Nadat die Aksiegroep, wat by die Nasionale Belastingbetalersunie van mnr. Jaap Kelder geaffilieer is, 'n tydelike hofbevel teen die munisipaliteit verkry het, het die burgemeester, munisipale bestuurder en finansiële bestuurder steeds geweier om die krag aan te sit.
Mnr. Johan Matthee, voorsitter van die Aksiegroep Colesberg, 'n klag van minagting van die hof teen die burgemeester en sy twee mede-amptenare gelê. Hy sê: "Nadat die stukke deur die balju op die respondente bestel is, het die munisipale bestuurder steeds hardnekkig geweier om die kragtoevoer te herstel. Ek was derhalwe genoodsaak om lasbriewe vir die inhegtenisneming van die munisipale bestuurder, burgemeester en die finansiele bestuurder aan te vra op sterkte van minagting van die hof. Die lasbriewe is uitgereik en die polisie het onmiddellik opgetree.
"Die munisipale raad het gistermiddag 14:00 'n spesiale raadsvergadering gehou (rede onbekend) en toe die vergadering verdaag, het die polisie gereed gestaan om die mense te arresteer. Die munisipale bestuurder het toe so groot geskrik dat hy daar-en-dan opdrag gegee het dat die krag weer aangeskakel moet word".
Volgens mnr. Matthee het hy "om 17:45 begin oproepe ontvang van baie dankbare inwoners om te bevestig dat hulle kragtoevoer, ná 5 weke in die donker en in uiterse koue, herstel is."
Die keerdatum vir die bekragtiging van die tussentydse hofbevel is 28 Julie 2009. Tensy die munisipaliteit verweer aanteken, sal die bevel dan finaal verklaar word.
Die inwoners dring daarop aan dat hulle net vir elekrisiteit wil betaal, hetsy per rekening, hetsy per voorafbetaalde meter, terwyl hulle dispuut met die Colesbergse munisipaliteit aan die gang is.
Die inwoners beroep hulle op die Munisipalestelselswet nr. 32 van 2000, waarvan artikel 102(2), saamgelees met artikel 102(1), bepaal dat 'n munisipaliteit nie 'n belastingbetaler se skuld vir dienste mag konsolideer "waar daar 'n dispuut met die munisipaliteit bestaan nie".
Aksiegroep Colesberg is finansieel bygestaan deur die Nasionale Belastingbetalersunie om sy regskoste te dek, met advokaat Mari Olivier wat vir die Aksiegroep opgetree het.
