’n Afvaardiging van die Afrikaanse Taalraad (ATR) in Suid-Afrika het Namibië verlede week besoek om bande met die Afrikaanssprekende gemeenskappe in die land te verstewig, het die Republikein berig.
Dr. Hendrik Theys, ondervoorsitter van die ATR, sê die ATR is ’n burgerlike sambreelorganisasie in die buurland.
Theys, wat Namibië saam met twee van die ATR se direksielede, mnre. Danie van Wyk en Waldy Kastoor, besoek het, sê die raad sou graag wou sien dat ’n taalvereniging vir alle Afrikaanssprekendes in Namibië gestig word om saam met dié moederorganisasie in Suid-Afrika, op inklusiewe wyse na die belange om te sien van die onderskeie Namibiese gemeenskappe wat Afrikaans in die huis praat.
Hulle het daarom besoek gebring aan die Afrikaanse departement van die Universiteit van Namibië, Afrikaanse media-instellings, skole, die Bastergemeenskap van Rehoboth, die organiseerders van die Windhoek Woordfees en ander kultuurorganisasies.
“Ons hoop verteenwoordigers van hierdie groepe sal nou ’n verkennende vergadering reël met die oog daarop om so ’n taalvereniging te stig,” sê Van Wyk.
Die afvaardiging is veral opgewonde oor die honderdjarige herdenking van die Slag van Sam //Kubis op 8 Mei vanjaar en beplan om dit by te woon. Dit is ’n belangrike geleentheid vir die Bastergemeenskap, wat die eerste mense was wat Afrikaans na hierdie land gebring het, sê Theys.
Sam //Kubis is ’n sirkelvorminge bergreeks sowat 60 km vanaf Rehoboth.
Die Basters is op 8 Mei 1915 deur die Duitsers daar aangeval met twee kanonne en drie Maxim-masjiengewere in ’n geveg wat heeldag geduur het. Ná ’n gebed en gelofte wat glo ooreenkomste toon met dié van die Boere tydens die Slag van Bloedrivier, het die Duitse troepe glo teruggeval. Die Basters herdenk jaarliks dié dag.
Theys sê die ATR verstaan dat Afrikaans “in verskillende kleure en geure” kom.
“Alle variëteite van Afrikaans het sy unieke plek en moet gekoester word. Ons moet dit gebruik, opteken, erken, waardeer en in woordeboeke opneem. Maar ons moet terselfdertyd ander taalsprekers se tale en kultuur erken en respekteer,” sê hy.
