Enkele weke gelede het ek ʼn stuk vir LitNet geskryf waarin ek die taamlik retoriese vraag gevra het, “Hoe Afrikaans is die Afrikaanses?” Onder die polities korrekte toebehore wat soos die oordadige stelle pype, borsels en snoete van ʼn duur Duitse stofsuier saam met ANC-regering gekom het, tel die term “Afrikaanses”.
Niemand kon tot dusver ʼn gangbare definisie van ʼn "Afrikaanse" verskaf nie, maar dit is bedoel as ʼn teenvoeter vir die begrip “Afrikaner” wat in die NSA ongewens geword het. Afrikaners is so ongewens dat hulle heel dikwels, binne die verband van plaas- en huisaanvalle wat al hoe meer algemeen raak, gedwing word om kookwater te drink en andersins gemartel word, verkrag word en van die gras afgemaak word met minder ontsag as wat die meeste mense vir diere koester.
