Twee OTM’s in Kaapstad opgeblaas

otmDie polisie soek na twee verdagtes wat Donderdagoggend twee OTM-masjiene in Brackenfell, Kaapstad opgeblaas het.

Die gewapende mans het die OTM’e by die Glengarry-winkelsentrum opgeblaas, maar het met leë hande gevlug.

Volgens die polisie het die mans twee van die winkelsentrum se veiligheidswagte in die sentrum se parkeerarea vasgebind.

Vier ploftoestelle het ontplof en ooggetuies het gesien hoe die verdagtes vlug.

Die twee kitsbanke was met ‘n nuwe toestel toegerus wat blou kleurstof vrygestel het met die eerste ontploffing en toe die geld gevlek het. – EWN

Rowers blaas OTM in Midrand op

OTM-bomtoneel
OTM-bomtoneel

Rowers het ‘n OTM in Midrand opgeblaas en is vort met ‘n onbekende hoeveelheid geld, het die Johannesburgse polisie Donderdag gesê.

Kaptein Kym Cloete het verklaar dat drie gewapende mans werkers by ‘n vulstasie in Noordwyk omstreeks 2:20 vm aangehou het.

“Hulle het vuurwapens op hulle gerig en hulle aangesê om op die grond te gaan lê,” meen Cloete.

Die werkers beweer dat hulle ‘n harde slag buite gehoor het, wat een van twee OTM’e was. Die een OTM is vernietig, terwyl die tweede nie beskadig is nie.

Hierna het die rowers op die vlug geslaan. Volgens Cloete is dit nie bekend of daar meer as drie rowers betrokke was nie.

Niemand is beseer nie. – Sapa en praag