Magersfontein o Magersfontein!

Vandag, op 11 Desember, herdenk ons die Slag van Magersfontein tydens die Anglo-Boereoorlog. Tesame met die konflikte tussen Boer en Brit by Stormberg en Colenso, was hierdie een van die drie groot Britse terugslae tydens die sogenaamde “Swart Week” van die oorlog.

Image

Vertrou in God en die Mauser!

 

Enkele maande voor die oorlog uitgebreek het, het generaal Piet Joubert 30 000 Mausers en ’n aantal moderne veldkanonne en outomatiese wapens van Krupp en Creusot aangekoop. Die Boere was entoesiasties, en reg om die Britte te verdryf. “Vertrou in God en die Mauser!” het hulle slagspreuk geword. Die Britte weer was vol vertroue dat hulle die Boere gou sou oorwin. Hulle militêre taktiek  was egter nie aangepas vir die situasie in Suid-Afrika nie, waar hulle uit loopgrawe met moderne wapens aangeval is. Die Boere was verder goeie ruiters, uiters beweeglik en het die terrein goed geken.

Image

Paul Methuen en Piet Cronj?

Lord Methuen het op 11 November 1899 met 10 000 man na die beleërde Kimberley beweeg. Ná ’n skermutseling met Boeremagte naby Modderrivier, het Methuen besluit om sy soldate te laat rus en op versterkings te wag. Dit het aan die Boere tyd gegee om verskillende opsies te oorweeg. Uiteindelik het generaal Koos de la Rey opdrag aan sy 8 500 manskappe gegee om loopgrawe aan die voet van die koppies by Magersfontein te grawe. Teen hierdie tyd het Methuen 15 000 soldate onder sy bevel gehad. Die res van die Highland Division se troepe het intussen by hom aangesluit onder die leiding van majoor-generaal Andrew Wauchope. 100 Infanteriesoldate en die Gordon Highlanders het ook opgedaag. Nou was Methuen gereed vir die Boere.

Image

Die Higland Light Infantry

 

Op 10 Desember het hy sy artillerie opdrag gegee om die koppies rondom Magersfontein te bombardeer. Hulle het egter niks bereik nie, want die Boere was natuurlik veilig onder die koppies ingegrawe. Net ná middernag op 11 Desember het die Highland-brigade met hulle opmars van 96 rye met 100 man elk begin. Hulle was heeltemal onvoorbereid om die Boere in loopgrawe aan te tref. Teen 04:00 die oggend, net toe Wauchope reg was om sy manne te beveel om tot die aanval oor te gaan, het die Boere begin skiet. Die Boere het skynbaar leë blikkies aan drade voor hulle manne in die eerste linies gehang om hulle te waarsku as die Engelse naderkom.

Image

Die loopgraaf van waar die Highlanders afgemaai is

Die Highland-soldate het nie ’n kans gestaan nie. Die Boere het onverbiddelik op hulle losgebrand. Wauchope en heelwat van sy offisiere is doodgeskiet. Helfte van die Britse manskappe het omgedraai en gevlug. Op pad terug het hulle die bevelvoerder van die Highland Light Infantry doodgetrap. Ten spyte van hierdie ramp het die Britte tog na aan ’n oorwinning gekom. Aan die regterkant van Wauchope se troepe het die Seaforths en Black Watch daarin geslaag om deur die Boerelinies te breek en die agterste helling en nek tussen die kop en die rif te begin bestyg. Die enigste Boere onder teen hierdie koppie was Piet Cronjé en ses van sy manne, wat daar geslaap het. Toe die Highlanders egter die koppie wou begin uitklim, het Cronjé en sy manskappe hulle met geweervuur bestook. Die Engelse soldate was nie seker hoeveel Boere daar was nie, en het gestop en begin terugskiet. Boereversterkings het die gaping in hulle geledere vinnig toegemaak. Die Britse artillerie, wat onbewus was van die teenwoordigheid van die Highlanders in hierdie area, het die koppie begin bestook. Die enigste goeie kans op ’n Britse oorwinning was daarmee heen. Die Gordons is ingestuur, maar hulle kon geen hond haaraf maak nie.

