Pasgebore baba verbrand

Die verkoolde lyk van ‘n pasgebore baba is Saterdag in Honeydew, Johannesburg, gekry, het paramedici gesê.

Volgens Vanessa Jackson, woordvoerder van ER24, is die babadogtertjie waarskynlik Vrydagaand daar weggegooi.

“‘n Pasgebore baba wat in materiaal en plastieksakke toegedraai was, is op die hoek van Christiaan de Wet en Beyers Naude in Honeydew afgelaai waar sy aan die brand gesteek is,” het sy gesê.

Die polisie is na die toneel ontbied en sal die saak ondersoek.

Eisers agter Libië se bates in SA aan

Bates ter waarde van miljarde rande wat aan die vermoorde Libiese leier Moeammar Gaddafi behoort het, word glo in Suid-Afrikaanse banke gehou, het die Sunday Times Sondag berig.

“Die nasionale tesourie is genader deur ‘n groep wat beweer hulle verteenwoordig die Libiese regering,” het Jabulani Sikhakhane, woordvoerder van die minister van finansies, aan die koerant gesê.

Ondersoekbeamptes van Libië het glo bewyse opgespoor dat meer as R10 miljard in kontant, goud en diamante deur vier Suid-Afrikaanse banke en twee sekuriteitsmaatskappye gehou word.

“Ons is tans besig om die groep se eis te verifieer,” het Sikhakhane gesê.

Salah Marghani, beampte van die Libiese ambassade, het aan die Sunday Times gesê ondersoekbeamptes is “aangestel om, namens die mense van Libië, bates in Afrika te ondersoek en te verseker”.

Die Sunday Times het uittreksels van briewe van Libië se ministers van justisie en finansies aan hul Suid-Afrikaanse eweknieë publiseer, en hulp gevra om Gaddafi se bates op te spoor wat moontlik “onwettig in besit geneem, bekom, geplunder, gedeponeer of weggesteek is in Suid-Afrika”.

Gaddafi is in 2011 tereggestel ná ‘n politieke opstand in Libië.

Suid-Afrikaner wen Comrades

Claude Moshiywa het buitelanders se greep op die Comrades gebreek toe hy die eerste Suid-Afrikaner in 21 jaar geword het om die ‘opdraand-roete’ te wen.

Moshiywa, wat derde was in 2011 en verlede jaar negende geëindig het, het sy landgenoot Johannes Kekana ná vier ure op die pad verbygesteek om Sondag in Durban te seëvier.

Die laaste Suid-Afrikaner wat die mans se “opdraand-roete” vanaf Pietermaritzburg tot Durban kon wen was Jetman Msutu in 1992.

Jonas Buud van Swede het Sondag tweede geëindig en Mpesela Ntlosoeu van Lesotho was derde.

Die verdedigende kampioen, Ludwick Mamabolo, het vierde klaargemaak.

In die vroue-wedloop het die Rus Elena Nurgalieva die eerste plek behaal, met haar tweelingsusuter, Olesya in die tweede plek.

Gronddebat woed voort

“Bykans twintig jaar na 1994 se regeringsverandering is die gronddebat steeds een van die mees emosionele debatte in Suid-Afrika,” sê dr. Pieter Mulder, adjunkminister van landbou, bosbou en visserye en leier van die Vryheidsfront Plus.

Dr. Mulder het vanoggend op Mudersdrift die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte se konferensie oor die Groot Leuen oor Grondbesit toegespreek en het gepraat oor grondgebruik vir kommersiële landbou.

Hy sê grond is daagliks die onderwerp van hewige debatte in Suid-Afrika. Sy ondervinding is egter dat die meeste daarvan gebaseer is op verdraaide feite en mites oor grond.

“In die proses het elke deelnemer ‘n paar waarhede beet wat verdraai en aangepas word om by elkeen se eie perspektief te pas. Die enigste manier om in hierdie debatte by werklike antwoorde uit te kom, is om die gronddebat met feite en nie met emosie en propaganda te voer nie,” sê dr. Mulder.

Die volgende feite moet daarom in ag geneem word indien daar sinvol oor die aangeleentheid gedebatteer wil word:

· Groter regeringsbeskerming van die Suid-Afrikaanse kommersiële landbou en die meer produktiewe gebruik van grond is nodig om toekomstige hongersnood in Suid-Afrika te voorkom. Dit maak van voedselsekerheid ‘n belangrike bedingingsmiddel teenoor die regering in die hande van kommersiële landbouers;

· Om volhoubaar in Suid-Afrika te kan boer moet verskeie persepsies oor grond verander word. Een van die belangrikstes is dat grond outomaties rykdom bring;

· Die eise vir die nasionalisering van grond en/of die eensydige onteiening van grond, moet op georganiseerde wyse en met feite oor die ekonomiese en hongersnood-implikasies daarvan beveg word;

