
Die weermag kon nie bewerings bevestig of ontken deur die militêre vakbond SANWU dat Suid-Afrikaanse skerpskutters, wat in diens van die Verenigde Nasies is, ses M23-rebelle in die ooste van die Demokratiese Republiek van die Kongo doodgeskiet het nie.
Die vakbond se nasionale sekretaris, Pikkie Greeff, sê die voorval het in die Goma-gebied gebeur.
‘n Weermagwoordvoerder, brigadier Xolani Mabanga, het bevestig dat Suid-Afrikaners betrokke was, maar wou nie sê of hulle skerpskutters is nie.
Meer as 1 300 Suid-Afrikaanse soldate is deel van ‘n VN-eenheid, wat ‘n mandaat het om teen Kongolese rebelle op te tree. – RSG

