UKIP en Rooi Ed sink

Die Skotse leeu het gebrul! Skotland wat vroeër in ‘n referendum teen onafhanklikheid gestem het, het die Arbeidersparty in Brittanje die nekslag toegedien.

Die Arbeiders lyk asof hulle afstuur op die grootste pak slae sedert Neil Kinnock van die toneel verdwyn het in 1987. Ontleders meen dis die laaste sien van Ed Miliband asook die Tories se koalisievennoot Nick Clegg.

Praag het tydens die Skotse referendum die gees reg voorspel. Skotse nasionaliste het intussen nie gaan lê nie en die indruk van ‘n eenpartystaat gewek soos hulle saamgestaan het.

Indien amptelike voorspellings korrek is, kan Brittanje binne die volgende twee jaar ‘n geskiedkundige referendum oor voortgesette lidmaatskap van die EU te wagte wees, sowel as onderhandeling oor die onafhanklikheid van Skotland.

Volgens vroeë aanduidings het die Britse Konserwatiewe Party van die eerste minister David Cameron die verkiesing in die Verenigde Koninkryk gewen en die linkse Arbeiders met hul kommunistiese oorblyfsel van ‘n leier, Ed Miliband, is gesink.

Die voorspelling is dat die Konserwatiewe Party 316 van die 650 setels in die Laerhuis kan verower en die Arbeidersparty 239.

Die finale uitslae word later vandag verwag, maar daar word bespiegel dat Miliband sy uittrede sal aankondig na die loesing.

Die Arbeiders het sowat 50 setels van die Tories nodig gehad om enige kans te staan vir die premierskap, maar moes 17 parlementslede afstaan.

UKIP en die Liberale Demokrate, die sogenaamde LibDems, van Nick Clegg het besonder swak gevaar. UKIP kon sover net een setel inpalm.

Die party het kennelik ‘n groot fout begaan met die skorsing van ‘n partylid, Jack Sen, omdat hy Afrikaners teen swart rassiste verdedig het.

Zille se oud-strateeg skep uit Britse staatsfondse

Ryan Coetzee
Ryan Coetzee

Ryan Coetzee, Helen Zille se voormalige regterhand, is weer in ‘n skandaal betrokke. Hierdie keer is hy in Brittanje uitgevang dat hy uit Britse staatsfondse betaal word.

Die Britse Liberaal-demokratiese Party het Coetzee gehuur om hul lustelose vertoning by die stembus te probeer omkeer.

Nick Clegg se omstrede Suid-Afrikaanse verkiesingstrateeg is voorheen veroordeel deur die Obenbare Beskermer oor sy rol in die toekenning van ‘n multi-miljoenrand kontrak.

Coetzee, wat na byna 20 jaar in Suid-Afrikaanse politiek in Westminster aangekom het, kry tans in teenstelling met sy teenstanders uit die Arbeids en Konserwatiewe kringe, ‘n salaris wat kom van openbare eerder as partyfondse.

Hy het sy loopbaan in 1997 as ‘n 24-jarige strateeg vir die Demokratiese Party begin, waar hy ou NP-stemme ingehark het met welklinkende leë beloftes.

Coetzee het as ‘n LP sowel as die hoofuitvoerende beampte van die party gedien en het as Zille se hoofraadgewer opgetree terwyl sy premier van die Wes-Kaap was.

Verlede jaar het Suid-Afrika se Openbare Beskermer Coetzee se rol in die toekenning van ‘n kommunikasiekontrak deur Zille se provinsiale regering aan TBWA Hunt Lascaris ondersoek na ongerymdhede vermoed is.

Die OB, Thuli Madonsela, het die ondersoek geloods nadat ‘n fluitjieblaser die redes gevra het oor waarom die kontrak toegeken is sonder om in die openbaar te adverteer, soos deur die wet vereis.

‘n Tussentydse verslag het bevind dat Coetzee se rol in die opstel van die tenderspesifikasies vir die kontrak, en daarna die evaluering van die bod sonder behoorlike notules, onwettig was en dissiplinêre optrede teen hom aanbeveel.

Coetzee het in reaksie gesê die fluitjieblaser was deel van ‘n smeerveldtog teen hom.

‘n Suid-Afrikaanse politieke bron het egter gesê Ryan het regdeur sy loopbaan gesorg dat die lyne tussen politieke werk, staatsdiens werk en kommersiële werk vaag bly en dat hy tans dié kenmerk van sy betokkenheid voortsit in die VK.

‘n Liberaal-demokratiese woordvoerder gesê die Beskermer het Ryan van enige oortreding in verband met die kommunikasietender onthef en daar was slegs klein tegniese tekortkominge in die wyse waarop die geldige tender aangepak is.