Padslagting wek groot kommer

Die Outomobiel Assosiasie het sy kommer uitgespreek oor die hoë padsterftes en sê daar is geen verbetering teenoor verlede jaar nie.

Die woordvoerder van die AA, Layton Beard het aan RSG gesê die feit dat daar reeds meer as 500 mense op die land se paaie dood is, wek groot kommer.

Beard sê te veel motoriste gehoorsaam nie die padreëls nie. Hy sê spoed, die gebruik van selfone, dronkbestuur en die versuim om veiligheidsgordels te dra is van die grootste oorsake van padongelukke.

Hy het nie die verbysteek op sperstrepe genoem wat kommerwekkend hoog is nie en die oorsaak van die meeste noodlottige ongelukke is nie.

Hy sê dringende aandag moet geskenk word aan wyses om groter verantwoordelikheid by motoriste te kweek, en wetstoepassing moet drasties verskerp word.

Volgens die Padverkeerbestuurskorporasie is vanjaar se dodetal op die land se paaie is die hoogste in vier jaar.

Bykans 700 sterftes is in 600 ongelukke in die eerste drie weke van Desember aangemeld.

Die dodetal sal na verwagting verder styg soos inligting van al nege provinsies bygewerk word.

Die meeste ongelukke vind glo tussen tienuur saans en sesuur soggens plaas.

Minibus byna deur huismuur

Die bestuurder van ’n Quantum minibus-taxi het Dinsdagmiddag deur ‘n heining gejaag en teen ’n huismuur in Les Marais tot stilstand gekom.

Polisiewoordvoerder Sersant Anne Poortman sê die bestuurder is na ‘n nabygeleë hospitaal vir mediese behandeling geneem.

Gert Venter, ’n ooggetuie, vermoed die bestuurder het ’n voertuig probeer verbysteek en te laat besef daar is ’n aankomende voertuig reg van voor op pad. “Hy het die aankomende voertuig net betyds gesien en hasepad na regs gekies om ’n ongeluk te vermy. Die naaste uitweg was die heining van die huis op die hoek,” het hy gesê.

Poortman sê daar was geen ander beserings nie.

Bron: Pretoria Moot Rekord

Malema onskuldig op aanklag van roeklose bestuur

juju
SA se regstelsel blykbaar pasgemaak vir Juju

Die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters, Julius Malema is in die Vanderbijlparkse Landdroshof onskuldig bevind op aanklagte van roekelose bestuur.

Malema het erken dat hy te vinnig gery het, maar hy sê hy het uit “sy foute geleer”.

Malema is op 23 Desember in die Vaaldriehoek in hegtenis geneem nadat hy glo teen 215 kilometer per uur gejaag het.

‘n Woordvoerder van die Gautengse Verkeerspolisie, Obed Sibasa sê hulle is verbaas oor die hof se uitspraak.

Volgens Sibasa het hulle bewyse aan die hof verskaf, insluitend beeldmateriaal en verklarings, maar dit is nie in die hof getoets nie.

Die Gautengse Verkeerspolisie sê hulle sal dit oorweeg om appél aanteken teen die beslissing.

‘n Klag van aanranding is dié week ook teen Malema laat vaar in ‘n ander voorval waar hy na bewering ‘n wit motoris geslaan het in ‘n padwoedevoorval.