In Mei 1899 het die Vrystaatse president M.T. Steyn vir William Schreiner, eerste minister van die Kaapkolonie, Sir Alfred Milner, hoë kommissaris vir Suid-Afrika, en president Paul Kruger van die Transvaalse republiek na Bloemfontein genooi in ’n poging om oorlog af te weer. Daar kon egter geen eenstemmigheid bereik word oor die toestaan van stemreg aan die uitlanders (Engelse mynwerkers) in die ZAR nie. Ná die ontdekking van goud in 1886 het Britte op soek na rykdom na die ZAR gestroom. Tien jaar later het hulle getalle volgens sekere historici op dubbel dié van die Transvalers te staan gekom.
Die ontdekking van goud het van die ZAR ’n ryk republiek gemaak en Paul Kruger kon stewige bande met Frankryk en Duitsland smee. Die Britte het bekommerd geraak dat hulle gesag in Suid-Afrika dalk deur ’n ander land bedreig kon word en dat hulle Kaapse vlootbasis in gedrang sou kom. Hulle moes eenvoudig beheer oor die Kaapse seeroete behou om die Britse ekonomiese belange in Indië te verseker. In hierdie opsig was hulle nie soseer vir die Boere bang nie, maar wel vir buitelandse moondhede wat die Britse gesag in hierdie wêreldstreek kon uitdaag. Deur die twee Boererepublieke te onderwerp, kon hulle verder aan die res van die wêreld toon dat Brittanje die leidende moondheid was.
Brittanje het gevolglik die uitlanders as ’n wapen gebruik in hulle stryd om beheer oor die goudmyne en die ZAR oor te neem.
Paul Kruger het uiteindelik besluit om ’n ultimatum aan die Britte te stuur. Hy het daarop aangedring dat al die twispunte tussen die Boere en die Britte deur middel van arbitrasie besleg moes word. Verder het hy daarop aangedring dat die Britse troepe op die OVS-grens onttrek moes word en dat Brittanje moes onderneem om nie meer soldate na Suid-Afrika te stuur nie. Hy het Brittanje twee dae gegee om te reageer, anders sou hy hulle weiering as ’n amptelike oorlogsverklaring beskou. Die Britte het geweier om aan sy eise gehoor te gee en op 11 Oktober 1899 om 17:00 het die oorlog begin.
Die Boeremagte het nooit meer as 40 000 troepe in die veld gehad nie, teenoor die Britte se 450 000. Sowat 7 792 Britse soldate is dood tydens gevegte en ’n verdere 13 250 is weens siektes oorlede. Aan Boerekant het 6 000 burgers die lewe gelaat en bykans 27 000 vroue en kinders is in die konsentrasiekampe dood.