Volgens oorlewering het sommige van die Boere erg geskrik vir “die mans in rokkies” en sommige het aanvanklik gedink dat die kilt-geklede soldate vroue was. Die Britte weer het verskriklik verbrand in die versengende Afrika-son.

Methuen het die situasie nie reg opgesom nie. Hy het steeds die Guard’s Brigade tot sy beskikking gehad, maar hulle om een of ander rede nie ingespan nie. Die Highlanders is beveel om te bly waar hulle was tot dit donker word, in die hoop dat die Boere oornag die area sou verlaat. Teen 13:30 het die Boere egter gaan stelling inneem van waar hulle die Highlanders beter kon bestook. Aanvanklik het die Britte gedink die Boere blaas die aftog en nie verstaan waarheen hulle besig was om te beweeg nie. Vele Highlanders is in hierdie fase doodgeskiet. Nog meer chaos het gevolg toe die Boere hulle artillerie ingespan het. Hiermee was die geveg eintlik verby.

Image

Skandinawiese gedenkteken

Teen 18:00 op die eerste dag het die Boere hulle loopgrawe verlaat om die Britse geneeshere en ambulanspersoneel by te staan om die gewonde Britse soldate van die slagveld te verwyder. Hulle het hulle watervoorraad met die gewonde vyand gedeel. Op dag twee het die Boere ’n wapenstilstand voorgestel. Weer het hulle die veiligheid van die loopgrawe verlaat en gaan help om die Britse dooies en gewondes te verwyder.

Methuen het egter eers teen die volgende oggend besluit om die aftog te blaas. Aan albei kante was daar min ammunisie oor. Methuen het amper 1000 manskappe verloor. Die Highland-brigade het die swaarste verliese gely. Aan Boerekant was daar 71 verliese.

Die Slag van Magersfontein het die Britte se hoop beëindig om die beleërde Kimberley te bevry. Methuen het na die Modderrivier teruggeval, waar hy gebly het tot Lord Roberts in Februarie 1900 opgedaag het. Die Boere het in hulle loopgrawe gebly, in voorbereiding op die volgende Britse aanval. Dit het egter nooit plaasgevind nie, want Lord Roberts het besluit om eerder na die Vrystaat te vertrek.

купить интернет магазин украинатопкарго

Anglo-Boereoorlog breek uit op 11 Oktober

Image

Pres MT Steyn

Op 11 Oktober 1899 het die Anglo-Boereoorlog formeel uitgebreek. Die redes daarvoor was polities en ekonomies van aard. Eerstens wou die Boererepublieke van die Vrystaat en die Transvaal nie deel word van die Britse ryk nie. Hulle was weliswaar klein in vergelyking met die magtigste land op aarde, maar hulle onafhanklikheid en selfbeskikking het geen prys gehad nie. Die ontdekking van diamante in Kimberley en goud in die Transvaal was ’n belangrike rede waarom die Britte ten alle koste die twee Boererepublieke wou inlyf.

In Mei 1899 het die Vrystaatse president M.T. Steyn vir William Schreiner, eerste minister van die Kaapkolonie, Sir Alfred Milner, hoë kommissaris vir Suid-Afrika, en president Paul Kruger van die Transvaalse republiek na Bloemfontein genooi in ’n poging om oorlog af te weer. Daar kon egter geen eenstemmigheid bereik word oor die toestaan van stemreg aan die uitlanders (Engelse mynwerkers) in die ZAR nie. Ná die ontdekking van goud in 1886 het Britte op soek na rykdom na die ZAR gestroom. Tien jaar later het hulle getalle volgens sekere historici op dubbel dié van die Transvalers te staan gekom.

Image

Pres Paul Kruger

Die ontdekking van goud het van die ZAR ’n ryk republiek gemaak en Paul Kruger kon stewige bande met Frankryk en Duitsland smee. Die Britte het bekommerd geraak dat hulle gesag in Suid-Afrika dalk deur ’n ander land bedreig kon word en dat hulle Kaapse vlootbasis in gedrang sou kom. Hulle moes eenvoudig beheer oor die Kaapse seeroete behou om die Britse ekonomiese belange in Indië te verseker. In hierdie opsig was hulle nie soseer vir die Boere bang nie, maar wel vir buitelandse moondhede wat die Britse gesag in hierdie wêreldstreek kon uitdaag. Deur die twee Boererepublieke te onderwerp, kon hulle verder aan die res van die wêreld toon dat Brittanje die leidende moondheid was.

