Plaasaanval-verhoorafwagtendes ontsnap

‘n Interne ondersoek is ingestel nadat vier verhoorafwagtende mans uit ‘n polisievangwa in Brits, Noordwes, ontsnap het.

Die polisie is steeds op soek na die vier swartes wat as gevaarlik beskryf word.

Gontse Lubisi, Gibson Msimango, Chris Sithole en Alfonso Mpofu het in die ry op die N4-snelweg uit die vangwa gespring.

Sithole en Mpofu staan saam met twee ander tereg op vier aanklagte van verkragting, een van moord en een van roof.

Polisiewoordvoerder, Leonard Hlathi, sê die moontlikheid dat Lubisi en Msimango betrokke was by ‘n plaasaanval in Noordwes waartydens ‘n bejaarde egpaar vasgebind en gemartel is, word nog ondersoek.

Karoo-leeu uiteindelik gevang

Die rondloper leeu in die Karoo is uiteindelik vasgetrek.

Die driejarige leeumannetjie wat as Sylvester gedoop is, het boere in die omgewing die afgelope drie weke op hol gehad omdat hy selfs ervare spoorsnyers ontduik het.

Hy het blykbaar deur ‘n stormwatersloot van die Karoo Nasionale Park ontsnap. Die dier het ‘n bloedspoor van negentien skape, ‘n donkie en ‘n koedoe agtergelaat.

Die leeu is Maandagmiddag opgemerk waar hy op ‘n rots in die Nuweveldberge op Palmietfontein in die son gelê het.

Hy is vanuit ‘n helikopter met ‘n doofpyl geskiet en na die park teruggeneem.

Leeukamp sluit, leeu ontsnap uit Karoopark

Die bestuur by die Leeupark noord van Johannesburg het besluit om die leeukamp te sluit waar ‘n Amerikaanse toeris verlede week deur ‘n leeu doodgebyt is.

Die 29-jarige Katherine Chappell is deur die leeuwyfie aangeval toe sy foto’s by die Leeupark geneem het terwyl haar motorvenster wawyd oop was.

Die bestuurder, Andre La Kock, sê daar is besluit om die leeukamp te sluit omdat sommige mense hulle nie steur aan die park se veiligheidsreëls nie.

Intussen is ‘n grootskaalse soektog van stapel gestuur nadat ’n leeumannetjie vermoedelik Vrydag uit die Karoo Nasionale Park buiteBeaufort-Wes ontsnap het.

Volgens ‘n woordvoerder van Sanparke, Fayroush Ludick, het die drie jaar oue leeu deur ‘n gat onder ‘n heining uitgekom en is hy vermoedelik op een van die aangrensende plase.

Spoorsnyers het tekens van die leeu se spoor gevind, maar die soektog word deur die bergagtige terrein bemoeilik, terwyl ‘n soektog met ‘n helikopter ook nog niks opgelewer het nie.

Sanparke sê personeel van die Addo-olifantpark, asook die Bergsebra Nasionale Park, is ook gestuur om te help soek.

Sewe verhoorafwagtendes ontsnap

Die polisie in Gauteng is op soek na sewe verhoorafwagtende gevangenes wat Maandagmiddag polisiebeamptes oorval en uit die Lenasia landdroshof ontsnap het.

Ses van die sewe mans word van huisbraak en diefstal aangekla terwyl die sewende tereg staan op aanklag van roof met verswarende omstandighede.

‘n Interne ondersoek word deur die polisie ingestel om vas te stel of die ontsnapping van die gevangenes aan “nalatigheid” te wyte is.

Gevaarlike gevangene ontsnap

‘n Gevangene wat vandag vir verkragting gevonnnis sou word het vanoggend by die Bloemfonteinse landdroshof ontsnap.

Die 35-jarige John Ntseki het glo by die hofsaal uitgehardloop, deur verskeie kantore en deur ‘n venster oor die dak ontsnap.

Die polisie se Chaka Marope sê Ntseki is gevaarlik en moenie gekonfronteer word nie.

Ntseki is van Batho. Voorheen is berig dat hy gevra het om na die toilet te gaan.