Duitsland se besluit om Sondag grensbeheer weer in te stel het daartoe gelei dat een ná die ander buurland ook grensbeheermaatreëls ingestel het.
Kanselier Angela Merkel het onder druk van woedende buurlande geswig om die Oostenrykse grens te sluit. Die Duitse beleid van oop grense het vir die meeste politici ‘n radio-aktiewe kwessie geraak soos woedende kiesers daarteen fulmineer.
Hongarye, die hoofpoort vir migrante en ’n land wat van die begin af gekant was teen die oopstel van grense, het dadelik gereageer.
Die Hongaarse regering het onmiddellik ’n spoorlyn gesluit waarlangs tienduisende migrante dié land te voet binnekom.
“Ons sal ’n nuwe era begin,” het Zoltan Kovacs, regeringswoordvoerder, gesê. “Ons gaan die instroming van onwettige migrante oor ons grense stop.”
Meer as 190 000 migrante het Hongarye vanjaar binnegekom en Maandag was daar meer as 9 000 migrante – ’n rekord vir ’n enkele dag.
Vir die fortuinsoekers is die kans op ’n nuwe lewe besig om vinnig te verdwyn namate die Hongaarse regering hom haas om die grensheining te verhoog sodat niemand daar kan oor nie.
Volgens die regering sal die migrante wel toegelaat word om by die amptelike grensbeheerpunte om asiel aansoek te doen. As hulle egter die land van Serwië af binnekom en nie reeds daar aansoek om asiel gedoen het nie, sal hulle teruggestuur word.
Op ’n vergadering in Brussel het die meeste binnelandse ministers van die Europese Unie in beginsel besluit om die 120 000 asielsoekers onder hul lande te verdeel. Die besonderhede daarvan word eers op 8 Oktober gefinaliseer.
Daarbenewens is verskeie lande in Sentraal-Europa nie gelukkig met die voorgestelde kwotas nie.

Liberalisme is besig om sy tol op grootskaal te eis.Nie voordat Duisland van sy huidige regering ontslaë raak nie, sal Oom Siener se voorspelling nie in vervulling gaan nie.