Brittanje het gevolglik die uitlanders as ’n wapen gebruik in hulle stryd om beheer oor die goudmyne en die ZAR oor te neem.

Paul Kruger het uiteindelik besluit om ’n ultimatum aan die Britte te stuur. Hy het daarop aangedring dat al die twispunte tussen die Boere en die Britte deur middel van arbitrasie besleg moes word. Verder het hy daarop aangedring dat die Britse troepe op die OVS-grens onttrek moes word en dat Brittanje moes onderneem om nie meer soldate na Suid-Afrika te stuur nie. Hy het Brittanje twee dae gegee om te reageer, anders sou hy hulle weiering as ’n amptelike oorlogsverklaring beskou.  Die Britte het geweier om aan sy eise gehoor te gee en op 11 Oktober 1899 om 17:00 het die oorlog begin.

Die Boeremagte het nooit meer as 40 000 troepe in die veld gehad nie, teenoor die Britte se 450 000. Sowat 7 792 Britse soldate is dood tydens gevegte en ’n verdere 13 250 is weens siektes oorlede. Aan Boerekant het 6 000 burgers die lewe gelaat en bykans 27 000 vroue en kinders is in die konsentrasiekampe dood.

опции иАлександр Фильчаков Васильевич

GRA-dag markeer nasionale ontwaking

Image

GRA-wapen

Vandag, 14 Augustus, is G.R.A.-dag. Toenemend verteenwoordig dit ’n datum op die Afrikaanse kalender wat gevier word, aangesien die taal wat ons vandag as Afrikaans praat en skryf, nooit sonder die lotsbepalende stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 sou bestaan het nie. Maar ook die nasionale ontwaking van die Afrikaner kan moeilik sonder die G.R.A.-beweging voorgestel word.

Min tale ter wêreld kan hul ontstaan na een enkele datum herlei. In dié opsig is ons gelukkig om so ’n dag te hê wat die opkoms van Afrikaans, die “wondertaal”, in herinnering roep.

Nadat twee Hollanders van geboorte, Arnoldus Pannevis en C.P. Hoogenhout, die weg voorberei het met hul uitsprake ten gunste van die Kaapse spreektaal, het die volgende persone op 14 Augustus 1875 in die Paarl byeengekom om die G.R.A. te stig: S.J. du Toit, Gideon Malherbe, D.F. du Toit (Dokter), D.F. du Toit (oom Lokomotief), C.P. Hoogenhout, P.J. Malherbe, A. Ahrbeck en S.G. du Toit.

Pannevis, wat sterk ten gunste van ’n Bybelvertaling in Afrikaans was, veral “voor het geestelijk heil van de gekleurde bevolking van dit land”, het nie die vergadering bygewoon nie en sommige vermoed dat hy teleurgesteld was omdat sy tydgenote by die G.R.A. nie onmiddellik die idee van ’n Bybelvertaling gesteun het nie. Maar hy het tog later by die vereniging aangesluit en het daarin gedien totdat hy dit in 1877 om gesondheidsredes moes verlaat.

C.P. Hoogenhout was insgelyks ten gunste van ’n Bybelvertaling in Afrikaans, maar nie bloot weens die “geestelike heil van die gekleurde bevolking” nie. Op 12 April 1873 skryf hy in De Zuid-Afrikaan dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word, “nie alleen ver die bruin mense nie, maar ook ver banja blankes, want daar is ook regte banja blankes wat die Hollandse taal nie half verstaan nie”.

In aanloop tot die stigting van die G.R.A. het C.P. Hoogenhout en S.J. du Toit tydens 1874 ’n briewewisseling in De Zuid-Afrikaan onder die skuilname “Klaas Waarzegger jr.” en “Ware Afrikaander” gevoer. Hoogenhout was Klaas Waarzegger en Du Toit het die alias Ware Afrikaander aangeneem. Hierdie briewewisseling het die eerste saadjie vir samewerking geplant en het regstreeks aanleiding gegee tot die uiteindelike stigting van die G.R.A.