· Die onsekerheid oor die belangrike rol wat landbou in Suid-Afrika speel moet so gou as moontlik uit die weg geruim word. Ondubbelsinnige regeringsuitsprake en -besluite is hiervoor nodig. Dit kan verhinder dat landbou in duie stort en te veel kundigheid die land verlaat;

· Suid-Afrika bestaan uit 122 miljoen hektaar grond. Die grond wat vir werklike intensiewe landbougewasverbouing gebruik kan word, is egter uiters beperk. Slegs ongeveer 13% van Suid-Afrika se totale grond word as hoë waarde landbougrond gereken;

· Mynbou speel ‘n belangrike rol in die ekonomie van Suid-Afrika. Maar dit het reeds tot gevolg gehad dat mynboubedrywighede en verstedeliking ‘n gebied so groot soos die Krugerwildtuin permanent vir die produksie van voedsel en voer verlore laat gaan het. Omdat grond ‘n nie-hernubare hulpbron is, is dit uiters belangrik dat hoë kwaliteit landbougrond teen mynbou en ander aktiwiteite beskerm moet word. Daarvoor is nuwe maatreëls en beter koördinering tussen verskillende staatsdepartemente nodig;

· Met ‘n geprojekteerde 70% van alle Suid-Afrikaners binne dekades verstedelik, gaan dit uitermate groot druk op die krimpende aantal kommersiële landbouers en op die ontvolkte platteland plaas om genoeg voedsel vir die groeiende bevolking te produseer;

· Soos die bevolking in die wêreld en in Suid-Afrika toeneem, sal meer voedsel op al hoe minder grond geproduseer moet word. Met nuwe tegnologie en navorsing en die deel van kennis deur opleiding is dit moontlik en kan die huidige plafonne wat op die produksie van kos bestaan, gebreek word. Die voorvereiste is dat dit gedoen word sonder om die omgewing verder te besoedel met koolsuurgas of die aarde se waterbronne uit te put;

· ‘n Beduidende gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking het nog nie voedselsekerheid nie. Hierdie honger en ondervoeding in Suid-Afrika word nie soseer deur ‘n tekort aan voedsel soos in ander lande veroorsaak nie. Dit word veroorsaak deur die armoede van sekere lede van die gemeenskap wat nie kos teen huidige kospryse kan bekostig nie;

“Dit gaan nog baie goed met baie Suid-Afrikaanse landbouers. Tog wys die stygende skuldsyfers, kleiner winste en die dalende getalle landbouers dat die rooi ligte begin flikker,” sê dr. Mulder.

Verkeersknope by Cosatu-opmars in Oos-Rand

Verkeersknope word Vrydag in Ekurhuleni verwag wanneer die vakverbond Cosatu teen die e-tolstelsel betoog.

Die Johannesburgse hooggeregshof het Donderdag ‘n dringende bevel toegestaan wat Cosatu toelaat om voort te gaan met die betoging.

Cosatu het hom tot die hof gewend nadat die Ekurhuleni-munisipaliteit en die polisie sy versoek om te betoog, geweier het.

Verlede Vrydag is ‘n soortgelyke betoging in Johannesburg gekanselleer nadat die landdroshof Cosatu se aansoek om op die stad se hoofweë te betoog, afgekeur het.

Die betoging in Ekurhuleni het om 07:30 by die Mbhoro-kerk langs die Huntersfield-stadion in Masakhanestraat begin.

Verkeer in Heidelbergweg, die N3, N12, R24 en die R21 sal geraak word.

Grondeise weer heropen

Die grondeisproses gaan ná 14 jaar weer heropen word, berig The Star.

Volgens die Wetsontwerp op die Herstel van Grondregte wat verlede week gepubliseer is, is die nuwe sperdatum vir eise 31 Desember 2018.

Die vorige sperdatum was 31 Desember 1998.

Indien die wetsontwerp bekragtig word, kan diegene wat die eerste sperdatum gemis het, eis, asook diegene, insluitend witmense, wie se grond deur verbeteringskemas afgeneem is.

Mense wie se eise voorheen afgekeur is, sal ook weer hul eise kan in dien.

Die grondeisproses is vir diegene wie se grond ná 13 Junie 1913 afgeneem is.

Volgens ‘n aangehegsel by die wetsontwerp het die vorige restitusie-program “verskeie probleme” gehad en mense in sekere kategorieë wat hul regte weens koloniale en apartheidswette verloor het, is nie ingesluit nie.

Dit is mense wat nie voor Desember 1998 eise kon in dien nie en diegene wie se grond voor 1913 afgeneem is.

PRASA blaas R3 miljoen op New Age

Die Passasierspooragentskap van SA (Prasa) het meer as R3 miljoen spandeer op Die New Age koerant, het die minister van vervoer, Ben Martins, Dinsdag gesê.

“Prasa het ‘n subskripsie-ooreenkoms met The New Age mediamaatskappy, wat Prasa met 3200 kopieë van die koerant op ‘n daaglikse basis van Maandag tot Vrydag sal voorsien,” het Martins gesê in ‘n skriftelike antwoord op ‘n vraag in die parlement.

