Regering veroordeel aanvalle op wettige buitelanders

Die regering het Dinsdag die aanvalle op buitelanders in sekere gebiede in Gauteng en die Vaal veroordeel.

“Die regering het met kommer kennis geneem van die sogenaamde xenofobiese aanvalle op buitelanders. Ons veroordeel die geweld teen buitelanders sowel as Suid-Afrikaners ten sterkste,” het Phumla Williams, woordvoerder, in ‘n verklaring gesê.

“Suid-Afrika is ‘n demokratiese land wat buitelanders wat wettig in die land is, akkommodeer.”

Williams het die regering geprys vir die inhegtenisneming van sowat 100 mense wat verbind word met die “onlangse wetteloosheid”.

Geweld het die naweek uitgebreek nadat twee mans van Zimbabwe in die gebied doodgeskiet is.

‘n Somaliese winkelier is sedertdien in verband met die moorde in hegtenis geneem.

Eyewitness News het vroeër berig die winkelier beweer die oorledenes het sy spaza-winkel probeer beroof.

‘n Ooggetuie het aan die radiostasie verduidelik dat inwoners ná die skietery hul woede op buitelanders gerig het. Inwoners het ook na bewering gedreig om hul winkels af te brand.

Diepsloot se inwoners sê die naweek se moorde, en die grootskaalse plundering van buitelanders se winkels, is as gevolg van frustrasie oor werkloosheid en armoede.

Verlede week is meer as 90 mense in hegtenis geneem vir misdade wat verband hou met betogings in Evaton, Orange Farm en Sebokeng, suid van Johannesburg.

Williams het ‘n beroep op Suid-Afrikaners en buitelanders gedoen om “in harmonie te leef”.

“Kriminele aktiwiteite teen mekaar sal nie geduld word nie, omdat dit ‘n negatiewe uitwerking het op die land se beeld en ekonomie.”

Maak 'n opvolg-bydrae