S.J. du Toit het reeds as Ware Afrikaander een van die eerste taalreëls in Afrikaans geformuleer: “Ons skryf soos ons praat.” Hierdie pretensielose benadering sou later lei tot Afrikaans se wonderlike fonetiese spelling en nugtere, konsekwente taalreëls wat van die wêreld se groot kultuurtale soos Engels, Frans of Duits in die skadu sou stel. Vandag is Afrikaans een van die mees gestandardiseerde tale ter wêreld. Anders as Noors, Engels, Frans of baie ander tale, beskik dit maar oor één standaardvorm en ’n enkele spelwyse wat vir elke skoolkind toeganklik is. In die jargon van rekenaarhandleidings en programmatuur, was Afrikaans van meet af aan “gebruiksvriendelik”.

Maar die oprigting van die G.R.A. op 14 Augustus 1875 het oor veel meer as taalkunde gegaan. Dit verteenwoordig ook die ontwaking van die Afrikaner as nasionale groep en as volk. Die G.R.A. het ten doel gehad, nie net die bevordering van Afrikaans nie, maar ook die nasionale belange van die Afrikaner. In artikel II van die “Algemene Bepalings” van die genootskap word dit as doelwit gestel “om te staan ver ons Taal, ons Nasie en ons Land”.

Reeds ’n maand voor 14 Augustus 1875 het die groep ’n “Afrikaanse Volkslied” op 7 Julie in De Zuid-Afrikaan gepubliseer waaruit hul patriotiese ingesteldheid blyk. Ook hul “Manifes” het die groep hul beroemde uitspraak gelewer dat daar drie soorte Afrikaners was: “Daar is Afrikaanders met Engelse harte. En daar is Afrikaanders met Hollanse harte. En dan is daar Afrikaanders met Afrikaanse harte. Die laaste noem ons Regte Afrikaanders, en die veral roep ons op om aan ons kant te kom staan.”

Image

Die genootskap publiseer die eerste Afrikaanse koerant

 

Vanaf 15 Januarie 1876, het die genootskap sy eie koerant uitgegee met die naam “Die Afrikaanse Patriot”. Aanvanklik is dit ’n maandblad, maar as die gewildheid van die koerantjie toeneem, word dit ’n weekblad. Vanaf slegs vierhondernd intekenare in 1876 styg dit tot oor die drieduisend in die tagtigerjare en word so die grootste Afrikaanse koerant in die land. Waarom was Die Patriot so gewild? Vanweë die taalmedium, sekerlik, maar ook omdat die koerant duidelik standpunt ingeneem het téén die anneksasie van die Transvaal deur Engeland in 1877 en ook die kandidatuur van Paul Kruger vir die Transvaalse presidentskap gesteun het.

Vanuit die Patriot-stal word ook verskeie boekpublikasies uitgegee soos Eerste beginsels van die Afrikaanse taal, asook ’n Afrikaanse Almanak wat vanaf 1877 verskyn.

’n Mens kan jou vandag nouliks voorstel watter durf daardie klein groepie Afrikanerintellektuele destyds aan die dag moes gelê het. Aanvanklik is hulle deur die Kaapse establishment, sowel Hollands as Engels, doodgeswyg. Maar soos wat die beweging momentum verkry het, is hulle toenemend verguis. In ’n toespraak het die Kaapse hoofregter, lord J.H. de Villiers, dit duidelik gemaak dat Engels die toekomstige taal van Suid-Afrika sou wees. Aan die kant van Nederlandsgesindes, is Afrikaans as ’n minderwaardige taaltjie sonder ’n letterkunde beskou wat die saak van ’n Dietse kultuur in Suid-Afrika net sou bederf.

S.J. du Toit het reeds in 1885 met ’n Afrikaanse vertaling van Die Bybel begin, maar die Vrystaatse en Kaapse sinodes het hulself teen ’n Afrikaanse Bybel verklaar en daarom vind sy gepubliseerde vertalings van enkele Bybelboeke soos Genesis, Mattéus, Openbaring en die Psalme nooit werklik inslag by die breë publiek nie. Eers in 1933 sou die volwaardige Afrikaanse vertaling van Die Bybel die lig sien en deur die kerke aanvaar word.

