Sowel Scholtz as De Klerk wil daarmee sê dat ons demografiese oorheersing deur swartes, maar veral Xhosas, moet aanvaar binne ’n stelsel van sogenaamde “demokrasie” wat van enige politieke of morele inhoud gestroop is. Soos ’n Franse advokaat dit onlangs in ’n brief aan ’n ontevrede blanke Suid-Afrikaner gestel het: “By julle het ’n oormaat van geregtigheid in onreg geëindig.”
Soos ek al voorheen geargumenteer het, is demokrasie nie ’n doel op sigself nie, maar ’n middel tot ’n doel. Demokrasie of volksregering is veronderstel om tot goeie en verantwoordelike regering te lei, want as die politici nie hul plig nakom nie kan hulle uitgestem word. In Suid-Afrika en in Zimbabwe, wat bloot die voorspel vir ons toekoms is, is daar geen moontlikheid van ’n regeringsverandering nie, al gedra politici hulself ook hóé en al word hulle in die wêreldmedia verguis.
Die aard van “Suider-Afrikaanse demokrasie” wat allermins op morele aansprake berus, kalwe dus Scholtz se argument rondom demografie halfpad weg. By ons – en waarskynlik insgelyks in Israel – gaan dit slegs in ’n mindere mate “om oorlewing met geregtigheid te voorsoen”. Soos ons in die onlangse verlede aan eie bas ervaar het by wyse van plaas- en huisaanvalle, asook sistematiese rassediskriminasie dwarsdeur die ekonomie, staatsdiens en onderwysstelsel, gaan dit meer dikwels by ons om oorlewing tout court, soos die Franse sê.
Net soos wat die individu geregtig is op redelike geweld as dit by noodweer of selfverdediging kom, so is ’n volk myns insiens daarop geregtig om stelsels wat ook ander faktore as blote demografie erken te ondersoek as sy voorbestaan of oorlewing op die spel is. Enigiemand wat ná “grondhervorming” soos dit in Zimbabwe toegepas is en tans dreig om by ons geïmplementeer te word nog daaraan twyfel dat die Afrikaner se voortbestaan as sodanig op die spel is, beter uit sy daggadroom ontwaak.
Dit is vandag maklik om met die voordeel van terugskouing vir Verwoerd te kritiseer. Boonop is die man voortydig in ’n sluipmoord deur ene Tsafendas dood. Terloops, iemand wys my onlangs daarop dat Tsafendas die eerste persoon was wat die term “reënboognasie” gebruik het, ’n hele paar dekades voor Desmond Tutu!
Nietemin dink ek Verwoerd se stelsel van tuislande sou uiteindelik misluk, nie omdat daar te min grondgebied aan swartes toegeken is nie (70% van Suid-Afrika bestaan in elk geval uit die Karoo-woestyngebied waar swartes nog nooit gewoon het nie), maar omdat die buiteland waarskynlik nooit tuislandonafhanklikheid sou erken nie.
In daardie opsig het Smuts ’n veel beter idee gehad: lyf Suidwes en die Britse protektorate by Suid-Afrika in en verdeel dan die grond tussen Afrikaners en swartes. Vandag word die onafhanklikheid van Namibië, Botswana, Lesotho en Swaziland internasionaal erken, hoewel hulle yl bevolkte lande verteenwoordig wat ekonomies net so afhanklik van Suid-Afrika is soos wat die ou tuislande is. Trouens, via die Suider-Afrikaanse Doeane-unie ontvang hulle begrotingshulp van Suid-Afrika net soos regte, egte tuislande, iets wat al selfs vir Trevor Manuel van die ANC-bewind laat opmerk het dat sodanige hulp op ’n eerliker manier aan hulle oorgedra behoort te word as om dit as doene en aksyns te verdoesel.
Ook Zimbabwe is ten nouste aan Suid-Afrika verbind. Na raming bevind die helfte van daardie land se bevolking hom reeds in ons land. Mugabe se ekonomie word staande gehou deur Sjina, maar veral deur die buitelandse valuta wat trekarbeiders uit tuisland Zimabwe vanuit Suid-Afrika huistoe stuur.
