Enigeen wat die film verlede jaar kort ná die vrystelling daarvan op die internet gesien het, sal saamstem dat dit allermins ekstremisties, haatdraend of aanhitsend van aard is. Al wat Wilders baie oortuigend in "Fitna" doen, is om aan te toon in watter mate die beginsels van Islam onversoenbaar met moderne, demokratiese en veral Westerse waardes is. Hy het die film bedoel as waarskuwing vir diegene wat ongebreidelde Moslem-immigrasie na Europa voorstaan en meen dat dit geen gevolge vir die toekomstige waardes en vryheid van Europese bevolkings inhou nie.
Terwyl Brittanje in die redelik onlangse verlede die ANC en SAKP gehuisves het wat stedelike terreur in Suid-Afrika gepleeg het, is dié land nie bereid om 'n filmvertoning en 'n beskaafde gesprek daaroor toe te laat nie. Die morele bankrotskap van Brittanje word deur hierdie stap bevestig.
Op 'n ander vlak is die optrede van Groot Brittanje om 'n demokraties verkose politikus vanuit Nederland bloot op grond van sy kulturele of politieke menings op hul grondgebied te verbied uiters kommerwekkend. Dit toon weereens die toenemende onverdraagsaamheid van die multikulturele samelewing en sy voorstanders. Terwyl multikulti's die regte van nie-Westerlinge voorop stel, word die regte van Westerlinge bykans nie erken nie.
Ook die onhoudbaarheid van die ANC se transformasiemaatskappy wat met kommunisme of fascisme vergelyk kan word, gaan ongesiens in Westerse lande verby omdat die regte van Westerlinge nie op dieselfde vlak as dié van swartes of Moslems deur multikulturaliste gesien word nie.
Terwyl Wilders deur Brittanje die swye opgelê word, heers daar insgeslyks 'n onheilspellende stilte in die Verenigde Koninkryk en ander Westerse lande oor die onreg en geweld wat daar tans teen die Afrikaner in Suid-Afrika gepleeg word. Dit sou dom wees om nie die verband raak te sien nie.