Feit is egter dat die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 die vonk was wat die hele Afrikaanse beweging aan die gang gesit het. Nie net het Afrikaans tot volwaardige kultuurtaal met ’n uitgebreide letterkunde, tegniese en wetenskaplike woordeskat ontwikkel nie, maar die Afrikaner kon ook na die Tweede Vryheidsoorlog uit die as opstaan en vir hom ’n plek oopbeur in ’n vyandige, Engelstalige Suid-Afrika waarin hy maar 8% van die ekonomie – hoofsaaklik landbou – beheer het.

Al staan die Afrikaner vandag weer onder vreemde oorheersing met ’n nuwe golf van taalverdrukking en verengelsing wat sy kultuur, identiteit en voortbestaan bedreig, veg hy tans vanaf ’n hegte basis in die gedaante van sy geskiedenis en opgestapelde kulturele prestasies uit die verlede.

Ook die slagspreuk van die G.R.A. van destyds is nog ewe geldig. Mens kan dit moontlik net effe wysig om te lui: “Daar is Afrikaners met Engelse harte. En daar is Afrikaners met Australiese harte. En dan is daar Afrikaners met Afrikaanse harte. Die laaste noem ons Regte Afrikaners, en dié veral roep ons op om aan ons kant te kom staan.”

Bron: J.C. Kannemeyer. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur, deel 1. Kaapstad: Human & Rousseau, 1978.

free gamblingалександр лобановский харьков класс

Die slag van Donkerhoek

Image

Voorstelling van Donkerhoekveldslag

Donkerhoek is sowat 30 km oos van Pretoria geleë. Op 11 en 12 Junie 1900 het die Slag van Donkerhoek tussen Britse soldate en Boere-troepe hier plaasgevind. Dit was die laaste konvensionele veldslag van die Anglo-Boereoorlog.

’n Paar dae tevore, op 5 Junie, het lord Roberts Pretoria binnegemarsjeer en die Britse vlag gehys. Hy was oortuig daarvan dat die twee Boererepublieke sou oorgee as Pretoria in Engelse hande val. Paul Kruger en die ZAR-volksraad het hulleself reeds in Waterval-Boven gevestig toe die Engelse Pretoria geannekseer het. Die Engelse was gretig om die ou president gevange te neem en het geglo dit kon ’n spoedige einde aan die konflik bring. Hulle wou ook die Boere op hulle knieë dwing, aangesien hulle dit nie met die inname van Pretoria kon regkry nie. Die Boere wou die Engelse egter verhoed om Kruger agterna te sit en het hulleself ingegrawe : genl de la Rey en sy magte in die noorde by Boekenhoutkloof en genl Louis Botha met sy manne op die plase Donkerhoek en Kleinfontein.

Die Britse soldate het op 11 Junie 1900 in ’n oostelike rigting beweeg en generaal Botha begin aanval. Daar was sowat 16 000 soldate aan Engelse kant met 6 groot kanonne en 666 sogenaamde veldkanonne. Die Boere was maar ongeveer 6 000 man en hulle het 22 kanonne en een Long Tom gehad. Die Boere het teruggeval na die hoogste kop op die plaas Kleinfontein, oftewel Diamond Hill, waar die Slag van Donkerhoek (soms ook Diamond Hill genoem) op 12 Junie plaasgevind het. Die oop grasvlakte het min skuiling gebied en was nie ideaal vir die Engelse berede troepe nie.

Die Engelse het in ’n driehoekformasie aangeval: een gedeelte het die Boere van links aangeval, die ander deel aan die regterkant en die infanterie het in die middel deurbeweeg. Die Boere het nie daarin geslaag om die Engelse terug te dryf nie, maar het heldhaftig teruggeveg. Van tyd tot tyd was daar ware heldedade, soos toe ’n klompie Boere op Hamilton se brigade afgestorm het terwyl die Engelse besig was om kanonne op te stel. Volgens Arthur Conan-Doyle het sulke aksies gesorg vir “picturesque warfare” en ’n welkome afwisseling gebied van die “invisible man with his smokeless gun upon the eternal kopje.“ (The Great Boer War).

Dit het geweldig baie vir die moraal van die troepe beteken. Alhoewel hulle die aftog moes blaas, was dit “’n vlug in vol moed“, aldus Jan Smuts. Dit is hierdie durf wat die Boere moed gegee het om vir nog bykans twee jaar die oorlog voort te sit, hierdie slag in die vorm van guerilla-oorlogvoering.