Daar bestaan vele internasionale voorbeelde van minderheidsregerings of oligargieë wat hoegenaamd nie gekritiseer word nie. Die Verenigde Arabiese Emirate byvoorbeeld beskik oor ’n bevolking van 4 444 011 siele waarvan nie minder nie as 81% sogenaamde nie-burgers is hoewel die meeste van hulle permanent in die land woonagtig is. In Europa is daar Switserland waarvan 25% van die werksmag uit grenswerkers bestaan.
Tot dusver was daar nog geen druk van enigiemand op die emirati’s van die VAE om stemreg aan nie-burgers toe te staan nie. Switserland ervaar insgelyks geen druk van menseregte-organisasies om verblyfreg of burgerskap aan die hoë aantal trekarbeiders wat die land tydelik besoek, te verskaf nie.
Demografie of die blote fisieke teenwoordigheid van mense in ’n land is maar een van die kriteria vir burgerskap. As ons nou na die Suid-Afrika kyk, kan die vraag gevra word: behoort die land aan die Xhosas en hul kliënte wat hom tans regeer? Verteenwoordig die geboue in Pretoria voorbeelde van Xhosa-argitektuur? Hierdie is retoriese vrae wat geen antwoord behoef nie.
Meer en meer Afrikaners besef vandag dat die skrif aan die muur is en dat Van Wyk Louw gelyk had toe hy gesê het dat die Afrikaner sonder politieke mag in Suid-Afrika so hulpeloos sal wees soos Jode in Nazi-Duitsland. Die groot meerderheid van ons mense besef vandag waarskynlik dat slegs ’n Israel ons van gewisse ondergang sal red.
Die vraag is nou waar so ’n Israel of volkstaat gevestig moet word? Die ooglopende gebied is Suid-Afrika soos hy tans is, maar sonder die Ooskusgebiede soos Kwazulu-Natal en die voormalige Transkei. Oor daardie gebied kan die Afrikaner vir seker aanspraak maak as sy land op allerlei taalkundige, kulturele en historiese gronde. Steeds besit ons die grootste deel van die grondgebied in daardie deel van Suid-Afrika.
Nie net is Afrikaans die grootste huistaal in daardie gebied nie, maar ook die grootste lingua franca wat deur die meerderheid mense verstaan en gepraat word.
Die ideaal van ’n groot Afrikaanse Republiek wat deur die Atlantiese Oseaan in die weste, die Indiese Oseaan in die suide, die Limpopo in die noorde en die Drakensberg in die ooste begrens sal word, is iets waarna elke Afrikaner bereid sal wees om te streef. Rondom ons bestaan daar reeds ’n hele aantal Afrikastate waarin ’n groot deel van Suider-Afrika se swart bevolking hul regte sal uitoefen of reeds uitoefen.
Smuts se idee van ’n groter Suid-Afrika wat op ’n Suider-Afrikaanse Konfederasie sal uitloop, kan die sleutel wees tot ’n Israel vir die Afrikaner waarin ons aanvanklik nie die meerderheidsbevolkings sal wees nie, maar wat demografies so bestuur kan word dat ons wel mettertyd ’n meerderheid in ons eie land vorm.
Die regstellende aksie en ander maatreëls wat die Xhosa-oorheersde ANC tans toepas om ons stelselmatig uit die land te werk, kan ook deur die Afrikaner toegepas word om nie-Afrikaners te oorreed om hul heil in die lande rondom ons te soek. Anders as in die geval van die Afrikaner wat op eie onkoste moet emigreer, kan daar finansiële aansporings wees vir nie-Afrikaners, nie-burgers om ons land te verlaat en hulle in die yl bevolkte lande rondom ons soos Botswana te gaan vestig. ’n Toekomstige Afrikaanse Republiek kan ’n groot rol speel om ook die state rondom ons te ontwikkel en Zimbabwe weer op sy voete te kry as ’n produktiewe en welvarende land.
Al wat ons van ons eie Israel weerhou, is ’n gebrek aan verbeelding en die wil om so ’n ideaal na te streef. Sekerlik sal ons, soos op elke tydstip van ons geskiedenis, teenstand vanuit sekere oorde ervaar, maar dit behoort ons nie daarvan te weerhou om dit wat elke volk ter wêreld as vanselsprekend beskou – ’n eie land, ’n eie republiek – na te jaag nie. Na alles is dit wat soveel geslagte voor ons met groot ywer wou vestig.

Leopold Scholtz was onlangs in Israel en het reeds twee artikels oor sy besoek geskryf. In gister se