“In werklikheid was hierdie ’n reuseoorwinning vir vryheid van spraak en die reg om andere te oortuig om saam met jou te stem en teen onaanvaarbare dinge op te tree. En dit alles danksy die hedendaagse wonder van die elektronika.”
Die yslike storm wat losgebars het rondom Deon Maas se omstrede Satans-artikel in Rapport, het natuurlik ’n yslike spul stof opgeskop – sommige daarvan doelbewus om te probeer om ’n paar feite te verdoesel.
Die stof het nog lank nie gaan lê nie, maar ’n hele paar dinge begin al duidelik word. Die ongekende opwelling van e-posse en SMSe (ek hou van die woord vonkpos vir laasgenoemde maar dit wil blykbaar nie posvat nie) wat ’n boikot van Rapport (en blykbaar nog sterker optrede) aangevuur het, is nie bloot skielike en onverwagte optrede van ’n klomp “verkrampte, bekrompe, onverdraagsame” Christen-Afrikaners nie. Dit is eintlik net die uitbarsting van ‘n opwelling van woede, frustrasie en wrewel wat al geruime tyd – ek sou sê selfs jare, maar beslis die afgelope jaar of twee – in Afrikanergeledere voorkom oor die benarde en magtelose situasie waarin hulle hul sedert 1994 bevind.

Met die ruolieprys op pad na honderd dollar per vat, stuur die wêreld op ʼn permanente energiekrisis af. Die gedagte dat die maklike, goedkoop energie wat ons die afgelope 200 jaar eers uit steenkool en toe uit olie verkry het oor enkele dekades gaan opraak, is besig om nagmerrievisioene by Westerse beleidmakers te veroorsaak.