N.a.v. ‘n eertydse ANC-projek om die hand van Afrika te vereer deur ‘n reusehand te bou, sê ek: Gaan gerus voort en bou daardie mensehand wat uit die grond deur die tralies bars!
Bou hom só hoog en ontsaglik dat hy oor alle horisonne vir alle mense van alle tye sigbaar kan wees as embleem van Afrika.
‘n Veeldadige, veelbewoë, veelseggende hand, met sóveel mag, sóveel onmag, sóveel lyding, en sóveel verwoesting in sy swaai.
Bou ‘n manjifieke kolossale hand wat deur tralies en ordes breek, en uit die grond van Afrika smeek dat God die ontlende liggaam waaraan dié hand behoort, uit sy donker nood, uit die bloedige aardkors waarin dit hulpeloos gevange en begrawe is, na die lig van beskawing en wetenskap sal optrek.

Oor die ou Republieksvlag, wat eers die Unievlag was, het ek gemengde gevoelens gehad. As kind het ek nie die ideologiese afskuwelikheid van die Union Jack daarop begryp nie. Ek is nie ideologies grootgemaak nie, dus sou dit by my verbygaan. Nogtans het ek altyd gevoel dat die Union Jack die hele vlag se balans opvoeter. Eerstens is die blou in die klein Union Jack nie dieselfde as die blou op die basisvlag (Prinsevlag) se onderste baan en dus ook nie dieselfde blou as wat op die klein Vierkleur of die kleiner ‚Prinsevlag’ op die OVS-vlaggie is nie. Verder bestaan die basisvlag (Prinsevlag) sowel as die Vrystaatse vlag en Vierkleur uit horisontale en vertikale lyne. Dit vorm ʼn estetiese konsolidasie. Die Union Jack met sy diagonale lyne het weereens hierdie konsolidasie verbreek.