Zuma stoei weer met Nkandla-vrae

Emosies het Woensdag weer hoog geloop in die Nasionale Vergadering toe President Jacob Zuma mondelinge vrae beantwoord het.

Die kwessie oor geld wat aan sy privaatwoning op Nkandla bestee is, is geopper ondanks die feit dat dit nie op die Ordelys was nie.

Na langer as ‘n uur se gekibbel oor of Zuma bykomende vrae moet beantwoord, is ooreengekom dat die saak Donderdag bespreek sal word, wanneer datums vir dié sessies bepaal sal word.

Dit sluit vrae in oor Nkandla wat oorgestaan het weens vorige ontwrigting. Die EFF het tydens Zuma se mondelinge vraesessie daarop aangedring dat hy eers die uitstaande mondelinge vrae van verlede jaar moet beantwoord voordat hy nuwe vrae antwoord.

Dit was die eerste mondelinge vraesessie in die Nasionale Vergadering sedert die sitting op 21 Augustus verlede jaar, wat verdaag is nadat lede van die EFF die Vergadering in ‘n sirkus laat ontaard het.

Zuma het aantygings van die opposisie verwerp dat hy probeer het om vrae in die Parlement te systap.

Hy het gesê hy is bereid om rekenskap te gee oor die staatsgeld wat aan veiligheidsopgraderings aan Nkandla bestee is.

President Zuma het opnuut herhaal dat hy nie die geld sal terugbetaal wat bestee is aan nie-veiligheidsopgradering aan sy privaatwoning op Nkandla nie, totdat ‘n besluit deur die Minister van Polisie, gedoen is.

Die DA se Parlementêre leier, Mmusi Maimane, sê indien die Nasionale Vergadering se Programkomitee nie ooreen kan kom oor ‘n bykomende datum vir die President om uitstaande mondelinge vrae te beantwoord nie, kan dit tot probleme lei by die volgende volle sitting.

Die Programkomitee vergader vandag om die sakelys vir die Nasionale Vergadering se volgende sitting te bepaal.

Maimane sê die komitee moet ‘n datum vasstel vir die uitstaande vrae aan die President.

Ordelys vir Nasionale Vergadering bespreek

Die Nasionale Vergadering se Programkomitee vergader vandag om die program vir môre se sitting te finaliseer wat deur die Speaker, Baleka Mbete, byeengeroep is om onopgeloste kwessies af te handel.

Die komitee is die Parlementêre struktuur wat die finale besluit neem oor wat tydens ‘n sitting op die ordelys behoort te wees, het RSG berig.

Die bykomende sitting volg nadat verrigtinge verlede Donderdag sewe ure lank vertraag is.

Die partye is baie verdeeld oor of President Jacob Zuma na die sitting behoort te kom of nie.

Volgens die hoofswepevergadering dring die DA, die EFF en die VF Plus daarop aan dat hy wel vrae moet kom beantwoord.

Die ANC sê egter dat die opposisie bloot die verrigtinge weer wil ontwrig.

Volgens die ANC weet die opposisie dat die President nooit genooi word om vrae te beantwoord wanneer ander sake bespreek word nie.

Een van die sake wat na verwagting bespreek sal word, is die verslag van die Komitee oor Bevoegdhede en Voorregte wat tugmaatreëls teen 20 LP’s van die EFF aanbeveel het, nadat hulle skuldig bevind is op verskeie aanklagte van minagting van die Parlement.