Plaasaanval-verhoorafwagtendes ontsnap

‘n Interne ondersoek is ingestel nadat vier verhoorafwagtende mans uit ‘n polisievangwa in Brits, Noordwes, ontsnap het.

Die polisie is steeds op soek na die vier swartes wat as gevaarlik beskryf word.

Gontse Lubisi, Gibson Msimango, Chris Sithole en Alfonso Mpofu het in die ry op die N4-snelweg uit die vangwa gespring.

Sithole en Mpofu staan saam met twee ander tereg op vier aanklagte van verkragting, een van moord en een van roof.

Polisiewoordvoerder, Leonard Hlathi, sê die moontlikheid dat Lubisi en Msimango betrokke was by ‘n plaasaanval in Noordwes waartydens ‘n bejaarde egpaar vasgebind en gemartel is, word nog ondersoek.

Sewe verhoorafwagtendes ontsnap

Die polisie in Gauteng is op soek na sewe verhoorafwagtende gevangenes wat Maandagmiddag polisiebeamptes oorval en uit die Lenasia landdroshof ontsnap het.

Ses van die sewe mans word van huisbraak en diefstal aangekla terwyl die sewende tereg staan op aanklag van roof met verswarende omstandighede.

‘n Interne ondersoek word deur die polisie ingestel om vas te stel of die ontsnapping van die gevangenes aan “nalatigheid” te wyte is.