’n Paar maande gelede het ek in ’n vorige rubriek beloof om drie toekomstige scenario’s vir Suid Afrika se onmiddellike toekoms uit te lê. Ek is geen toekomskundige nie en die volgende is bloot wat bekend staan as ’n ‘scenario’. Daar is geen versekering dat hierdie scenario sal uitspeel nie, maar gegewe die analise dink ek wel dat dit ’n waarskynlike verloop van ons onmiddellike toekoms binne die volgende twee jaar mag aandui.
Nóg Zuma nóg Mbeki gaan as verloorder die uitslag van die ANC presidentsverkiesing aanvaar. Selfs al aanvaar die verloorder die uitslag binne die eerste dag of twee, glo ek dat hy nie lank gaan terughou om die uitslag as „gekook“ te bestempel nie. Hulle is albei tipiese Afrika- ‚Groot Man’-leiers; Mbeki met sy pseudo-intellektuele beeld en Zuma op sy man-van-die-mense- („100% Zuluboy”-)manier.
