As voorbeeld het hy na verpleegsters verwys. “Verpleging is nie ’n werk wat net op Afrika-vroue gerig is nie – daar is jong blanke vroue wat ook verpleegsters wil wees. Lei hulle op en stuur hulle dan na waar hulle behoort te gaan.“
Op dieselfde dag het die adjunkminister van handel en nywerheid, Elizabeth Thabethe, by die tweede jaarlikse stokvelkonferensie in Johannesburg opgetree. Volgens haar sal transformasie net afgehandel wees as meer swart Suid-Afrikaners ’n rol in die land se ekonomie speel. Sy het ’n beroep op konferensiegangers gedoen om stokvelfondse nie net te gebruik om hul huishoudelike inkomste aan te vul nie, maar ook om rykdom vir hulle gemeenskappe te skep. Sy is self ’n lid van twee stokvel-verenigings en sien die verskynsel van stokvel-organisasies as “’n voertuig“ om ontwikkeling op gemeenskapsvlak te bevorder.
Volgens haar kan die ekonomie alleenlik groei as alle Suid-Afrikaners by die proses betrek word. Die doelstelling van SEB is juis om die uitsluiting van Suid-Afrikaners in die ekonomiese proses om te keer. Thabethe, wat oor ’n sertifikaat in ekonomie van UNISA beskik, het egter erken dat haar departement aandag sal moet gee aan hindernisse wat swartmense tans verhoed om hulle rol in die ekonomie te speel. Sy het hierdie probleme gedefinieer as gebrek aan toegang tot inligting asook probleme om finansiering te bekom.
