Op die glybaan na ‘Stellenbosch University’

ImageEnkele weke gelede het ek ʼn stuk vir LitNet geskryf waarin ek die taamlik retoriese vraag gevra het, “Hoe Afrikaans is die Afrikaanses?” Onder die polities korrekte toebehore wat soos die oordadige stelle pype, borsels en snoete van ʼn duur Duitse stofsuier saam met ANC-regering gekom het, tel die term “Afrikaanses”.

Niemand kon tot dusver ʼn gangbare definisie van ʼn "Afrikaanse" verskaf nie, maar dit is bedoel as ʼn teenvoeter vir die begrip “Afrikaner” wat in die NSA ongewens geword het. Afrikaners is so ongewens dat hulle heel dikwels, binne die verband van plaas- en huisaanvalle wat al hoe meer algemeen raak, gedwing word om kookwater te drink en andersins gemartel word, verkrag word en van die gras afgemaak word met minder ontsag as wat die meeste mense vir diere koester.

Stellenbosch het intussen ʼn “Afrikaanse” rektor verkry, prof. Russel Botman. ʼn “Verkorte CV” van prof. Botman is deur die universiteit in Afrikaans aan die media beskikbaar gestel (terwyl die nuwe rektor se amptelike CV op die US se webblad net in Engels beskikbaar is – ʼn aanduiding van waar sy simpatieë lê?) Volgens dié dokument is Botman 53 jaar oud en ʼn “bruin man”, dus verwys hy nie na homself as ʼn “Afrikaanse” nie.

In sommige kringe is daar ʼn sug van verligting geslaak toe Stellenbosch met Botman se aanstelling finaal van sy historiese Afrikanerbeheer onthef is; nie dat die vorige rektor, die anglofiele jingo Chris Brink, hoegenaamd die Afrikaner goedgesind was nie, inteendeel. Enkele weke lank het die media en die universiteit se openbare-betrekkingekonsultante egter die indruk probeer skep dat Botman, hoewel “ten gunste van transformasie” aan Stellenbosch, nogtans Afrikaans as onderrigtaal sou handhaaf. ʼn Mens hoef maar net na Botman se amptelike CV te kyk om te besef dat hy by voorkeur sy verhandelings in Engels skryf. Sy doktorale proefskrif heet: Discipleship as transformation? Towards a theology of transformation.

Te oordeel aan die titel, is Botman se denke deurdrenk van die ANC se anti-wit, anti-Afrikaanse transformasie-ideologie. Binnekort wil ek nog aantoon in welke mate transformasie, soos kommunisme of Nazisme, ʼn misdaad teen die mensdom verteenwoordig, want dit pas etniese suiwering op ʼn spesifieke minderheidsgroep toe. Die uiteindelike oogmerk van transformasie is om die Afrikaner taalkundig, kultureel en selfs fisies uit Suid-Afrika te laat verdwyn. Ons moet begin om die verband in te sien tussen die moordbendes wat ons op plase en in die voorstede teister en die beplande verengelsing van Stellenbosch. Net soos wat kommunisme en die utopiese gelykheidsideaal hand aan hand met massamoorde en strafkampe gegaan het, verteenwoordig transformasie strukturele geweld en kulturele vandalisme teen minderheidsgroepe en spesifiek teen die Afrikaner.

Dat Stellenbosch onder die transformasionistiese teoloog, Russel Botman, verengels gaan word, is so te sê ʼn uitgemaakte saak. Dié indruk word versterk deur die jongste taalbeleid van die universiteit wat onlangs gepubliseer is. In weerwil van die wollerige aard van die dokument blyk dit duidelik dat Afrikaans nog vir vyf jaar lank voorgraads toegelaat gaan word, maar dat die huidige toestand bestendig gaan word waar Engels reeds die nagraadse verstektaal geword het. Ook wat die herrie oor die “A-opsie” en “T-opsie” betref, kies Botman en sy taalkomitee kant vir die “T-opsie” waar Engels en Afrikaans in dieselfde klas gebruik gaan word. Volgens die universiteit se besprekingsdokument (maar waarop mens reeds sedert 1 November geen kommentaar kan lewer nie) werk die “T-opsie” so:

“Die mondelinge kommunikasietaal van die dosent in lesings, seminare, tutoriale en praktika van ’n module is

(i) in dieselfde klas Afrikaans en Engels, met dien verstande dat die gebruik van Afrikaans minstens 50% is, of

(ii) afwisselend Afrikaans en Engels in verskillende klasse van ’n module of program, met dien verstande dat die gebruik van Afrikaans minstens 50% is.”

Hierdeur word Afrikaans en Engels in lesinglokale en elders in mededinging gestel sodat Engels sy werk as killer language, soos taalkundiges dit noem, kan doen. Soos ons by Tukkies gesien het, sal die aandrang op 50% Afrikaans in die praktyk gou verdwyn en die enkele taalbewuste Afrikanerstudente wat dit sou durf waag om op hul moedertaal aan te dring, sal gou-gou as polities onkorrek, “regs”, “rassisties” en dergelike gestigmatiseer word, waarna die Stellenbosse trein seepglad by die eindstasie Stellenbosch University sal aankom, net soos wat die vorige Randse Afrikaanse Universiteit die Johannesburg University geword het.

Ek is seker Hermann Giliomee en ander wat hard vir die behoud van Afrikaans by Stellenbosch geveg het, moet hierdie nuwe wending met teleurstelling gadeslaan. Maar soos ek al so dikwels geargumenteer het, is die “Afrikaanses” nie baie Afrikaans nie en gaan die PK-strategie om “Afrikaans, maar sonder die Afrikaner” te propageer, op ʼn ronde nul uitloop.

Dit is byna lagwekkend om te sien hoe die US se besprekingsdokument klakkeloos die clichés waarmee die verengelsingsproses die afgelope dertien jaar bewierook word, napraat. Kastig word Afrikaans aan Stellenbosch “bevorder as onderrig- en wetenskapstaal in ’n meertalige konteks”. Die woord “meertalig” het sedert 1994 ʼn eufemisme vir “Engels-eentalig” geword. Blykbaar wil die universiteit ook ewe hard isiXhosa bevorder, wat seker die toppunt van politieke korrektheid verteenwoordig. Asof enige van ons Xhosa-imperialiste ooit hul eie taal op universiteit of selfs van ʼn openbare politieke verhoog af besig.

Met Botman aan die stuur, kan mens met redelike sekerheid sê dat Afrikaans by Stellenbosch as wetenskapstaal binnekort tot op die vlak van isiXhosa afgeskaal sal word.

Op die glybaan na ʼn Engels-eentalige Stellenbosch University sal daar met trane in die oë na “meertaligheid” en allerlei vorme van inheemse folklore verwys word. ʼn Paar tradisionele Xhosas uit die Transkei sal moontlik op die kampus hul Wes-Afrikaanse tromme kom slaan. Waarskynlik sal daar nog ʼn Woordfees en ʼn Versindaba – die Afrikaner se ekwivalent van bietjie tromslaan en fluitjieblaas – gehou word. Maar Stellenbosch gaan meedoënloos verengels word tot op die punt waar kampusgangers jou verbaas sal aankyk as jy selfs net Afrikaans in die verbygaan sou praat, soos reeds by die voormalige RAU die geval is.

большой теннис польза и вредлобановский александр биография

Maak 'n opvolg-bydrae