Volgens die betalingskedule vir die tydperk van Augustus 2012 tot Augustus 2013, sal die spoor maatskappy ‘n dekkingsprys van R3.50 insluitend BTW vir 256 dae en 3200 kopieë opdok, teen ‘n koste van R2, 867200.

Prasa betaal ‘n verdere 50 sent vir 256 dae en 3200 kopieë teen ‘n koste van R409, 600. Dit beloop R3, 276800.

Martins het geantwoord op ‘n vraag van COPE se LP Dirk Feldman, wat gevra het of Prasa het ‘n subskripsie op The New Age uitgeneem het.

Regering veroordeel aanvalle op wettige buitelanders

Die regering het Dinsdag die aanvalle op buitelanders in sekere gebiede in Gauteng en die Vaal veroordeel.

“Die regering het met kommer kennis geneem van die sogenaamde xenofobiese aanvalle op buitelanders. Ons veroordeel die geweld teen buitelanders sowel as Suid-Afrikaners ten sterkste,” het Phumla Williams, woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.

“Suid-Afrika is ‘n demokratiese land wat buitelanders wat wettig in die land is, akkommodeer.”

Williams het die regering geprys vir die inhegtenisneming van sowat 100 mense wat verbind word met die “onlangse wetteloosheid”.

Geweld het die naweek uitgebreek nadat twee mans van Zimbabwe in die gebied doodgeskiet is.

‘n Somaliese winkelier is sedertdien in verband met die moorde in hegtenis geneem.

Eyewitness News het vroeër berig die winkelier beweer die oorledenes het sy spaza-winkel probeer beroof.

‘n Ooggetuie het aan die radiostasie verduidelik dat inwoners ná die skietery hul woede op buitelanders gerig het. Inwoners het ook na bewering gedreig om hul winkels af te brand.

Diepsloot se inwoners sê die naweek se moorde, en die grootskaalse plundering van buitelanders se winkels, is as gevolg van frustrasie oor werkloosheid en armoede.

Verlede week is meer as 90 mense in hegtenis geneem vir misdade wat verband hou met betogings in Evaton, Orange Farm en Sebokeng, suid van Johannesburg.

Williams het ‘n beroep op Suid-Afrikaners en buitelanders gedoen om “in harmonie te leef”.

“Kriminele aktiwiteite teen mekaar sal nie geduld word nie, omdat dit ‘n negatiewe uitwerking het op die land se beeld en ekonomie.”

ANC meen Obamas behoort Kaapstad-toekenning af te wys

Die ANC sê die Amerikaanse president, Barack Obama, en sy vrou, Michelle, behoort nie Kaapstad se die vryheid van die stad-toekenning te aanvaar nie, berig die Cape Times.

“Vir ons is dit niks minder as ‘n afleiding nie, en ek dink dit sal jammer wees indien Obama die toekenning aanvaar van ‘n stad wat nie vir die armstes van die armes omgee nie,” het Songezo Mjongile, provinsiale ANC-sekretaris, aan die koerant gesê.

Patricia de Lille, burgemeester, het besluit om die Obamas te vereer vir die inspirerende voorbeeld wat hulle stel. Die president en sy vrou het die eer aanvaar.

Die Obamas sal vanaf 26 Junie tot 3 Julie ampsbesoeke aan Senegal, Suid-Afrika en Tanzanië bring.

De Lille het aan die koerant gesê geen reëlings is nog getref om die toekenning aan die Obamas te oorhandig nie.

Google wil net oor Afrika span

Google wil netwerke van Sub-Sahara-Afrika tot Suidoos-Asië finansier, oprig en bestuur in die hoop om ongeveer ‘n miljard mense in ontluikende lande internettoegang te gee, het die Wall Street Journal (WSJ) berig.

Die internet-soekreus gebruik ‘n verskeidenheid tegnologiese hulpmiddels en is in gesprekke met reguleerders van Suid-Afrika tot Kenia oor sy planne, het die WSJ berig.

Die hoë koste van infrastruktuur, streng regulasies en moeilike geografiese ligging het tot nog toe internettoegang in verskeie Afrikalande belemmer.

Google sal glo steun probeer werf by reguleerders om golwe te gebruik wat tot dusver uitgehou is vir televisie-uitsendings, en wat teen laer frekwensies deur geboue en oor langer afstande kan beweeg.

Verder wil Google lae-koste-selfone verskaf en ballonne daarvoor gebruik om seine van hoër hoogtes oor honderde vierkante kilometer uit te stuur.

Die maatskappy het reeds met verskeie kleinskaalse oefenlopies begin, waaronder ‘n proefneming in Kaapstad.

Google wou nie kommentaar oor die planne lewer nie. Beter toegang tot breëband-inligting strek tot voordeel van Google, omdat meer mense dan van sy soek- en ander dienste gebruik maak.