купить настольный светильниклобановский харьков класс

J.D. Kestell oor verkragtings van Boerevroue

ImageIn sy boek Met die Boere-kommando’s, in ’n hoofstuk getitel “Die vroue-offer”, verwys J.D. Kestell na die verkragtings van Boerevroue in die volgende passasie op bll. 224-225:

“… op die plaas Omdraai in die distrik Bethlehem ’n man gedreig dat hy haar baba, twintig dae oud, in die vlamme van haar brandende huis sou gooi. Dit het nie bloot by ’n dreigement gebly nie, want die bullebak het die suigeling uit haar arms geruk en wou dit in die vuur gooi toe ’n offisier op die toneel afgekom het. Hy het die baba gered en die kind aan sy moeder teruggegee.

In die middel van Julie 1901 het ’n burger van die kruin van Venterskroon af gesien hoe ’n patrollie Britse troepe by die Vaalrivier ’n wa aan die brand steek. Nadat die Engelse weggery het, het hy na die brandende wa gegaan en daar ’n suster van H. Minny van Vredefort doodgebrand aangetref. Sy was sestig jaar oud en kon haar hele lewe lank nie loop nie. Die burger het haar nagenoeg twintig meter van die wa af met haar hande oor haar oë aangetref. Dit het voorgekom asof sy toe die wa aan die brand was, so ver gekruip of liewer geseil het. Dit kan wees dat die Engelse haar nie opgemerk het nie. Laat ons hoop dat dit wel so was.

[…]

Wat sal ek sê van gruwels nog gruweliker as die gruwelikste wat ek hier neergeskryf het? Gruwels wat ek uit eerbied vir ons moeders en vroue nie eksplisiet kan noem nie, maar waarvan ek – helaas – soos in bogenoemde gevalle dag en datum kan vermeld. Ag, dat ek hier liefs geensins daarop hoef te sinspeel nie! Maar ek moet! Ek moet nog die gordyn wegskuif om ander tonele te vertoon – maar soos in die verbygaan – want alles mag nie gesien word nie en wat ’n mens sien, mag ook net deels gesien word; ons vroue is deur die soldate en swart mans geslaan, aangerand en mishandel; sodat hulle na die vertrek van die Engelse vlieënde kolonnes soms vir dae bedlêend was en in ander gevalle vir weke merke van aanranding en kneusplekke getoon het.

Nog erger.

Daar was talle pogings om die vroue te verkrag en dikwels het die verkragting werklik plaasgevind. In party gevalle het dit op ’n wyse gebeur wat onmoontlik is om hier te beskryf.

Me miserum! Dat ek hierdie geskiedenis moet skryf – dat dit nodig is om die nageslag na die altar te lei waarop die offer gebring is!”

Elders in die boek op bl. 222 word genoem hoe die vrou van kommandant J.J. Koen met verkragting gedreig is indien haar man nie aan Britse eise sou voldoen nie. Ook sal die Britse offisier die duisend swart man onder sy bevel “die vryheid gee om met haar te doen wat hulle wil”. Die offisier rig ’n brief met ’n soortgelyke strekking aan haar man.

гайковерттопкарго отзыв

Die merkwaardige tog van genl J.C.G. Kemp

Image

Rebelleleier J.C.G. Kemp

Generaal J.C.G. Kemp en sy 600 manskappe se tog deur die Kalahariwoestyn kan seker as een van die fassinerendste hoofstukke in ons geskiedenis beskou word.

Generaal Louis Botha se 1914-besluit om die destydse Duits-Suidwes-Afrika binne te val op bevel van die Britse regering het die gevoelens onder Afrikaners hoog laat loop. Baie mense kon hulle nie versoen met die idee om oorlog te maak saam met hulle gewese vyande teen ‘n land (Duitsland) wat hulle eintlik goed gesind was nie.

Die dood van generaal Koos de la Rey in die Langlaagte-hinderlaag op 15 September 1914 was ‘n groot slag vir Afrikaners wat verward gevoel het en op die wyse generaal staatgemaak het vir leiding in ‘n moeilike tyd van broedertwis.

