Hierdie wêreldkampioenspan lyk op die oomblik soos ‘n klomp afkophoenders. Die vaste vyf spandeer meer tyd in die agterlyn as in die losskrums en ons agterspelers word gelos om te stoei vir die losbal. Ná elke wedstryd was ons gebreke duidelik: te min spelers by die afbreekpunte, en te min spelers wat ondersteun. Vyf wedstryde later is nog niks gedoen om hierdie leemte aan te spreek nie. Selfs die dronkste dronkie agter in die kroeg kan sien dat dit is waar die bokke te kort skiet, maar nie Peter de Villiers nie. Volgende week sal hy seker met allerhande verskonings vorendag kom, die skeidsregter blameer en sommer ook die spelers. Ongelukkig, meneer De Villiers, lyk die spelers onafgerig en wys alle vingers na jou. Sterkte vir volgende week, jy gaan dit nodig hê!
