Die departement van binnelandse sake het gister gereageer op klagtes dat hy nie meer die toestroming by ons landsgrense kan hanteer nie deur te sê dat “vertragings te wagte kan wees”. Sedert die begin van die vakansieseisoen is 130 000 reisdokumente reeds “verwerk”.
Vanweë die groot aantal mense wat na verskeie bestemmings reis, gaan hulle noodwendig tyd in toue deurbring maar “die departement doen alles wat hy kan om doeltreffendheid by grensposte te verseker”.
‘n Sekere Mayihlome Tshwete van die dept. van binnelandse sake “weet nie hoeveel” mense op Kersdag deur die grensposte sal beweeg nie maar meen dat die nodige maatreëls getref is om enige gebeurlikheid te hanteer.
“Ons het gebeurlikheidsplanne om daardie volumes te hanteer,” sê hy.
Onlangs is berig dat ‘n swanger vrou inderhaas hospitaal toe geneem moes word nadat sy vier ure lank by die Beitbruggrenspos moes toustaan. Volgens die swart nasionalis en tans woordvoerder van die inkomstediens, Sandile Memela, “is doeanepersoneel opgelei om prioriteitsreisigers te hanteer”.
“Amptenare is opgelei om reisigers te identifiseer wat prioriteitsaandag verg soos swanger vrou, kinders en oumense.
Die inkomstediens en binnelandse sake sê dat hul samewerkingsprogram om prosesse te bespoedig en strenger grensbeheer in te stel, geslaagd is.
‘n Groot klomp Zimbabwiërs stroom ook oor die grens om inkopies in die grensdorp Musina te gaan doen.