Op 7 Oktober 1914 het generaal Manie Maritz, wat uit protes uit die weermag bedank het, in Ukamas met die Duitse owerheid begin onderhandel om wapens te bekom ten einde Engeland te beveg en die Boererepublieke se onafhanklikheid terug te wen.

Op 12 Oktober het Botha se regering krygswet afgekondig om te verhoed dat generaal Maritz se protes meer mense beïnvloed. Tien dae later het Afrikanerleiers wat beswaard gevoel het oor die koers wat die regering ingeslaan het, in Koppies bymekaargekom. ‘n Plan van aksie is hier uitgewerk. Generaal Christiaan Beyers sou die protes in die Transvaal koördineer. Generaal Christiaan de Wet sou ‘n paar kommando’s in die Vrystaat agterlaat en met die res van sy manskappe langs die suidelike oewer van die Oranjerivier opruk en met Maritz kontak maak. Generaal Kemp sou met ‘n kommando uit die Transvaal al langs die noordelike oewer van die Oranjerivier trek om De Wet by Maritz te ontmoet.  Van daar sou hy en De Wet na die Transvaal en die Vrystaat terugkeer met wapens en ammunisie wat van die Duitsers bekom is.

Op 27 Oktober het Isak Claasen namens generaal Kemp ‘n byeenkoms in Hakboslaagte gereël waarheen almal in die omgewing wat ontevrede met die regering se beplande inval in Duits-Suidwes-Afrika was, genooi is. Die skriftelike oproep het soos volg gelui: “Blijde Boodschap. Bekstop en gadskop is nou op een end. Ik kommandeer allen naar Hakboslaagte, perd, zaal en toom, mondprovisie voor 8 dagen. Geen geheim meer. Kemp is in onze midden.”

Op 2 November het 610 man by Vleeskraal naby Schweizer-Reneke besluit om Kemp te volg na generaal Manie Maritz naby die Duits-Suidwes-Afrika-grens. Kemp wou nie die tog sonder Siener van Rensburg aanpak nie. Siener, wat oor geweldige aansien in die Wes-Transvaal beskik het, het ook die manne by Vleeskraal toegespreek. Volgens hom het hulle niks te vrees gehad nie. Hulle sou veilig terugkeer, want hy het hoefmerke in die modder gesien. Hy het ook gesien dat die Botha-regering na Vereeniging vlug.

Steun vir die rebelle het gegroei aangesien die regering besef het dat nie genoeg vrywilligers vir die inval in Duits-Suidwes-Afrika gevind kon word nie en dat hulle verplig was om onwilliges op te roep. In Schweizer-Reneke self het die getalle van Kemp se manne tot 1 800 gegroei, maar Kemp het uiteindelik besluit om net 720 man saam te neem. Sy kommando moes bloot “‘n vlieënde kolonne” wees. Die manne wat Kemp vergesel het, was nie ‘n klomp avonturiers nie, maar hoofsaaklik boere van die Wes-Transvaal wat hulle vryheid wou terugkry.

Op 30 November is generaal de Wet, wat met ‘n berede kommando die grens van Duits-Suidwes-Afrika probeer bereik het, deur ‘n kavalkade van 110 motorvoertuie vasgekeer en gevang. Die rebelle is ‘n verdere slag toegedien toe generaal Beyers op 8 Desember 1914 deur regeringsmagte by die Vaalrivier vasgekeer is. In sy poging om die rivier oor te steek, het hy verdrink. ‘n Nadoodse ondersoek het bevind dat hy aan hartverlamming dood is.

