Die gebrek aan "wettig verkose leierskap" was die oorsaak van baie van die xenofobiese aanvalle in Meimaand, het Cormsa Maandag gesê.
Die Konsortium vir vlugtelinge en migrante in Suid-Afrika (Cormsa) se woordvoerder Duncan Breen het gesê in vele gebiede was plaaslike leiers aktief betrokke daarby om geweld teen vreemdelinge aan te blaas wat 62 mense in Mei vanjaar dood gelaat het.
"Daarom is hulle betrokkenheid in strategieë om xenofobie hok te slaan baie belangrik. Tensy die leiers aanspreeklik gehou gaan word, sal hulle aanhou om hulle veldtogte en posisies op 'n haat en geweld te grond," het hy gesê.
Soos die dood van meer as 20 Suid-Afrikaners ook getoon het in die aanvalle in Mei, is nie net buitelanders aan risiko blootgestel nie. Kort voor lank kon die Pedi's, Sjangaans, Vendas of enige ander "onwelkome" groep aangeval word, het Breen gesê.
"Tensy ons nou optree, sal ons almal aan risiko blootgestel wees," het hy in 'n verklaring gesê.
Cormsa het sedertdien 'n beroep gedoen op die SA menseregtekommissie om 'n ondersoek te doen na die xenofobiese geweld van middel 2008. Breen het gesê dat die noodsaak vir so 'n ondersoek daaruit spruit dat meer as ses maande ná die aanvalle uitgebreek het min gedoen is om strukture en politieke oorsake bloot te lê.
"Met die nasionale verkiesings wat naderkom, is daar 'n dringende behoefte om seker te maak dat politieke mobilisering nie ontaard in herhaalde aanvalle op buitelanders en ander 'onwelkome' groepe nie," het hy gesê.
Cormsa glo dat aanvalle teen buitelanders steeds voortgaan, hoewel dit net op 'n baie laer vlak gebeur. Die organisasie het gesê om dit aan te spreek is dit nodig om te weet wat die grondliggende oorsake daarvan is.
Die menseregtekommissie is tot die 15de Januarie gegee om te reageer op Cormsa se versoek om 'n ondersoek na die aanvalle, wat ook hordes mense haweloos gelaat het.
