Duitse popster wil Namibiese renosters red

‘n Derde witrenoster is op die wildsplaas Okamahoro wes van Okahandja in Namibië gestroop, het die Republikein berig.

Volgens die polisie van die Otjozondjupastreek is die renoster met 10 geweerskote neergevel. In Mei is ook twee witrenosters op dié plaas gestroop. Niemand is nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.

Intussen het die opbrengs van ’n potjie poker op Swakopmund die boerpot van die Red die Renosterfonds (SRT) geword.

Die wedgeld beloop N$100 000 en is deur ’n merkwaardige seun van dié dorp tot die laaste sent vir die bewaring van die bedreigde swartrenosterspesie geskenk.

Die jong man, Christoph Thesen, ’n Duitse popster met die verhoognaam T-Zon, se pa, mnr. Werner Thesen van Swakopmund, het die oorhandiging van die geld aan die voorsitter van die SRT, mnr. Simson !Uri?Khob, waargeneem.

Saam met die oorhandiging was daar ’n onderneming van die jong kunstenaar met Duitsland aan sy voete dat soortgelyke ondersteuning ook in die toekoms van hom verwag kan word.

Die potjie poker is vanjaar in Mei in Hamburg gespeel en Christoph was as “baie belangrike kunstenaar” genooi om daar op te tree. Dit was ’n spel in belang van liefdadigheid wat deur ’n internetmaat­skappy, pokerstar.de, aan­gebied is. Toe stap Christoph met die wedgeld weg.

“Dis ’n mannetjie met ’n groot hart,” het sy pa tydens die oorhandiging gesê. “Hy is deurentyd bewus van sy welsynsverpligtinge. Hy het gehoor van die renosterstropery in sy geboorteland en het onmiddellik besluit om tot die bewaring van die swartrenosters by te dra.”

Christoph is in 1993 op Swakopmund gebore en het ná drie jaar in Windhoek in 2011 aan die DHPS gematrikuleer. As 12-jarige seun het hy reeds sy eerste liedjies geskryf en vrygestel. In 2012 het hy by die Makro Media-akademie in Keulen ingeskryf en in 2015 was hy gekwalifiseer om spesiale geleenthede aan te bied.

Sy loopbaan het as YouTube/rap/hip-hop kunstenaar ontwikkel. In 2014 het sy eerste album, Doppelleben.

Vroeër vanjaar het hy meer as 20 verhoogoptredes in Duitsland en Oostenryk gelewer. Sy tweede album is op pad en teen September behoort sy tweede Europese toer te begin.

One thought on “Duitse popster wil Namibiese renosters red”

  1. kwaai! nog geld vir blink beemers en mercs
    Die geld gaan,ongelukkig, nie die stropery stop nie……
    Kry die klomp, “oor die muur”, boere wat Boko Haram n pakslae gegee het en laat hgulle los op die stropers.
    kyk hoeveel politici gaan dan gat skoonmaak saam met die stropers, die ding le dieper as wat ons besef.

Maak 'n opvolg-bydrae