Dertig Christene deur ISIS onthoof

Die Islamitiese Staat-groep het ‘n video vrygestel wat toon hoe 30 Christene tereggestel word.

Die beeldmateriaal van 29 minute wys hoe “volgelinge van die kruis” op ‘n strand onthoof word en ander doodgeskiet word.

Die Ethiopiese Christene is in Libië ontvoer.

Dit is soortgelyk aan ‘n ISIS-video wat toon hoe 21 Egiptiese Christene in Februarie tereggestel is.

Die groep beheer tans groot dele van Sirië en Irak en het die steun van Saoedi-Arabië, ‘n Amerikaanse bondgenoot.

ISIS het reeds in dele van die Midde-Ooste en Afrika-lande soos Libië uitgebrei.

Noord-Afrika is deur Amerikaans-geleide NAVO-lugaanvalle gedestabiliseer wat die opkoms van ISIS vergemaklik het.

‘n Woordvoerder van die Ethiopiese regering het die grusame daad veroordeel.

ISIS is bedrywig op die internet en het ‘n span kuberkrakers wat namens hulle kuberaanvalle doen.

NAVO en EU moet waak teen kuberaanvalle

Dringende waarskuwings is aan NAVO en die EU gerig om besonder waaksaam te wees oor geheime intelligensiemateriaal nadat kuberaanvalle uit China glo toegeneem het.

Onlangse aanvalle het regerings- sowel as militêre instellings in die VSA geraak en kenners meen die Weste is nie werklik gestaal daarteen nie.

Veral die Europese Unie is kwesbaar as kuberveiligheid aan lidlande oorgelaat word, meen kenners.

Diplomatieke bronne in NAVO sê Chinese aanvalle vind toenemend op ‘n gereelde basis plaas.

In die VSA is ‘n amptelike verslag Vrydag bekend gestel waarin daar geraam word dat die aantal aanvalle op die Kongres en ander regeringsinstansies bykans 1,6 miljard elke maand beloop.

Die Chinese kuberpenetrasie in sleutelposte van die EU en NAVO het die normale vloei van intelligensie streng beperk.

Die Britse Kantoor vir Kuberveiligheid by die Kabinetskantoor in Londen sê daar is twee soorte aanvalle. Die eerste soort is om die stelsel lam te lê en die tweede om te gaan “visvang” vir sensitiewe inligting.

‘n Spesiale kantoor word tans by die Britse hoofkommunikasiekantoor, die GCHQ in Gloucestershire, ingerig om die groeiende bedreiging aan te spreek. Hulle sal teen die einde van die maand operasioneel wees.

Volgens veiligheidskenners kyk die Chinese na sake soos wapenverkope, kernsperinligting, Tibet en energie.

‘n Britse veiligheidkenner meen die traagheid van Europa om inligting met die VSA uit te ruil, maak hulle meer kwesbaar omdat hulle nie op standaard is nie.

Die direkteur-generaal van MI5, Jonathan Evans, het in 2007 gewaarsku dat verskeie lande betrokke is in grootskaalse kuberaanvalle.

Robert Mueller, FBI-direkteur, het verlede week gewaarsku dat Al Kaida in die toekoms ‘n soortgelyke bedreiging kan inhou en sal binnekort “fisiese aanvalle met kuberaanvalle kombineer”.

Die VSA het verlede jaar die Office of Cyber Security opgerig met kubertsaar Howard Schmidt aan die spits om die Amerikaanse regeringsrekenaars te bewaak.

Dit is nie bekend of die Britte deelneem aan kuberaanvalle nie.

Kenners sê daar is ‘n onderskeid tussen sulke aanvalle en die inligtingsoorlog wat daagliks woed.

бокалы хрусталь купитьтопкарго