"Onderhandelinge duur voort… ons vind die bestuur hoogs arrogant. Die situasie is baie vyandig," het hy gesê.
Die polisie handhaaf 'n teenwoordigheid op die kampus en vanmiddag het dinge kalmer voorgekom as gister toe klasse ontwrig is.
Die konflik oor studiegelde het ook 'n rassedimensie aangeneem met hoofsaaklik swart studente wat aan die betoging deelneem. Blanke studente het vandag hul gang gegaan en 'n lentekonsert buite die Grootsaal bygewoon waar 'n nabootsing van die Berlynse muur opgerig is.
'n Student in finansies en ekonomie, Tumz B, meen die betoging bring die onderliggende klasse- en rasseverdeeldheid aan die Universiteit van die Witwatersrand na vore.
"Ek haat dit om dit as swart en wit te beskryf want die verdeling is meer na gelang van klas, maar dis 'n feit dat die armer studente meesal swart is.
"Die meeste blanke studente gaan nie betoog nie want hul ouers kan die studiegeld bekostig," het hy gesê.
Ander studente het gevoel die verhoging in studiegeld is 'n normale deel van universiteitsopvoeding.
"Alles gaan op, mens kan nie daarvan wegkom nie," het die eerstejaarstudent, Denise Tamagnone, gesê.
Sy voel die betoging is "intimiderend en nogal angsaanjaend".
"Die betogers het in een van my lesings ingestorm en op ons lessenaars gespring," het sy gesê, en bygevoeg dat dit onregverdig is om op haar eie kampus onveilig te voel.
'n Mediese student Trisha-Gean Mahon meen studente behoort eerder 'n brief aan die dekaan te skryf om hul griewe te lug.
"Ek dink nie dit gaan enigiets regkry nie, hulle behoort aan 'n ander manier te dink, soos om vir die dekaan te skryf," het sy gesê.
Die betogers sou laat vanmiddag oor die vordering met onderhandelings ingelig word.
