Oor hoeveel Sjinese kiesers beskik die DA? wil mens vra. Terwyl die DA uit sy pad gaan om Sjinese belange te verdedig, swyg die party gewoonlik soos die graf as Afrikanerbelange ter sprake is. Nietemin verteenwoordig Afrikaners ten minste vyftig persent van die DA se kiesers.
'n Ander aspek van die DA se uitsprake is dat die party die ANC die loef probeer afsteek as dit by politieke korrektheid kom. Ook in die huidige geval word die ANC daarvan beskuldig dat hy "rassisties" teenoor Sjinese optree. Dit wil voorkom asof die DA wil toon dat hy 'n beter ANC kan wees as die ANC self – weereens terwyl sy eie kiesers en ondersteuners se belange versaak word.
Die Afrikanerkieser is moeg vir sogenaamde opposisiepartye wat hard skree oor ideologiese kwessies soos rassisme, terwyl grondhervorming, misdaad en korrupsie nie aangespreek word nie of baie min aandag kry.
