


Kategorie: Nuus
Zuma se grondvoorstel het positiewe en negatiewe implikasies
Die feit dat die president probeer om die onsekerheid en gebrek aan belegging in landbou met hierdie voorstelle aan te spreek, beteken dat hy wel deeglik kennis geneem het van my kritiek in die verlede oor die mislukking van die huidige grondhervormingsproses.
Sy voorstel van 50% van markwaarde as vergoeding waar grond oorgedra word, is totaal onrealisties en verwag van boere om die koste van grondhervorming te dra. Dit is onprakties en sal nie die probleme oplos nie.
Die voorstelle om wel die kwessie van grondhervorming af te wentel na die plaaslike gemeenskap, is ‘n stap in die regte rigting. Die plaaslike landbougemeenskap is in ‘n baie beter posisie om voorstelle oor grond wat oorgedra te kan word, te maak. Hulle ken ook die plaaslike gemeenskap ten einde te weet wie sal kan slaag as boer op sulke grond. In die verlede is hierdie proses vanuit sentrale kantore kilometers daarvandaan gedoen en is grond aan persone oorhandig wat geen werklike belang of wens gehad het om dit produktief te benut nie.
Die ernstigste probleem in grondhervorming bly egter steeds die betrokke departement se totale gebrek aan kapasiteit. Voor hierdie probleem nie aangespreek word nie, loop alle nuwe en verbeterde voorstelle die risiko om te misluk.
Namibië waarsku oor grondgryp
Totdat die Eerste Wêreldoorlog was dit ‘n Duitse kolonie. Daarna het die naburige Suid-Afrika beheer oorgeneem en ook ‘n apartheidstelsel daar ingestel.
Namibië is nou ‘n post-koloniale land wat sukkel met dieselfde probleme as ander Afrikalande.
Op die globale korrupsie-indeks egter, is Namibië laer as baie ander lande in Afrika. Toerisme groei, maar die omgewingsimpak daarvan bly ‘n uitdaging.
Die land is baie ryk aan minerale hulpbronne. Baie van die groot grondeienaars is wit en die swart bevolking is ontevrede oor hierdie situasie. Die president sê die wit bevolking moet grond afstaan of ‘n rewolusie trotseer.
In die 22 jaar sedert onafhanklikheid word Namibië gelei deur net een party, Swapo, die dieselfde organisasie wat die guerrilla-oorlog vir onafhanklikheid gevoer het namens buitelandse magte.
Sy leier, Hifikepunye Lucas Pohamba, wat ook die Namibiese president is, weet egter hoe hy met die onderliggende woede en groeiende ontevredenheid in sy land kan omgaan.
‘n Konferensie oor grond het voorgestel dat wittes grond aan die regering verkoop ten einde herverspreiding te bewerkstellig om “swart benadeeldes” te help.
“Ons het die beleid van gewillige verkoper, gewillige koper, wat nie werk vir die laaste 22 jaar nie en ek dink dat daar iets gedoen moet word om die grondwet te wysig sodat die regering toegelaat word om die grond te koop vir die mense. Andersins, indien ons nie optree nie, sal ons ‘n revolusie in die gesig staar. En as die revolusie kom, sal die grond afgevat word deur die rewolusionêres.
Ongelykheid bestaan … mense is nie gelukkig nie en wanneer jy praat oor mense wat nie gelukkig is nie, wat verwag jy? Hulle kan reageer. En wanneer hulle reageer, […] sal die mense grond oorneem,”sê Pohamba.
Zuma stel nuwe grondhervormingsplan bekend
President Jacob Zuma het Maandag ‘n nuwe grondhervormingsplan in Pretoria bekend gestel.
“Dit is ‘n innoverende voorstel wat getoets moet word,” het hy tydens die eerste jaarvergadering van die African Farmers’ Association of SA (Afasa) gesê.
Die plan stel voor dat elke distrik verantwoordelikheid neem vir grondhervorming en die finansiering daarvan.
