LP’s eis dat SABC-voorsitter afgedank word

Die parlementêre portefeuljekomitee oor kommunikasie het Woensdag besluit dat Ellen Tshabalala, SABC-voorsitter, uit haar amp verwyder moet word.

‘n Ondersoek deur die komitee of Tshabalala oor haar akademiese kwalifikasies gelieg het, het haar skuldig bevind op twee aanklagte van wangedrag. “Ons beveel aan dat sy uit die SABC se raad as voorsitter en raadslid verwyder moet word,” het Joyce Moloi-Moropa, voorsitter van die komitee gesê.

Tshabalala het 14 werksdae om te reageer op ʼn verslag wat die komitee se bevindinge en aanbevelings bevat. Die verslag en Tshabalala se repliek sal aan die Nasionale Vergadering gestuur word vir goedkeuring.

Slegs president Zuma kan haar uiteindelik afdank.

Intussen sal LP’s die speaker versoek om Zuma skriftelik te vra om haar onmiddellik te skors.

Die komitee het sy beslissing gemaak nadat ‘n UNISA-amptenaar aan die ondersoekspan dokumente voorgelê het oor die gebrek aan Tshabalala se akademiese prestasie.

Sy het vir ‘n BComm-graad en ‘n diploma in arbeidsverhoudinge geregistreer, maar het geen van die kwalifikasies behaal nie.

Jan van Wyk, uitvoerende direkteur van Unisa, het getuig dat Tshabalala in 1988 en 1996 vir haar BComm-graad geregistreer het, maar nie haar studies voltooi het nie. Volgens UNISA het sy in 1995 vir ʼn diploma in arbeidsverhoudinge geregistreer.

Tydens haar akademiese jaar het sy twee modules geslaag, twee gedruip en nie eksamen afgelê vir twee van die modules nie.

In Januarie 1996 kon sy aan ʼn hereksamen deelneem vir die twee modules wat sy nie die vorige jaar afgelê het nie.

Sy het 13% behaal vir die menslikehulpbronne-module en 35% vir arbeidsverhoudinge. Unisa het toe ‘n brief aan haar geskryf om aan te dui dat sy nie kwalifiseer om weer die kursus te doen nie. “Die brief sê dat sy so swak gevaar het dat sy nie weer toelating sal kry nie,” het Van Wyk uitgewys.

Tshabalala is skuldig bevind op twee aanklagte van wangedrag. Die een klag hou verband met inligting op haar CV dat sy die twee kwalifikasies behaal het toe sy aansoek gedoen het vir haar pos as voorsitter van die SABC.

Die tweede klag is in verband met ‘n beëdigde verklaring wat sy afgelê het en by die parlement ingedien het waarin sy beweer haar kwalifikasies is tydens ‘n diefstal uit haar huis gesteel. Sy was nie Woensdag by die ondersoek teenwoordig nie.

Michael Tillney, vir Tshabalala, het vroeër sy kliënt se verklaring aan die komitee voorgehou waarin sy “prosedurele onbillikheid” as rede vir haar afwesigheid aanvoer.

Sy het onskuldig gepleit, maar dit is van die hand gewys.

Waarnemende SAL-hoof sê grade-fout is reggestel

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens se waarnemende uitvoerende hoof, Nico Bezuidenhout, het sy stilswye verbreek ná bewerings dat hy soos sekere swart aanstellings oor sy akademiese kwalifikasies gelieg het.

Die SAL het vroeër die week toegegee dat sy jaarverslae vir 2011 en 2012 nie korrek was om aan te dui dat Bezuidenhout ‘n B Comm-graad in Vervoerekonomie en Bedryfsielkunde het en ook oor ‘n MBA beskik nie.

Dit is in 2013 reggestel. Bezuidenhout het nie sy tersiêre studies voltooi nie.

Bezuidenhout het gesê ook Mango-personeel en Mango se direksie waar hy in 2006 aangestel is, het nog altyd geweet dat hy het nie ‘n graad nie. Hy het niemand daaroor om die bos gelei nie.

Vroeër op Dinsdag, het die SAL se direksie in ‘n verklaring gesê dat hulle by hulle waarnemende hoof uitvoerende beampte (HUB) staan.

Bezuidenhout het aan die media gesê sy huidige personeel sowel as kollegas het nog altyd geweet dat hy nie ‘n graad het nie.

Bezuidenhout het op sy beurt gesê sy ervaring en bewese diensrekord is goeie plaasvervangers vir akademiese kwalifikasies.

SAUK-raadsvoorsitter versin glo ook kwalifikasies

Ellen Tshabalala, die voorsitter van die SAUK-raad, kan nie aan die portefeuljekomitee oor kommunikasie bewys lewer van haar sogenaamde kwalifikasies nie.

Die komitee sal glo aanbeveel dat president Jacob Zuma Tshabalala vir die duur van die ondersoek skors.

Tshabalala, wat in Oktober aangestel is, het op haar CV beweer sy het ‘n BCom-graad aan die Universiteit van Suid-Afrika behaal, sowel as ‘n nagraadse kwalifikasie in arbeidsverhoudinge.

In Julie, het City Press berig dat die universiteit bevestig het dat Tshabalala nie die kwalifikasies het nie.

Die universiteit het slegs die inligting vrygestel nadat ‘n aansoek in terme van die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting Wet gemaak is.

Joyce Moloi-Moropa, ANC-lid van die Parlement en die voorsitter van die komitee, het bevestig dat Tshabalala nie behoorlike antwoorde kon verskaf nie.

Die komitee vergader Dinsdag om die ondersoek te finaliseer. Die komitee sal dan besluit of Tshabalala geskors moet word.

In ooreenstemming met artikel 15 van die Wet op Uitsaaiwese, kan sy nie langer in die amp dien nie. Tshabalala kan ook krimineel aangekla word omdat meineed ‘n kriminele oortreding is.