Volgens die senator se verslag word die skakel vir die reaktor net deur ’n plastiekdoppie beskerm en word uraanstawe met ’n visstok in en uit die reaktor getel. Die beheerkamer is verder heeltemal verouderd. Radio-aktiewe afval word in ’n onbewaakte geboutjie gestoor. Die afval is “in transito“, aangesien die permanente stoorarea nog gebou moet word.
Werknemers van die KSN voel egter dat die reaktor behou moet word en dat dit van nut kan wees in verskeie navorsingsprojekte. “Hierdie reaktor is ons nasionale trots. Dit is ’n absoluut noodsaaklike instrument vir mediese, kern en landbounavorsingsdoeleindes,” meen Leopold Makoko, die waarnemende hoof van die DRK se atoomenergie-agentskap. Volgens hom word die terrein korrek afgesper. “Die reaktor is wel al vir ’n aantal jare gesluit, maar dit is in ’n baie goeie toestand.“
Die Triga Mark 11-reaktor is agter twee glasdeure en sewe meter onder die grond gebou. Die oorspronklike reaktor is in 1958 gebou en is in 1972 met die huidige een vervang. Dit is bekend dat uraan uit die DRK destyds in die sogenaamde Manhattan-projek gebruik is om die wêreld se eerste kernbom te vervaardig, wat Hirosjima op 6 Augustus 1945 vernietig het.
Die DRK word al dekades lank daarvan beskuldig dat die land se natuurlik verrykte uraan óf verkoop word, óf nie behoorlik beveilig word nie. Meer as 90% van die land se mineraaluitvoere, wat uraan insluit, geskied nie deur amptelike kanale nie. Net verlede maand is twee beamptes van die KNS oor onwettige uraanverkope gearresteer.