“Elke distrik moet ‘n grondhervormingskomitee vestig waar alle rolspelers betrokke is. Die komitee is dan verantwoordelik daarvoor om 20% van die kommersiële landbougrond in die distrik te identifisieer en kommersiële boere die opsie gee om te help om dié grond oor te dra na swart boere.”
Die grondhervormingvoorstel sluit vyf stappe in.
Eerstens, grond wat reeds te koop is, moet geïdentifiseer is – grond waar die boer onder groot finansiële druk is, grond waar die eienaar gesterf het, en plase waar die eienaar nie self boer nie, en wil verkoop.
“Só kan grond gevind word sonder om die mark te verwring.”
Tweedens, die staat sal dié grond teen 50% van sy markwaarde koop.
Die res van die 50% sal opgemaak word deur kontant of ander bydrae van die kommersiële boere in die distrik wat vrywillig deelneem aan die proses.
In ruil hiervoor sal hierdie kommersiële boere gewaarborg word dat hulle grond nie afgevat sal word nie – en daarby sal hulle swart bemagtigingstatus kry.
“Dit sal al die onsekerheid en wantroue – en die verlies aan beleggersvertroue – wat daar tans is oor grondhervorming, uit die weg ruim.”
Vierdens, sal die Tesourie, die Landbank en gevestigde wit boere meer geld gee vir die finansiering van die program.
“Die koste van grondhervorming sal versprei word onder alle rolspelers. Nuwe finansiële instrumente sal ontwerp word om grondhervorming te bevorder.” Dit sluit in verbande met ‘n looptyd van veertig jaar, teen voorkeur-rentekoerse.
Die vyfde aspek van die plan is meer navorsing in landbou.
“Dit is baie belangrik dat mense weer begin boer – en nie welsynsuitbetalings, lone en nie-landbou informele bedrywighede sien as die enigste bron van inkomste vir plattelandse huishoudings nie,” sê Zuma.
Kommersiële landbou – verteenwoordig deur 37 000 boere – produseer 90% van die land se uitset, terwyl 25 miljoen bestaansboere op die platteland 10% lewer.
Past. Ray McCauley van die Rhema-Bybelkerk in Randburg het Afasa geluk gewens met ‘n suksesvolle konferensie. “Laat ek dit net sê indien julle dit nie geweet het nie. God is lief vir die boer,” het hy aan ‘n waarderende gehoor gesê.
“Eva was die eerste boer. Sy het omgesien na die appels.”
Tina Joemat-Pettersson, die minister van landbou, het Zuma as ‘n man van diepte en ‘n vader van die volk beskryf.
“Ons ondersteun jou en ons sal aanhou om jou te ondersteun”
Sy het bygevoeg dat “geen wapen” teen hom sal slaag nie, en dat hy na elke boer sal omsien.
Eskom gaan Biliton se goedkoop krag staak
Die smelters neem meer as 1 000 MW van die land se huidige opwekkingsvermoë van 42 000 MW op, het Sake24 berig.
Die reguleerder het volgens Mohammed Adam, hoof van regulatoriese sake by Eskom, die bevoegdheid om die kontrak ter syde te stel. Daar sal egter
eers ‘n voorgeskrewe proses gevolg moet word voor ‘n besluit geneem kan word, het Adam gesê.
Brian Dames, uitvoerende hoof van Eskom, het gesê die ooreenkoms is in die negentigerjare gesluit, toe die omstandighede baie anders was. Dit sluit ondermeer Bayside, Hillside I in wat deur Mandela geopen is, in. Hillside II, en MOZAL I en II was later.
Dit is bekend dat die land toe ‘n effense oorskot krag gehad het en goedkoop elektrisiteit gebruik is as lokaas om buitelandse beleggers na die land te lok. Die oorskot was nie groot nie, want ou stasies Candom, Grootvlei en Komati is gesluit.
Dames het gesê dit was nie ‘n Eskom-besluit nie. “Dié goed word alles eers na die aandeelhouer – die regering – geneem.”
