Dis seker ’n gemeenplaas om te sê dat die bepalende faktor in die Suid-Afrikaanse politiek etnisiteit en veral ras is. Die ANC het die begrip “reënboognasie” gemunt, juis om sy naakte rassepolitiek te verdoesel en daarom het dit geen inhoud nie.
Histories het byna alle politieke konflik, mededinging en spanning in die land na gelang van etniese en taalverdelings verloop. Die belangrikste hiervan was natuurlik die Boer-Britstryd. Hoewel buitelandse ontleders die apartheidsproblematiek in rasseterme ontleed het, het ras eintlik eers ná 1994 met die ANC-oorname ’n sterk faktor geword.
