Verlos ons van Sowjetonderwys

10:07:33 Die eksamenvraestelle wat deur die Vryheidsfront Plus aan die lig gebring is en waarin blatante ideologiese inhoud in aardrykskundige vrae voorkom, herinner nie net aan Sowjetonderwys nie. Dit ís Sowjetonderwys.

Die ANC se begrip van onderwys is nie om kinders aan kennis bloot te stel en hulle te leer dink nie, maar om hul ideologies te breinspoel. Dat onderwys in die land konstant afdraand neig – in so 'n mate dat prominente swart leiersfigure soos Mamphela Ramphele en Wendy Luhabe erken dat die gewraakte Bantoe-onderwys veel beter was – kan niemand meer betwyfel nie.

Daarom verdien die Vryheidsfront Plus se oproep dat Afrikaners oor hul eie onderwysdepartement moet beskik wye steun. Die hoof van 'n beroemde Afrikaanse hoërskool in Pretoria sê glo gereeld aan ouers en leerlinge by vergaderings: "By dié skool steur ons ons nie veel aan die onderwysdepartement nie." Hierdie passiewe weerstand teen Sowjet-onderwys wat reeds by Afrikaanse skole bestaan, behoort nou meer aktief te word. Ons volk behoort die ANC se totalitêre onderwysstelsel sonder verdere omhaal te verwerp en aan te dring op outonome onderwys vir elke kultuurgroep soos dit in België bestaan.

Hoeveel meter Steve Biko se huis bokant seevlak verkeer, is net so irrelevant soos die aantal vierkante meter wat Josef Stalin se datsja beslaan het. Afrikanerkinders behoort te weier om sulke vrae in die eksamen te beantwoord.

Dis nou tyd vir saamstaan teen die verdrukker wat ons kinders van kennis en opleiding – om nie van hul eie kultuur en geskiedenis te praat nie – wil beroof met sy afstootlike breinspoeling in skole en eksamens. Eie, outonome onderwys is die minimum waarop ons geregtig is.

воронеж стапелитопкарго отзыв

Maak 'n opvolg-bydrae