Sake24 het meer as twee jaar gelede ‘n hofaansoek gebring in terme van die Wet op Toegang tot Inligting, om Eskom en BHP Billiton te dwing om bekend te maak teen watter tarief die krag gelewer word en wie die ooreenkoms namens Eskom onderteken het.
BHP Billiton staan die aansoek teen en dit is steeds nie afgehandel nie.
Die eerste ooreenkoms tussen Eskom en BHP Biliton was moontlik deur mnr Mick Davis onderteken wat betrokke was as Finansiele Direkteur van Eskom. Davis het daarna by Ingwe-Gencor Biliton ‘n toppos losgeslaan. Davis werk nou vir Xstrata en Glencore.
Daar was volgens ingeligte bronne gewis meer as een kragkontrak tussen Eskom en BHP Billiton. Dit sluit glo ooreenkomste tussen Eskom en Gencor (later Biliton) vir Alusaf se Hillside II projek in.
In 1999 het Biliton reeds die versekering gehad, vanaf president Mandela, dat ‘n Biliton-aliminumsmelter in Mosambiek ook Eskom- en ander Suid-Afrikaanse finansiele voordele sou kon bekom. (Korrek)
Xolani Mkhwanazi was destyds die HUB van NERSA. Mkhwanazi moes volgens wet dus die kragtariefkontrakte vir Mozal I, Hillside II en Mozal II onderteken het. Na daardie kontrakte het Mkwanazi as HUB van NERSA in 2004 bedank, en ‘n jaar later word dieselfde Mkwanazi HUB van BHP-Biliton Aluminium Suid-Afrika waar hy steeds dien.
Vandag is Xolani Mkwanazi voorsitter van BHP-Biliton Suid-Afrika, asook President van die Kamer van Mynwese.
Let daarop dat BHP-Biliton se ingevoerde aluminiumerts vir BHP-Biliton se aluminium smelters in Suid-Afrika en Mosambiek uit Australie kom, en dat Suid-Afrikaanse mynprodukte soos chromiet na China uitgevoer word, omdat daar nie genoeg krag in Suid-Afrika oor is om die Suid-Afrikaanse chroomerts hier te verryk met Suid-Afrikaanse krag en reduktant nie.
Die duur reduktant vir die ingevoerde aluminiumerts word ook deur BHP-Biliton na Suid-Afrika ingevoer.
Mkhwanazi se huidige hoofposisies by beide BHP-Biliton en tergelykertyd die Suid-Afrikaanse Kamer van Mynwese, verteenwoordig ook botsende belange, ter waarde van miljarde Rande, tot nadeel van die Suid-Afrikaanse ekonomie, meen kenners. As gevolg van die groot hoeveelhede Australiese bauxiet, behoort Mkhwanazi van BHP na regte die President van die Australiese Kamer van Mynwese te wees.
Dit mag ‘n openbare verleentheid word dat beide Eskom/NERSA bestuurders daarna deur Biliton in hoogs besoldigde bestuursposisies aangestel is.
Eers is Davis, en toe Mkwanazi beloon vir hul bydraes tot Gencor/Biliton. Daardie winste het BHP-Biliton moontlik gemaak. Die bedryf het aansienlike winste met goedkoop Eskomkrag en duur Australiese erts gegenereer.
Dames het gesê Eskom het geruime tyd met BHP Billiton probeer onderhandel om die ooreenkoms te hersien en reken die tyd is nou ryp om hom na die reguleerder te wend. “Dit beteken nie ons kan nie steeds met hulle bestuur praat nie. BHP Billiton het ‘n nuwe, jong bestuurspan en ons kan nog met hulle praat.”
China slaan kontrak vir lokomotiewe los
Die lokomotiewe sal deur Transnet se vragvervoer ingespan word, het Malusi Gigaba, minister van openbare ondernemings, verklaar.
CSR sal saam met Matsetse Basadi, ‘n Suid-Afrikaanse sakeonderneming, die bou van die lokomotiewe onderneem. CSR besit 70% en Matsetse Basadi die res.
Die lokomotiewe sal glo tussen Desember 2013 en September 2014 gelewer word.
