Internasionale Strafhof laat name van sleutelgetuies uitlek

Die Internasionale Strafhof het om verskoning gevra nadat die name van sleutelgetuies tydens die verhoor van die voormalige president van die Ivoorkus, Laurent Gbagbo, uitgelek het.

Die beskerming van getuies een van die belangrikste beloftes van die Internasionale Strafhof. In sekere gevalle word getuies na ‘n ander land verskuif en ‘n nuwe identiteit gegee.

Die regter het gesê hy weet nie of dit “roekeloosheid, oppervlakkigheid of onnoselheid” was wat die fout veroorsaak het nie.

Voorsittende regter Cuno Tarfusser het bygevoeg dat hy nie wil “spekuleer oor iets anders nie”, waarmee hy opsetlikheid gesuggereer het.

Verslaggewers in Den Haag berig dat die voorval na die openbare galery versprei het en die opname is sedertdien op sosiale media geplaas.

Die hof sê hy het per ongeluk die name van verskeie getuies bekendgemaak wat onder beskerming is.

Die aanklaer het Vrydag egter die name van verskeie getuies onthul wie se identiteit geheim gehou moes word omdat hy glo onder die indruk was dat die mikrofone afgeskakel is.

Gbagbo ontken die aanklagte van oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom, na die geweld wat na afloop van die omstrede presidentsverkiesing in 2010 in die land voorgekom het.

Dit is die belangrikste verhoor nog vir die Hof, wat nog net twee mense, beide Kongolese krygshere skuldig bevind het, sedert sy stigting in 2002.

Die Hof verkeer reeds onder groot druk weens ‘n gebrek aan geloofwaardigheid.

Ivoorkus-leier se verhoor kan tot nuwe spanning lei

Die voormalige president van die Ivoorkus, Lau­rent Gbagbo, het op die eerste dag van sy verhoor in die Internasionale Strafhof (ICC) skuld op alle aanklagte teen hom ontken.

Gbagbo het gesê hy is steeds die slagoffer van “neokoloniale inmenging” deur Frankryk.

Die verhoor kan tot hernude spanning in die Ivoorkus lei waar Gbagbo steeds gewild is onder sekere stamme.

Hy is Vrydag deur aanklaers beskuldig van die orkestrasie van “redelose geweldpleging”, waaronder moord en bendeverkragting deur sy ondersteuners, ten einde sy amp te behou nadat hy ’n verkiesing verloor het.

Dit het tot ’n burgeroorlog in sy land gelei.

Gbagbo (70) se medebeskuldigde, die jeugleier Charles Ble Goude (44), het ook skuld ontken en gesê hy erken nie die aanklagte nie.

‘n Burgeroorlog het in 2011 in die Ivoorkus gewoed vir vier maande lank toe Gbagbo geweier het om uit sy amp te tree.

Nagenoeg 3 000 mense het omgekom in gevegte. Frankryk, die voormalige koloniale heerser, is genoodsaak om militêr in te gryp om die wenner van die verkiesing, Alessane Ouattara, as president te kon inhuldig.

Die ICC-aanklaer, Fatou Bensouda, het gesê Gbagbo en sy binnekring het Moslems en mense van ander etnisiteite geteiken.