Intussen het Kemp en sy manskappe vasberade voortgetrek in die rigting van Duits-Suidwes-Afrika. Hulle is deur die droë Langeberg deur regeringsmagte agtervolg en in die Kalahariwoestyn ingedwing, waar hulle erg gely het. Oral langs die Oranjerivier was daar regeringstroepe wat op hulle geskiet het, sodat hulle nie naby die rivier kon kom nie. Water het ‘n geweldige probleem geword. Baie perde het tydens die tog gevrek en die manskappe moes begin loop. Skaars sewentien dae nadat die tog begin het, was daar reeds geen weiding meer vir die osse, muile en perde nie. Teen 20 November was meer as ‘n derde van die kommandolede al voetgangers. Die vuurwarm sand het die mans se voete laat swel, het blare op die sole veroorsaak en die vel het dan afgeskuur. Baie het hulle skoene heeltemal deurgeloop. Wanneer hulle die nat vel van ‘n pas geslagte bees in die hande kon kry, het hulle skoene daaruit geprakseer. Sodra die vel egter begin hard word het, het dit die vel geskaaf en moes hulle dit weggooi. Hulle gefolterde voete het ‘n bloedspoor in die woestyn agtergelaat. Geleidelik het hulle ook van hulle besittings ontslae begin raak, want hulle kon dit eenvoudig nie meer dra nie. Die mans was voortdurend honger, want die slagosse was uitgeslag en die meel op. Die dors was egter die ergste. Hulle het meesal water by windpompe met klein dammetjies en panne gedrink. Dikwels is die water reeds deur die perde besoedel, want die reël was dat die diere eerste moes drink. Kemp het opdrag gegee dat die enigste motor van die kommando, wat later deur osse getrek is, se verkoelerwater afgetap moes word vir die dorstiges.

Dit is ongelooflik hoe hierdie swak bewapende en uitgeputte rebelle nogtans daarin geslaag het om telkens die regeringstroepe terug te dryf of te ontwyk. 

Siener van Rensburg het ‘n groot rol tydens die tog gespeel, al was Kemp met tyd geïrriteerd met Oom Klasie (soos hy hom genoem het) se invloed op die kommando. Hy was oortuig dat God hom gestuur het om die rebelle van raad te bedien. Hy was ‘n eenvoudige boer, met net genoeg skoling om die Bybel te kon lees. Die manskappe se geloof in sy visioene was een van die redes waarom hulle in ongelooflik moeilike omstandighede steeds bly volhard het.

Nog ‘n persoon wat ‘n baie belangrike rol gespeel het, was Cornelius van Rooyen, wat die Kalahari uitstekend geken het en as spoorsnyer en gids opgetree het.  Hy was van onskatbare waarde vir die kommando om water te vind tydens die woestyntog. Daar was ‘n hegte band tussen hom en Siener en hulle het mekaar voortdurend geraadpleeg. Die verkennerskorps van die kommando het verder ‘n groot rol gespeel om Kemp op die hoogte te bring van die regeringsmagte se bewegings.

Die tog het oor 800 km gestrek en het 22 dae lank geduur. Toe hulle op 29 November 1914 deur Maritz aan die Duitse kant van die grens ontmoet is, was hulle in ‘n gehawende toestand. 50 Rebelle moes in die hospitaal by Ukamas opgeneem word. Generaal Maritz het die volgende opgemerk: “Wie kan die lyding beskrywe van daardie mense? Wat het hulle nie deur moes staan nie? … Manne sowel as offisiers was in ‘n akelige toestand.”

Op 3 Februarie 1915 het hulle uiteindelik naby Upington oorgegee: Kemp met 530 man en Maritz met 700 man. Generaal Maritz het besluit om self nie oor te gee nie en na Duits-Suidwes-Afrika uit te wyk. Terwyl generaal Kemp ernstig siek was aan swartwaterkoors, het Maritz soos volg van sy manskappe afskeid geneem: “ Dit is vir my hartbrekend om van julle afskeid te neem, van my dapper boerseuns, maar julle kan trots wees op julleself. Julle het die Botha-regering ‘n harde knou toegedien. Generaal Botha sal ook bly wees om van julle ontslae te wees. Nou kyk, seuns, julle pak al die skuld op my, alles wat hulle julle vra, sê julle dat Maritz julle verlei het. Ek sal sorg dat Botha my nie in die hande kry nie …” Nadat hy deur Angola na Portugal uitgewyk het, is hy met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1923 verhoor en drie jaar gevangenisstraf opgelê. Hy is egter kort daarna in 1924 vrygelaat.

Van al die rebelleleiers is Kemp die swaarste straf opgelê, naamlik ‘n boete van 1000 pond en gevangenisstraf van sewe jaar. Hy is op 22 November 1916 vrygelaat.

Met erkenning aan Generaal J.C.G. Kemp en die epiese woestyntog van M.C.E van Schoor, Protea Boekhuis, 2006

детские игрушки харьковДанильченко Юрий прокурор