Die eerste tien lokomotiewe sal in CSR se fabrieke in China vervaardig word, en die res plaaslik. Die Suid-Afrikaanse regering het ‘n hoë plaaslike inhoud vereis en plaaslike verskaffers moes 60,5% van die totale waarde van die kontrak hou.
Die lokomotiewe is deel van Transnet se beleid om vragvolume binne sewe jaar van 201 miljoen ton per jaar tot 350 miljoen ton te verhoog. Die maatskappy belê tans R300 miljard in ‘n beleggingsprogram van sewe jaar.
Nog kontrakte vir die vervaardiging van 465 diesel-lokomotiewe en 599 elektriese lokomotiewe sal aanstons bekend gemaak word.
Sanders se vermeende moordenaars verskyn
Drie mans wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op die bokslegende Corrie Sanders, sal op 13 November weer in die hof verskyn, het die SABC berig.
Sanders, ‘n wêreldkampioenbokser, is verlede maand tydens ‘n rooftog by ‘n restaurant geskiet. Hy het later aan sy woonde beswyk toe hy mediese behandeling by twee hospitale geweier is.
Sanders wou sy dogter beskerm teen die aanvallers wat by sy neef se 21ste verjaardag in Brits in die Noordwes ingebars het, vermoedelik met hulp van die swart personeel by die restaurant.
Paida Fish (19), Samuel Mabena (27) en Chris Moyo (25) het Maandag op aanklagte van moord en drie aanklagte van roof met verswarende omstandighede in die hof in Brits verskyn.
Sanders se broer, Mike, sy skoonsuster en sy ma het die hofverrigtinge bygewoon, berig Beeld.
Die drie het nog nie aangedui of hulle om borgtog sal aansoek doen nie.
Ontploffing gereël om te ontsnap
Die departement van Korrektiewe Dienste ondersoek die moontlikheid van interne betrokkenheid nadat drie gevangenes gistermiddag dood en 14 beseer is toe die voertuig waarin hulle na die Johannesburgse tronk vervoer is, ontplof het.
Die voertuig het 36 verhoorafwagtende gevangenes van die Randburgse landdroshof na die Sentrale Gevangenis in Johannesburg vervoer. Die woordvoerder van die polisie, Neville Malila sê voorlopige ondersoeke dui daarop dat die ontploffing deel van ‘n ontsnappingsplan was.
Twee gevangenes wat probeer ontsnap het, is weer gevang. Hy sê forensiese deskundiges probeer vasstel watter soort plofstof gebruik is. ‘n Kommissaris van Korrektiewe Dienste, Tom Moyane sê sake van moord en die besit van plofstof word ondersoek.
Deurbraak teen MIV/Vigs
Suid-Afrikaanse wetenskaplikes het ‘n deurbraak gemaak in die stryd teen MIV/VIGS met ‘n ontdekking dat sommige mense se liggame, teenligame kan vervaardig wat sekere tipes HIV kan neutraliseer.
Navorsers van die sentrum vir VIGS navorsing en die Nasionale Instituut vir oordraagbare siektes het uitgevind dat unieke veranderings aan die MI-virus daartoe kan lei dat teenligame vervaardig word wat 88 persent van die mees algemene tipes van die MI-virus kan vernietig.
Dit volg na ‘n studie op twee vroue met MIV in KwaZulu-Natal. Volgens die navorsing is die teenliggame in staat om dele van die virus te herken, dit te teiken en hulself daaraan te heg om te verhoed dat dit gesonde selle besmet. Meer besonderhede sal later vandag bekend gemaak word.
Eskom vra vir 16% verhoging
Dit sal die prys van elektrisiteit van 61 c per kilowatt-uur in 2012/13 tot R1,28 per kilowatt-uur in 2017/18 verhoog.
Eskom het sy aansoek vir die tariefverhoging by Nasionale Energiereguleerder (Nersa) ingedien.
Die huidige multijaar-prysvasstellingsmodel eindig op 31 Maart 2013.
Nersa sal sy finale besluit in Februarie – ná ‘n verlengde konsultasieperiode en openbare verhore – bekendmaak.
