Hier is hoe die Bokke gevaar het:
Beast – 7 uit 10. Een van die beter spelers in die Bokspan. Het Mat Dunning harde bene laat kou.
Bismarck du Plessis – 8 uit 10. Saam met Adi Jacobs die beste speler in die Suid-Afrikaanse span. Is die enigste Springbok wat kan meeding by die breekpunte en balle steel van die oposisie.
CJ van der Linde – 2 uit 10. Hy kan baie bly wees dat hy die volle wedstryd gespeel het. Die skeidsregter moes hom die trekpas gegee het ná min of meer 10 minute se spel toe hy kop verloor het en een van die Aussies met die kop bygekom het. Hy spandeer ook hopeloos te veel tyd in die agterlyn.
Andries Bekker – 5 uit 10. Het end-uit prober, maar het net nie die fisiese teenwoordigheid wat van ‘n internasionale slot verwag word nie.
Victor Matfield – 3 uit 10. Beïnvloed die kapteinskap sy spel? Hy is op die oomblik nie ‘n skadu van die speler wat hy laasjaar was nie. Suid Afrika het 3 lynstane op hulle eie ingooi verloor, iets wat ondenkbaar was verlede jaar. Verder het Matfield met sy gewoonlik baie betroubare hande weer‘n afskop verbrou. Met die skrum wat daarna gevolg het, het Mortlock onder die pale gaan druk.
Schalk Burger – 4 uit 10. Schalk Burger lyk baie prominent, want sy witkop is orals, maar as oopkant flank staan hy baie vêr agter Richi McCaw en George Smith. Suid-Afrika sal ernstig moet dink om ‘n baljagter in die span in te sluit, en die enigste baljagter in Suid-Afrika na waarde is Baywatch Grobbelaar.
Juan Smit – 4 uit 10. Juan was nog nooit op dreef dié jaar nie en in ‘n lostrio wat sukkel, rig hy maar min uit.
Pierre Spies – 4 uit 10. Spies moes nooit in die Drienasies gespeel het nie. Hy is duidelik kort aan wedstrydoefening ná meer as 12 maande op die kantlyn. Miskien kan hy oorweeg word op vleuel as Habanna nie herstel het teen volgende week nie.
Fourie du Preez – 6 uit 10. Fourie du Preez verbeter elke wedstryd en behalwe vir die blaps op verdediging, kan hy redelik tevrede voel met sy wedstryd.
Butch James – 6 uit 10. Butch het ‘n wipplankwedstryd gehad. Het baie goed verdedig en mens kon sien hy het iets gehad om te bewys. Sy beste wedstryd van die jaar. Het Fourie du Preez se beter diens iets daarmee te doen?
Jongi Nokwe – 1 uit 10. Het nie rêrig iets verkeerd gedoen nie, maar ook nie rêrig iets gedoen nie. ‘n Internasionale vleuel wat sy sout werd is, soek werk. Nokwe was anoniem op die veld.
Jean De Villiers – 7 uit 10. Jean beleef die beste seisoen van sy loopbaan, en het die lyn ‘n hele paar keer gebreek.
Adi Jacobs – 8 uit 10. Die Bokke se ligpunt. Sy insluiting in die Springbokgroep die jaar het die wenkbroue laat lig maar hy het met goeie vertonings week in en uit rugbykenners en opposisie laat kennis neem van hom.
JP Pietersen – 2 uit 10. Soos Nokwe het hy nie sy wedstrydgeld verdien nie. Soek glad nie werk nie en baie basiese vaardighede ontbreek om op dié vlak ‘n bedreiging in te hou vir ander spanne.
Conrad Jantjes – 5 uit 10. Die beste van die agterste driehoek en sy bes probeer saam met twee vleuels wat min ondersteuning bied.
Plaasvervangers:
Luke Watson – 0 uit 10. Wat sy funksie in die span is, weet nugter alleen. Alhoewel hy as losvoorspelerreserwe sy verksyning op die veld maak, staan hy heeltyd in die agterlyn. Sy verdedigingspoging op Mortlock sou ‘n laerskoolkind laat skaam kry het.
Percy Motgomery – 3 uit 10. Miskien is dit nou tyd vir Percy om uit te tree.
Die ander reserwes het ook nie rêrig enige impak gemaak nie. Peter de Villiers sal hierdie week moet kopkrap oor die samestelling van sy span. Buiten een of twee spelers is bogenoemde span min of meer die beste wat tot Suid-Afrika se beskikking is en ook die span wat die wêreldbeker gewen het.
Dit laat die vraag oor Peter de Villiers se afrigtingsmetodes opkom; of daar enige afrigting plaasvind, sal net hy weet.
дом игрушек киевФильчаков прокурор харьков