sluit aan by praag.

Albert Nothnagel oor Afrikaners

Albert Nothnagel, wat baie trots is op sy ontmoeting met Mandela in 1992 terwyl hy ambassadeur in Nederland was
Albert Nothnagel, wat baie trots is op sy ontmoeting met Mandela in 1992 terwyl hy ambassadeur in Nederland was

deur Leon Lemmer

In Die Burger (3 deser, p 11) is ‘n brief van Albert Nothnagel van Mosselbaai gepubliseer, wat ek hier onder volledig aanhaal. Dit is moontlik dieselfde Albert Nothnagel wat ‘n parlementslid vir die Nasionale Party (1974-1989) was en daarna die Suid-Afrikaanse ambassadeur in Nederland (1990-1995) was. Hy het hom voorheen by die ANC geskaar en was sterk teen Tony Leon se DA gekant. Nou het hy al weer sy deuntjie verander. Op die internet is daar meer inligting oor hierdie persoon, bv dat hy ‘n “white child of black Africa” is.

Hierdie brief word aangehaal met die oog op kommentaar, veral vanweë die verregaande radikaliteit daarvan, wat verreikende implikasies vir die deursnee Praag-leser het. Op die minste sal sulke Praag-lesers verplig voel om hulle van die WAT-redaksie te distansieer. Volgens die WAT is dit rassisties om die woord “Afrikaner” tot wit Afrikaners te beperk. Wat volgens die WAT toelaatbaar is, is om almal met Afrikaans as huistaal (dus wit, bruin en swart) Afrikaners te noem, asook almal wat in Afrika gebore is. Die WAT-redaksie behoort te weet dat laasgenoemdes eerder Afrikane as Afrikaners genoem word. Onderliggende aan die WAT se woordverklarings is die sug na rasse-integrasie, of ten minste die ontkenning van etniese en kulturele verskille.

Hier volg Albert Nothnagel se volledige brief:

“Enigeen wat hom vandag beywer vir die regte van wit Afrikaners, in groepsverband, sit steeds in die ou moeras van rassisme vas.

Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT-CD-ROM) praat van drie soorte Afrikaners: 1. Afrikaner: (rassisties; verouderd) wit Afrikaner. 2. Afrikaner: iemand met Afrikaans as huistaal. 3. Afrikaner: Iemand wat in Afrika gebore is.

Bowendien noem ons ‘wittes’ onsself mos al sedert uniewording ook ‘Suid-Afrikaners’. Saam met al ons bruin, swart en Indiër-medeburgers is ons almal dus lankal Afrikaners (mense van die suide). Op sy beste is wit Afrikaners wat hulself vandag nog eksklusief Afrikaners noem, outyds en op sy akkuraatste rassisties.

Wanneer die VF Plus ‘rassisme’ beveg, is dit ideologies en ingevolge die Grondwet goed. Wanneer hy egter vra vir steun van Afrikaners, bedoelende die ‘minderheidsgroep’, dwaal hy steeds. Van die ANC met sy rassisme praat ‘n mens nie eens nie. Vir my lyk die DA die verteenwoordigendste.”