Boewe terroriseer egpaar met gif op babaklere

Misdadigers het op 15 Mei Anton en Maria Hattingh van Secunda se pekinees vergiftig en hul kat op die pallisades opgehang. Hulle babaseun se klere is ook vergiftig.

“Dit was vir ons baie traumaties,” het me. Hattingh gesê.

Sy het omstreeks 3.30vm opgestaan om vir haar vyf-maande oue baba ‘n bottel te gee, toe sy die honde hoor blaf.

“Ek het by die venster uitgekyk en gesien ons pekineesteef, Tinki, staan by die reun Snuffels.

“Snuffels het op die gras gelê en ek het my man wakker gemaak en vir hom gesê ek dink Snuffels is dood,” het me. Hattingh gesê.

Die egpaar het uitgegaan om ondersoek in te stel en gesien bloed kom by Tinki se mond uitkom.

“Ons het om die huis geloop en gekyk of ons nog gif sien rondlê, want ons was bang die ander hond kry dit in.

“Ons het toe gesien ons kat is op die pallisade gehang,” het mnr. Du Plessis gesê.

Hulle het die polisie geskakel wat later opgedaag het en gesê het hulle moet ‘n verklaring maak en toe weer gery het.

“Hulle het nie eers in die erf ingekyk nie,” het mnr. Du Plessis gesê.

Hy het self die kat en hond verwyder.

Die egpaar het met ‘n flits om die huis geloop om seker te maak daar lê nie nog gif in hul erf rond nie

Hulle het ‘n paar stukkies gif in die erf gekry, asook op hul babatjie se klere wat op die wasgoeddraad gehang het.

“Dit lyk of hulle die gif geneem en op sy klere gesmeer het,” het mnr.Du Plessis gesê.

“Ons het nie geweet wat om met die dooie diere te maak nie, want nie die polisie of die brandweer wou hulle verwyder nie.

“Ek het die veearts geskakel wat gesê het ek kon hulle daarheen neem.

“Ons wou hulle nie begrawe of op die ashoop gaan gooi nie omdat die gif gevaarlik vir mens en dier is,” het mnr. Du Plessis gesê.

Die egpaar het die volgende dag na die polisiestasie gegaan om ‘n verklaring af te lê, waarna die polisieman in die aanklagkantoor hulle meegedeel het dat dit nie sou help om ‘n saak te maak nie en blykbaar traag was om hulle te help.

“Ons het egter daarop aangedring om ‘n saak te maak.

“Die polisieman het kwaad geword, op ons geskree en geweier om sy naam vir ons te gee,” het mnr. Du Plessis gesê.

Hy die week voor die vergiftiging gereeld merkers soos sigaretboksies, 500ml-koeldrankbotteltjies en leë skyfie-pakkies op die sypaadjie buite hul erf gekry.

Me. Du Plessis het na die voorval twee keer misdadigers in hul erf gesien.

“Ek het twee mans by ons voertuig gesien en ons het die sektorpolisie geskakel om ons te kom help.

“Hulle was vinnig op die toneel en het gesoek, maar niks gekry nie,” het me. Du Plessis gesê.

Die egpaar gaan nou ‘n alarmsisteem laat insit.

“Ons is te bang om met vakansie te gaan, want dan kan hulle by ons huis inbreek,” het mnr. Du Plessis gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae