Nico Koopman se verlange na Nelson Mandela

Deel op

mandela_tronkseldeur Leon Lemmer

Daar is ‘n rubriekskrywer wat die vermoë het om my meer as enige ander te irriteer. Ek verwys na Nico Koopman, die dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hy word reeds baie lank toegelaat om ‘n rubriek in Die Burger te skryf. ‘n Mens sou dié koerant kon vergewe as hy Koopman destyds as ‘n potensiële rubriekskrywer wou toets. Hierdie Naspers-publikasie gaan immers reeds lank van die standpunt uit dat “die bruin stem” gehoor moet word.

In ‘n stadium het Die Burger ‘n bruin redakteur, Henry Jeffreys, ‘n bruin senior adjunk-redakteur, Zelda Jongbloed, en ‘n bruin politieke redakteur, Heindrich Wyngaard, gehad. Vir die tradisionele, konserwatiewe, Westersgeöriënteerde lesers van dié koerant was dit nag. Weens die skerp daling in erkende joernalistieke standaarde het die sirkulasiesyfers spoedig dermate gesak dat ooreengekom is dat Jeffreys binne ‘n dag sy kantoor ontruim. Kort daarna is Jongbloed na Rapport uitgeskuif en het Wyngaard uit die joernalistiek koers gekry. Op hierdie manier het hierdie khoitopie tot ‘n einde gekom.

By die Naspers-koerante is die skielike vervanging van redakteurs en ander joernaliste geen ongewone verskynsel nie. In die geval van sulke blankes gebeur dit daarna selde dat teks afkomstig van hulle gepubliseer word. Die genoemde drie bruines word egter polities korrek anders behandel.

Jeffreys behartig steeds ‘n rubriek, wat as “Middelgrond” bekendstaan. Hy ag homself eerder swart as bruin en daar is by hom sekerlik geen gematigde of ewewigtige taksering van blankes nie. Byvoorbeeld, onlangs het hy lesers getrakteer op ‘n stommiteit deur te vewys na “die wandade van die fisieke en geestelike onteiening van die verlede” (20 Nov, p 8). Jeffreys se “middelgrond” is dat hy nooit moeg word om die lof van sy twee groot helde, die swart Nelson Mandela en die bruin Trevor Manuel, ongekwalifiseerd te besing nie.

Aan Jongbloed word steeds ‘n verbruikersbladsy in die koerant toevertrou. Sy het al herhaaldelik vertel dat sy militant anti-blank was. Die vraag is in hoeverre daardie negatiewe gesindheid werklik tot die verlede behoort. Selfs Wyngaard word steeds periodiek toegelaat om vlak subjektiwiteite, wat nóg kant nóg wal raak, in Naspers-koerante te publiseer. Hy het op ‘n keer daarop geroem dat hy op Caledon met gemiddeld (as ek reg onthou) ‘n D-simbool deur die matriekeksamen geskraap het. Feitlik onvermydelik beklee selfs hy deesdae, ingevolge die sug na ‘n khoitopie, ‘n pos aan die US.

Maar ek wil nie oor Koopman se “dampkring” (eens ‘n gewilde woord in Die Burger) skryf nie, maar oor Koopman self. Die aanleiding vir my skrywe is sy rubriek, “Godsdiens Aktueel”, met die opskrif: “Ek verlang steeds na Mandela” (Die Burger, 20 Nov, p 9). Dit behoort vir die kritiese leser dadelik duidelik te wees dat dit vir Koopman as bevrydingsteoloog nie in die eerste plek om godsdiens gaan nie, maar om politiek. Hy verdoesel sy politieke motiewe deur voor te gee dat dit ‘n verskuiwing van sistematiese teologie, wat veronderstel is om sy doseerplig te wees, na openbare teologie is. Reeds oor ‘n baie lang tyd versprei hy in feitlik iedere rubriek onverdunde ANC-propaganda. Daar is ook sterk tekens van anti-blanke sentiment aanwesig.

As daar iets is waarvan Koopman myns insiens hou, is dit wanneer ‘n NG Kerk-gemeente, bv sy predikant, hom dermate aan naïwiteit oorgee dat Koopman genooi word om daar oor “versoening” te kom preek. Dit gee dan aan Koopman ruim geleentheid om vir die rassistiese wittes die leviete voor te lees: hoe boos hulle was en hoe boos sommige steeds is, hoe siek hulle is en hoe hulle genees kan word om so kerngesond soos Nico Koopman te word.

Waarom Koopman is soos hy is en ‘n geesgenoot van Russel Botman is, word duidelik as albei se akademiese agtergrond in oënskou geneem word. Albei het in die teologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) studeer en is deur veral Jaap Durand en Dirkie Smit, onderskeidelik die inisieerder en skrywer van die Belhar-belydenis, beïnvloed. Sowel Koopman as Botman het myns insiens dieselfde buitengewoon klein register van tweedehandse idees. Hulle verwys by voorkeur en herhaaldelik na menswaardigheid, menseregte, versoening, geregtigheid, inklusiwiteit, diversiteit en multikulturaliteit. Koopman het die onderskeiding verwerf dat McBrolloks hom op 16 Januarie vanjaar tot Poephol van die Week verklaar het; ‘n feit wat maklik op die internet gekontroleer kan word. Naas die twee eertydse UWK-dosente wat ek pas genoem het, is Koopman se helde polities linkse teoloë soos Beyers Naudé en Willie Jonker.

Sowel Koopman as Botman het hoogs waarskynlik met apartheidsbeurse aan die UWK studeer. Wat ek wil hê, is dat hulle die integriteit moet hê om dit te erken. Ek wil ook weet of hulle al ooit dankie gesê het vir die skool- en naskoolse onderrig wat hulle tydens apartheid ontvang het. Botman roem daarop dat hy in 1976 in ‘n leidende hoedanigheid by die studente-onrus op die UWK-kampus betrokke was. Klippe is gegooi, vandalisme is gepleeg en geboue is afgebrand. Wat ek wil weet, is of Botman en sy mede-onrusstokers en -vandale al pogings aangewend het om die skade te vergoed wat hulle aan staatseiendom aangestig of aangerig het? Of skuil hulle, soos Desmond Tutu, vir eie gewin agter die duiwelse kairos-dwaalleer waarvolgens misdade wat teen apartheid gepleeg is, nie misdade is nie? In enige beskaafde samelewing behoort sulke gedrag die boosdoeners permanent ongeskik vir die bekleding van enige openbare pos te maak. In die nuwe Suid-Afrika sit daar egter baie sulke sondaars in baie hoë poste.

In sy rubriek van 20 November kontrasteer Koopman “die leiers in die apartheidsregering” met “leiers soos Nelson Mandela en Oliver Tambo, Albertina Sisulu en Helen Joseph”. Joseph se naam word slu bygevoeg sodat dit nie uitsluitlik ‘n wit/sleg en swart/goed kontras is nie. Die genoemde ANC-kamerade word deur Koopman geloof as “leiers wat staan vir menswaardigheid en vryheid, geregtigheid en waarheid, en vir offerbereidheid ter wille van noodlydendes. Die leiers was téén ontmensliking, uitbuiting, onreg en selfverryking”, Dít is reeds lank die refrein in die een Koopman-rubriek na die ander, maar Die Burger doen niks om die vloei van hierdie soort onverdunde gif, wat versoening beduiwel, stop te sit nie.

“Mandela en kie het die taak gehad om die oue te vernietig, maar die huidige leiers moet die reste van die oue afbreek én die nuwe te voorskyn bring. Dit is tog anders om apartheid af te breek as wat dit is om ‘n nuwe demokrasie te bou wat in ‘n komplekse werklikheid politieke, maatskaplike en ekonomiese welwees vir almal bring.” Die waarheid is dat Mandela en kie nie net apartheid wou vernietig nie, maar gepoog het om Suid-Afrika in sy geheel te ruïneer. Pleks van “welwees vir almal” is dit ‘n klein en dikwels eties bedenklike groepie wat buitensporig baie by die swart bewind baat vind. Koopman verkies om te eenogig te wees om dit op te let.

“Mandela het net een termyn geregeer en het dus minder tyd gehad om foute te maak. Hy het boonop geregeer in ‘n tyd toe die euforie rondom ‘n nuwe Suid-Afrika lewend was en toe die idealisering van struggle-helde baie groter was. Maar miskien wil die verlange na Mandela en kie juis nie stil word nie omdat ons tog gesien het hoe Mandela wel ook die weg na die nuwe baan, hoe hy in sy kort regeertyd help om die oue af te breek en in uiters komplekse tye die fondament van die nuwe help bou, hoe hy met integriteit en verantwoordelikheidsin bou aan ‘n samelewing van eenheid en begrip, versoening en vriendskap, geregtigheid en menswaardigheid.”

Dit is net by ANC-aktiviste soos Koopman dat daar “euforie rondom ‘n nuwe Suid-Afrika” en “die idealisering van struggle-helde” was. Dit is hy wat naïef en onkrities na Mandela verlang. Mandela was nie teen selfverryking gekant nie. Die stinkryk Mandela het bitter min in sy lewe gewerk. Mandela is nie die toonbeeld van “offerbereidheid ter wille van noodlydendes” nie. Hy het eerder homself en sy familie buitensporig verryk, maar Koopman kyk dit doelbewus mis.

Het Koopman dit al ooit nodig gevind om te wonder watter persentasie geldelike hulp van filantropiese ondernemings wat onder die Mandela-naam bedryf word, soos die kinderfonds, na blankes gekanaliseer word? Die bedrag is waarskynlik nul, maar ten spyte daarvan hou Koopman vol om Mandela met integriteit, versoening, geregtigheid en natuurlik nie-rassigheid te assosieer. Waar is Mandela se “ontfermende geregtigheid” en nie-rassigheid as dit by blankes kom? Dit is waarom ek op 29 September op Praag geskryf het: “Dit is vir my dikwels moeilik om te besluit of Botman of … Koopman … die grootste anti-akademiese euwel op die US-kampus is.”

