ZB du Toit ? dood van ‘n vriend

Vanoggend vroeg is ZB du Toit, assistent-redakteur van Rapport, in 'n Pretoriase hospitaal oorlede. Hy het 'n harde geveg teen kanker aangeknoop, 'n rare buikkanker waarvoor chemoterapie nie gebruik kon word nie. Hy het verlede week vir my reguit gesê hy wil nou huis toe gaan. Hy het gesterf soos hy geleef het: 'n vegter, 'n realis, 'n briljante denker wat nog tot op die laaste oor die VSA-verkiesing wou praat, 'n méns, 'n kameraad.
Saam met Chris Karsten, Bokkie Gerber, Herman Jansen, Piet Muller en Annemarie Mischke het ZB die kern van my bestuurspan by Rapport gevorm. Mischke het hom die eerste maal genooi om vir Rapport te skryf toe hy nog redakteur van Die Patriot was. Hy het aandag getrek met sy fyn redenasies. Toe die KP en Patriot hom sonder waarskuwing in die pad gesteek het, het hy by Rapport aangeklop. Hy is aangestel en het onmiddellik deel van die span geword, soveel so dat toe ek hom die hoofskap van die Pretoria-kantoor aangebied het, hy dit geweier het "om liewer te bly waar die aksie is." Dieselfde toe ek hom Politieke Beriggewer wou maak. Hy was uiters lojaal, 'n harde werker, 'n knap joernalis, vakman van die woord met 'n gawe vir vriendskap en jovialiteit. Ek het hom na die moord op Chris Hani Pole toe gestuur met die opdrag: "Gaan soek die Walus-familie en skryf 'n berig. En as jy dit nie kry nie, gaan dan sommer reguit Kazakstan toe en moenie terugkom nie!" Hy het gelag en die Walus-familie opgespoor.

Hy kon verbete argumenteer. Ten onregte is hy as "regs" getjap, veral deur ander politieke beriggewers. Ek en hy het nog steeds 'n weddenskap aan vir R1000. Hy het gesê Obama gaan in die VSA wen. Daarby was hy teen die oorlog in Irak en vir die Palestyne. Hy was 'n ondersteuner van Gordon Brown as "eerlike man". Dit was soos ZB self was: 'n werklik eerlike man, in sy lewe en oortuigings. En hy het altyd hoop gehad vir hierdie land.

ZB sou die ideale buitelandse korrespondent gewees het. Hy het oral, letterlik oral, vriende gehad: in die VSA, in die VK, in Duitsland, selfs tot in die kabinet van Mugabe én ook die MDC. Hy kon net die foon optel en praat. Dan het hy die storie gehad, al het hy nie altyd saamgestem nie. En hier in elke politieke party.

Hy was 'n Afrikaner deur en deur. Baiemaal, soos ons almal, ook verkeerd in sy standpunt, maar eerlik genoeg om te erken dat hy verkeerd was. Hy het my onlangs die kompliment gemaak dat sy beste jare in die pers saam met my was. Hy het die respek gehad van Tim du Plessis. Maar in die tyd toe ek daar weg is en voor Tim gekom het, het hy uitgestoot gevoel. Toe het hy in die aandelemark begin belangstel en kon ewe goed sakeredakteur geword het. Dankie, Tim, dat jy hom waardeer het.

Ek self verloor 'n groot vriend. Ons het gereeld gepraat oor die foon en gekuier. Onlangs nog het ons saam oor ons kaal koppe gelag toe ons saam in Pretoria geëet het.

Ek sal jou mis, my kameraad.

Ich hatt einen Kameraden,
Einen bessern findst du nicht …

"Kann dir die Hand nicht geben,
Bleibst du im ew'gen Leben
Mein guter Kamerad!"

люстры италия брендылобановский александр дети

5 thoughts on “ZB du Toit ? dood van ‘n vriend”

    1. Nie regtig nie. ZB het uitgevaar teen die neocons. Sedert sy dood het Rapport nooit weer oor die onderwerp geskryf nie. Hy het skielik kanker gekry toe Rapport uitvind waarmee hy besig is, net soos Chris Louw en Chris Landman. Die Broeders is nie baie slim nie, maar hulle base is nie so dom nie.

      1. “…skielik kanker gekry…” Interessant! Jy wil dus beweer dat die kanker nie spontaan was nie, maar wel ontstaan het deur die toedoen van mediese sabotasie…? Mens moet nie spoke opjaag nie, maar nog so ‘n voorbeeld is Paul Alberts van Brandfort, wat net toe hy op dreef was met Kraal Uitgewers (en terug by sy volk), kanker gekry het.

        1. Boerseun ek is dankbaar vir n geleentheid om by jou aan te
          sluit – ek het drie vriende verloor – Hulle was gesond – twee hospitaal toe vir
          n operasie en een vir n ingewande ondersoek – al drie binne drie dae dood – dag een op n resperator – dag twee het niere ingegee en op die niermasjien geplaas en dag drie het die ingewande gaan staan en is hulle dood, dit was by drie verskillende hospitale. Ek bevraagteken die steriotiep van die drie gevalle.

  1. Wanneer en waaraan is hy dood? Ek het hom ook geken vanaf die Patriot se dae.
    Dr Andries Treurnicht se dood was ook eienaardig vir my – maar my inligting was baie verwarrend.
    Mooi huldeblyk.
    Laat ons die goeie dinge aan die lewe hou en die swakhede/ sondes begrawe.
    Pas julleself mooi op Dan…

Maak 'n opvolg-bydrae