Geskiedkundige kernooreenkoms met Iran bereik

‘n Geskiedkundige raamwerkooreenkoms is tussen die sogenaamde P5-moondhede en Iran in Lausanne, Switserland bereik oor ‘n vreedsame kernprogram.

Die voorlopige ooreenkoms tussen die VSA, China, Brittanje, Frank­ryk, Duitsland, Rusland en Iran is teen Israel se wense.

Die herverkose Israelse premier het die raamwerkooreekoms as ‘n “baie slegte ooreenkoms” gekritiseer. Benjamin Netanyahu het tot dusver alles in die stryd gewerp om die ooreenkoms te keer.

Na al sy luide verontwaardiging, veral voor die Amerikaanse kongres verlede maand en vroeër by die VN se Algemene Vergadering met ‘n tekening van ‘n bom, het die Lausanne-ooreenkoms hom na ‘n ondoeltreffende en gemarginaliseerde speler laat lyk.

Die gesamentlike omvattende aksieplan is ná etlike dae van intensiewe gesprekke tussen Iran en die ses wêreldmoondhede wat verby die sperdatum geloop het, in Switserland ter tafel gelê.

Die ooreenkoms sal Iran se vermoë om kernkrag op te wek aanmoedig, in ruil vir die verslapping van Westerse sanksies wat die land se ekonomie al ‘n dekade lank negatief raak.

Iran beplan om sy kernprogram vir vreedsame doeleindes aan te wend, waaronder ­kragopwekking en mediese toepassings.

Die voorlopige ooreenkoms sal waarskynlik tot ‘n finale en meer omvattende ooreenkoms lei wat voor ’n sperdatum van 30 Junie vanjaar tussen die betrokke lande gesluit moet word.

Dit behels onder meer dat die land sy verrykte uraanvoorraad oor die volgende 15 jaar verminder, asook sleutel-kerntoerusting.

Inspeksies deur die Westerse kernwaghond, die IAEA, word reeds deur Iran toegelaat.

Pres. Barack Obama het verklaar dat hy vol vertroue is dat die ooreenkoms Iran se kernwapenprogram sal beperk.