President Jacob Zuma en die SA Joodse raad van afgevaardigdes het ooreengekom om ‘sonder ophou’ te werk om die twee-staatoplossing vir die konflik tussen Israel en die Palestyne te ondersteun.
Die raad se voorsitster, Mary Kluk, het gister gesê dat die raad met Zuma vergader het en hom ingelig het oor die vyandige omgewing en intimidasie waarmee die Joodse gemeenskap in Suid-Afrika te kampe het.

“Zuma het alle vorme van anti-Semitisme en onverdraagsaamheid verwerp… (hy) en die raad het hul steun vir die twee-staatoplossing uitgespreek waarmee Israel en Palestina naas mekaar in vrede kan bestaan en het Suid-Afrika se bereidwillligheid herhaal om alle kante te ondersteun om ‘n oplossing te vind,” sê sy.
Volgens Kluk het Zuma die Joodse raad verseker dat sy regering nie anti-Semitiese vooroordeel en intimidasie sal aanvaar nie.
Op haar beurt sê sy dat die raad die regering se nasionale ontwikkelingsplan ten volle goedkeur en dat die Joodse gemeenskap met die toepassing daarvan sal saamwerk.
Die vergadering is in Pretoria gehou. Zuma is vergesel van die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Maite Nkoana-Mashabane, die minister in die presidensie, Jeff Radebe, die minister van vroue in die presidensie, Susan Shabangu, asook die direkteur-generaal in die presidensie, dr Casius Lubisi.
Cosatu, die ANC se alliansievennoot, en ander drukgroepe het reeds hul onomwonde steun aan die Palestyne toegesê en betoog gereeld teen die Palestynse besetting.
Israel word ook ‘n “rassistiese apartheidsbewind” genoem wat duisende mense vermoor het wat teen sy “koloniale” besetting van Palestina gekant is.
Die Amerikaanse taalkundige en skrywer Noam Chomsky, het ook gesê dat die beleid van Israel teenoor die Palestyne “veel erger as Suid-Afrikaanse apartheid is”.