Koopman probeer doelbewus om te mislei. Toestande in die land was nie tydens Mandela se bewind beter as nou omdat hy net vyf jaar lank die staatshoof was nie, maar gewoon omdat dit selfs vir die ANC nie moontlik is om dadelik af te breek wat oor eeue tydens die blanke bewind opgebou is nie. Hoe langer die swart bewind duur, des te meer is daar agteruitgang en verval op alle terreine. Ek het in my skrywe van 29 September op ander gevalle van hierdie selfde soort doelbewuste misleiding of oneerlikeid by Koopman gewys. Hy het valslik beweer dat nie-wittes tydens apartheid van universiteitsopleiding uitgesluit is; net so valslik dat daar nie nuwe uitsluitings teen wittes aan die Botman-US gepleeg word nie en dat etnisiteit net as ‘n tydelike rassediskriminasiemaatreël aan die US gebruik word. Koopman is deesdae, soos Botman, blatant ten gunste van rassediskriminasie teen blankes. Albei weet egter dat die UWK-vandale destyds klippe gegooi het met die oog op die afskaffing van alle rassediskriminasie. Daar is hier baie duidelik manteldraaiery.

Toe Koopman na aanleiding van erfenisdag op 25 September in Die Burger geskryf het, het hy op sy kenmerkend eensydige manier net oor die Belhar-belydenis, demokrasie en Mandela geskryf. Feitlik vanselfsprekend het hy ook na “apartheidsonreg” verwys. Alles wat die blankes oor eeue hier tot stand gebring het, insluitende die US, en al die goeie wat die NG Kerk vir bv Koopman en sy etniese groep gedoen het, insluitende die kweekskool op Stellenbosch, het hy halstarrig geïgnoreer. Skynbaar al wat prominent in Koopman se wêreldjie is, is sy verknogtheid aan ANC-politiek.

Perspektief is broodnodig. Koopman is die dekaan aan die US se fakulteit teologie, voorheen die kweekskool van die NG Kerk. Hy is veronderstel om akademiese leiding by die opleiding van predikante te gee. Tydens apartheid het daar deurgaans anti-apartheidstemme uit die kweekskool opgeklink, bv van Bennie Keet, Willie Jonker en Nico Smith. Die plek is sedertdien dermate getransformeer dat geen anti-ANC-stemme deesdae daar opklink nie; om van pro-blanke-, pro-Afrikaner- en pro-Afrikaans-stemme nie te praat nie. Geeneen in daardie fakulteit maak hoorbaar beswaar teen die feit dat die onderrigtaal in daardie fakulteit in selfs groter mate as in die res van die US verengels het nie.

By die aanstelling en bevordering van dosente speel ras/kleur en geslag, dus nie-akademiese oorwegings, ‘n deurslaggende rol. Op hierdie manier is die teologie-opleiding aan die US tot in sy kern vergiftig deur oud-UWK-dosente en -studente, waarvan Koopman een is. Die eertydse kweekskool van die NG Kerk het in die skoot geval van snood ondankbare, disrespekvolle en dislojale elemente, waarvan Koopman die toonbeeld is. Wat kan van die afgestudeerdes verwag word? Dat die meeste van hulle waarskynlik pro-ANC en pro-Belhar sal wees. Hierdie gif sal toenemend die hele NG Kerk deursuur, samesmelting met die VGK meebring en verseker dat Afrikaans as kerktaal in sy swernoot gaan.

My kommer oor Afrikaans is nie ongegrond nie. Die dislojaliteit teenoor Afrikaans by talle ontwikkelde bruines is algemeen bekend. ‘n Aantal jare gelede het Afrikaanssprekende bruin ouers die grenselose vermetelheid gehad om ses van hulle kinders by die Afrikaansmedium Laerskool Mikro in Kuilsrivier in te skryf en terselfdertyd te eis dat hulle onderrig in Engels moet wees. As die NG Kerk en die VGK saamsmelt, sal daar ongetwyfeld bruines by kerkbyeenkomste opdaag en eis dat die verrigtinge in Engels moet wees. As daar nie aan hulle eis gehoor gegee word nie, sal die bekende verwyte van liefdeloosheid en rassisme opklink.

In die lig van die voorafgaande kan minstens twee vrae gestel word. Is daar nie regsinnige reste in die NG Kerk en elders oor wat bereid is om ‘n kruistog te onderneem teen die toestand waarin die US se teologiese opleiding verval het nie? En was dit nie dalk onbillik van McBrolloks om Koopman vir net ‘n week lank tot poephol te verklaar nie?

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.