Ivoorkus-leier se verhoor kan tot nuwe spanning lei

Die voormalige president van die Ivoorkus, Lau­rent Gbagbo, het op die eerste dag van sy verhoor in die Internasionale Strafhof (ICC) skuld op alle aanklagte teen hom ontken.

Gbagbo het gesê hy is steeds die slagoffer van “neokoloniale inmenging” deur Frankryk.

Die verhoor kan tot hernude spanning in die Ivoorkus lei waar Gbagbo steeds gewild is onder sekere stamme.

Hy is Vrydag deur aanklaers beskuldig van die orkestrasie van “redelose geweldpleging”, waaronder moord en bendeverkragting deur sy ondersteuners, ten einde sy amp te behou nadat hy ’n verkiesing verloor het.

Dit het tot ’n burgeroorlog in sy land gelei.

Gbagbo (70) se medebeskuldigde, die jeugleier Charles Ble Goude (44), het ook skuld ontken en gesê hy erken nie die aanklagte nie.

‘n Burgeroorlog het in 2011 in die Ivoorkus gewoed vir vier maande lank toe Gbagbo geweier het om uit sy amp te tree.

Nagenoeg 3 000 mense het omgekom in gevegte. Frankryk, die voormalige koloniale heerser, is genoodsaak om militêr in te gryp om die wenner van die verkiesing, Alessane Ouattara, as president te kon inhuldig.

Die ICC-aanklaer, Fatou Bensouda, het gesê Gbagbo en sy binnekring het Moslems en mense van ander etnisiteite geteiken.

Maak 'n opvolg-bydrae